Reeksverkragter vra om verskoning

Argieffoto

Argieffoto

ʼn Reeksverkragter, wat skuldig bevind is op 21 aanklagte van verkragting, het Woensdag vir sy slagoffers om verskoning gevra.

Simone Antonio Sithole (27) het vroue tussen 2009 en 2013 tussen Mamelodi en Nelmapius geteister. Hy het by huise ingebreek en vroue en jong meisies verkrag.

Sithole is skuldig bevind op 21 aanklagte van verkragting, een van seksuele aanranding, talle aanklagte van roof met verswarende omstandighede, die rig van ʼn vuurwapen en die onwettige besit van ʼn vuurwapen.

Sy jongste slagoffer was 11 jaar oud en twee van die slagoffers was 16 jaar oud toe hy hulle verkrag het.

Hy sal na verwagting Donderdag gevonnis word.

Sithole het ʼn lang verklaring ingedien waarin hy skuld erken op al die aanklagte teen hom. Hy het besluit om skuldig te pleit, aangesien hy geen wetlike verdediging teen die aanklagte het nie. Hy het gesê hy het berou en is jammer vir wat hy gedoen het en het om verskoning gevra aan die slagoffers en ander persone wat deur sy onwettige dade geraak is.

Nie een van Sithole se slagoffers was Woensdag in die hof nie.

Hy het aanvanklik ontken dat hy die 11-jarige meisie verkrag het, en het aangevoer hy was in daardie stadium reeds in die tronk. Sy inhegtenisnemingsrekords het dit egter weerspreek. Hy het later bely dat hy in Februarie 2013 by die huis in Mamelodi-Oos ingebreek het terwyl die meisie en haar ouers geslaap het. Die meisie het vroeg die oggend wakker geword toe Sithole haar teen die kop geslaan het. Hy het langs haar bed gekniel en ʼn vuurwapen op haar gerig. Hy het haar ook met ʼn mes gedreig en gesê sy mag nie ʼn geluid maak nie. Hy het haar vasgebind en verkrag en ʼn handdoek oor haar gesig gegooi. Die gesin het later ontdek ʼn selfoon is uit die huis gesteel.

Meeste van Sithole se slagoffers het geslaap toe hy by hul huise ingebreek het. Hy het erken dat hy sy slagoffers met ʼn vuurwapen, mes, byl, skroewedraaier en tuinskêr gedreig het voordat hy hulle vasgebind en verkrag het.

Een van die slagoffers is voor haar twee kinders verkrag en ʼn ander vrou was besig om haar baba te borsvoed toe sy Sithole in die huis gesien het. Hy het ʼn byl by hom gehad.

Hy het in sy verklaring gesê hy was van plan om sy slagoffers te verkrag toe hy ingebreek het. Hy het ook selfone, kontant, handsakke, juwele en klere gesteel. Hy het ook ʼn babasak vol klere gesteel.

Sithole het erken dat hy al jare lank in besit is van die ongelisensieerde vuurwapen en dat die reeksnommer verwyder is.

Sy vrou het na sy inhegtenisneming die pistool in ʼn kastrol ontdek en dit aan die polisie oorhandig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Alet ·

Ag shame nou vra hy om verskoning. Hoop seker hulle wil hom loslaat sodat hy kan voortgaan met sy dade maar hy dink nie aan hoeveel pyn hierdie mense ondervind het as gevolg van sy dade nie.

Eish! ·

Sjoe en hy het ‘n vrou????????? Hoe verkeerd kan sommige mense se breine werk? Ek hoop hy vrot iewers in ‘n sel!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.