Reën bring dalk kragonderbrekings, oorstromings

Swaar reën en hael het Ficksburg, Vrystaat, getref (Foto: Ina van Jaarsveld via Reënval SA, Twitter)

Groot hoeveelhede reën is sedert Woensdag in meeste dele van die sentrale en suidoostelike dele van die land aangemeld en boonop word nóg reën vir die naweek voorspel.

Op plekke in die Oos-Kaap het dit reeds meer as 100 mm gereën en ander plekke in die land het tussen 20 mm en 50 mm reën gekry.

ʼn Aantal waarskuwings oor moontlike oorstromings, sterk wind en kragonderbrekings is intussen uitgereik.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) het ʼn geel vlak 2-waarskuwing vir reën- en donderbuie vir Vrydag in die sentrale en suidoostelike gebiede van die land uitgereik. In Ficksburg is sommige paaie reeds onder water en dit het ook hier gehael.

Volgens die waarskuwing sal stormweer na verwagting teen die aand ooswaarts uitbrei en die oostelike gebiede van die land bereik.

Hael in Ficksburg (Foto: Hester Vvisagiepark via Reënval SA, Twitter)

Die weerdiens waarsku ook teen sterk wind, haelstorms en oorstromings in dele van Noordwes, die Vrystaat, die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal.

Eskom het ook ’n gesê dat reën regoor Gauteng reeds talle kragonderbrekings veroorsaak het en dat kragprobleme waarskynlik oor die naweek sal voortduur.

Hael in Ficksburg (Foto: Adriaan Corneulius Botha via SA Weather, Twitter)

Die Stad Tshwane het inwoners teen moontlike oorstromings en tydelike sluiting van paaie weens die swaar reën gewaarsku. Motoriste is gewaarsku om versigtig te wees rondom laagliggende brûe wat oorstroom kan word.

Volgens Thabo Charles Mabaso, woordvoerder van die departement nooddienste van die Stad Tshwane, sluit dit laagliggende brûe op die volgende plekke in: Rabiestraat en Endstraat in Centurion, Nellmapius- en John Vorsterrylaan in Irene, SuperSport Park in Centurion, die R101 naby die Wierdabrug-polisiestasie, die M8 naby die PPC-sementfabriek in Hercules en die brug in Von Hagen- en Rebeccastraat in Pretoria-Wes.

Reënvalsyfers

Reën langs die pad digby PE (Foto: Yvonne Delarey Smith via Reënval SA, Twitter)

Volgens die weerdiens se amptelike reënvalsyfers het Pretoria sedert Woensdag sowat 52 mm aangeteken. Sowat 30 mm reën is in Bronkhorstspruit aangemeld en 28 mm in Johannesburg.

In die Oos-Kaap het Koffiebaai binne 48 uur 111 mm reën aangeteken. In Oos-Londen het dit sedert Woensdag ongeveer 53 mm gereën en in Port St. Johns 15 mm.

Rondom die Koninklike KwaZulu-Natalse nasionale park wat by die Drakensberge geleë is, is sowat 90 mm reën aangemeld. Dele van Van Reenenspas het die afgelope twee dae soveel as 52 mm reën aangemeld, gevolg deur die  Margate-omgewing waar dit reeds 47 mm gereën het.

In Mpumalanga het dit sedert Woensdag in die omgewing van Amersfoort ongeveer 50 mm gereën. Die gebied rondom Ermelo het sowat 42 mm reën gekry en Carolina 41 mm.

In die Vrystaat het Warden 27 mm reën die afgelope twee dae gehad en Bethlehem sowat 23 mm. In Noordwes het die Hartbeespoortdam-omgewing ongeveer 33 mm aangeteken en Lichtenburg 21 mm.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Phillip ·

So Lank die damme net kan vol kom en reen waar dit droog is ook reen kry Mag God ook aan hulle dink. Ons kan nie reen maak nie

Di ·

Dankie vir reen Hemelse Vader. Ons bid dat die Noord Kaap wat onder uiterste droogte toestande gaan ook spoedig reen sal kry!

marius ·

“n Af duim vir dit ? Mag jy nie eers jou tande kan borsel nie . Vir altyd .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.