Reeksverkragter vier lewenslange vonnisse opgelê

Argieffoto

ʼn Reeksverkragter wat tereggestaan het op onder meer tien aanklagte van verkragting is Woensdag in die rondgaande hooggeregshof in Delmas tot 180 jaar tronkstraf gevonnis met ʼn bykomende vier lewenslange vonnisse.

Sipho Gift (37) is vroeër verhoor op 11 aanklagte van verkragting van vroue tussen die ouderdom van 14 en 38 jaar, agt aanklagte van roof en een van ontvoering. Hy is daarvan beskuldig dat hy die KwaMhlanga-gemeenskap in Mpumalanga sedert 2012 “geterroriseer” het.

Lt.kol. Leonard Hlathi, woordvoerder van die polisie, sê Gift het sy slagoffers “gewelddadig” verkrag en hulle dan beroof van kontant, selfone en ander waardevolle items.

Gift is in 2014 in hegtenis geneem waarna hy borgtog in die KwaMhlanga-landdroshof toegestaan is. Hy is daarna weer in 2016 in hegtenis geneem nadat hy volgens Hlathi met dieselfde modus operandi voortgegaan het.

“Hy is [vir die tweede keer] in hegtenis geneem nadat een van die slagoffers hom in die landdroshof kon uitken,” sê Hlathi. “Tydens die polisie se ondersoek kon hulle daarin slaag om hom met die ander verkragtingsvoorvalle te verbind.”

Regter Vusumuzi Nkosi het tydens die vonnisoplegging gesê Gift het ʼn “selfsugtige seksuele begeerte vir jong meisies en volwasse vroue”. Nkosi het gesê hy moet ʼn rehabilitasieprogram agter die “hoë mure van die gevangenis” ondergaan.

Die vonnisse word gelyklopend uitgedien. Gift kan ná 25 jaar in aanmerking kom vir parool.

Lt.genl. Mondli Zuma, provinsiale polisiekommissaris, sê dié vonnisse sal as ʼn afskrikmiddel vir ander misdadigers dien as ʼn bewys dat misdaad jou niks in die sak sal bring nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Pietman ·

Wie kan dan nie verstaan dat vonnisse n grap is nie? 180 jaar + 4x lewenslank, en dan kan hy na 25 jaar op parool? Die woord ‘gelyklopend’ maak van alles n grap. SKANDE.

Ouma ·

Hoe kon hy in elk geval op borgtog vrygelaat word om mee te begin?

Elvira Bothma ·

Magtag mense hulle gee nie om om tronk toe te gaan nie. Hulle lag vir lewenslank. Gratis kos en bed en dak oor hulle koppe is genoeg sekuriteit vir hulle.Doodstraf gaan enigste afskrikmiddel wees.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.