Honderde sonder krag weens reën, beurtkrag

(Argieffoto)

Eskom het Saterdag voortgegaan met die toepassing van fase 2-beurtkrag Saterdag. Intussen was talle dele van Johannesburg sonder krag, weens probleme wat ontstaan het toe kragtoevoer na woonbuurte herstel is.

“Teen 07:00 Saterdag het City Power minstens 614 klagtes ontvang van kragonderbrekings, meestal afkomstig van Roodepoort. Die meeste klagtes het te doen met probleme wat ontstaan het toe kragtoevoer herstel is ná beurtkrag,” sê die kragvoorsiener in ʼn verklaring.

Roodepoort het teen Saterdagoggend reeds 324 probleme aangemeld. Sommige verbruikers sit al sedert Donderdag sonder krag.

City Power sê hul stelsels word oorlaai tydens beurtkrag, aangesien massiewe drukverskuiwings in die stelsel plaasvind wanneer die krag aan- en afgeskakel word. ʼn Donderstorm het ook Donderdag een van die oorhoofse kabels beskadig en ander kabels is gesteel.

“City Power het sy hulpbronne versterk om aan al hierdie klagtes aandag te gee, maar die reën maak dit moeilik om herstelwerk te doen omdat dit onveilig is.”

Die kragvoorsiener het verbruikers gemaan om geduldig te wees en kragonderbrekings wat nie deur beurtkrag veroorsaak word nie, aan te meld.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Willem ·

Honderde? Dit sou meer akkuraat wees om te praat van duisende sou ek sê. Net die onvermoeë van Eskom hier in die Somerset-Wes – Strand – Gordonsbaai gebied laat duisende sonder krag. Dit is pateties man – almal se besighede ly daar onder en dit is skreiend dat hulle nog meer geld wil hê vir die gebrekkige kraglewering.

Remlut ·

Ek begin al hoe meer dink dit het seker glad nie gereën voor 1994 nie ?

Oujongvrou ·

Wat n patetiese spul!!! Ons het nogal n kragtige kragopwekker. Maar benewens die krag wat ons betaal, moet ons nou peperduur betaal vir die brandstof daarvoor. Pensioen geld rek ook net sover. Ons besnoei nou op voedsel.Dis skandalig vir enige regering dat mense so moet leef.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.