Reeksverkragter swaar gestraf

Foto bloot ter illustrasie. (Argieffoto: pixabay)

ʼn Reeksverkragter van Limpopo is Woensdag vier lewenslange vonnisse opgelê en tot ʼn bykomende 130 jaar tronkstraf gevonnis.

Dit kom nadat 17 verskillende aanklagte teen hom aanhangig gemaak is, waarvan meeste verband hou met verkragting.

Volgens Mashudu Malabi Dzhangi, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in die provinsie, is Tiyani Khosa (31) Woensdag in die Thohoyandou-hooggeregshof gevonnis.

Hy is skuldig bevind op vyf aanklagte van huisbraak met die doel om te verkrag, ses aanklagte van roof met verswarende omstandighede en ses aanklagte van verkragting.

Khosa het tussen 2010 en 2016 telkemale by die wonings van jong vroue of enkelouers met jong kinders ingebreek met die doel om een van die inwoners seksueel aan te rand. Sy jongste slagoffer was ʼn 16-jarige meisie.

Hy het dikwels dié inbrake gewapen met ʼn mes, panga en vuurwapen gedoen en van sy slagoffers is meer as een keer verkrag.

Khosa het vir jare huise in en om klein dorpies soos Mamaila, Olifantshoek, Njakanjaka, Sepukubje en Masakona geteiken.

Hy is eindelik in hegtenis geneem, maar het tydens sy verhoor onskuldig gepleit op al die aanklagte teen hom.

“Staatsgetuies het in die hof getuig dat Khosa sy gesig met ʼn klapmus bedek het terwyl hy hierdie misdade gepleeg het, juis sodat slagoffers hom nie kon identifiseer nie,” sê Dzhangi.

“Hy is egter met behulp van DNS-monsters positief met die misdade verbind.”

Die staat, onder leiding van adv. Nnyambeni Robert Nekhambele, het daarin geslaag om die saak teen Khosa bo redelike twyfel te bewys, en hy is skuldig bevind op al die aanklagte teen hom.

Tydens sy vonnisoplegging het Nekhambele aangevoer dat Khosa uit die samelewing verwyder moet word omdat hy geen berou vir die verkragtings getoon het nie en omdat hy reeds vorige aanklagte van verkragting teen hom gehad het.

Regter Frans Kgomo het bevind dat Khosa se aanvalle goed bereken en vooraf beplan is, daarom is die voorgeskrewe vonnis gepas.

Die vonnisse ten opsigte van huisbraak met die doel om te verkrag sal gelyklopend met die vonnisse van verkragting uitgedien word.

Dzhangi sê die NVG het hierdie swaar straf verwelkom.

“Die NVG is daartoe verbind om geregtigheid en sekuriteit vir vroue en kinders te verseker,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Suzette ·

Se jy nou presies waarmee ek saamstem! Dit moet met alle verkragters gebeur dan sal hulle waarskynlik twee keer dink.

Hanna ·

Suid Afrika is seker die enigste land waar vonnisse gelyklopend uitgedien word en waar lewenslank volgens hulle somme net 25 jaar is… Tipiese banana Republiek… ????????????

marius ·

Stuk tou en ‘n uur saam met elk van die slagoffers se familie . Klaar .

Jannie van Niekerk ·

Neewat in die nuwe SA sal dit net twee en ‘n half sekodne wees dan is hy weer uit op parool.

Henri ·

Ek is bly geregtigheid het geseëvier.

Wat my egter dwars in die krop steek, is die feit dat só ‘n monster geregtig is op sy menseregte. Wat het dan gebeur met sy slagoffers se menseregte? Wie het dit beskerm? Die ondier gaan nou vir minimum 25jaar tronk toe en op die belastingbetaler se rekening 3 maaltye, ‘n warm stort en ‘n warm bed kry elke dag. Dis siek.

Boer ·

Dit is nou goeie nuus dit is net jammer die moordenaars kry tussen 10 en 20 jaar.

Swerwer ·

Aaklik om te dink dat hy na ‘n paar jaar weer dalk op straat is volgens die huidige regstelsel. Mag die gevangenisse hom gee/toedien in die gevangenis wat hom toekom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.