Reën bring effens verligting vir Karoo

uniondale-reen

Die water stroom deur Uniondale in die Klein-Karoo gedurende die naweek se reën. Foto: Mariette Fourie/Delport van Rooyen/Reënval in SA Facebook-groep.

Die Touwsrivier is een van die riviere in die droogtegeteisterde Karoo-streek wat ná die naweek se reën die eerste keer in vier jaar weer gevloei het.

Die vlak van Beaufort-Wes se Gamkadam het ook tot 1,8% gestyg nadat goeie reën Saterdag in die gebied geval het.

Anton Bredell, die Wes-Kaapse LUR vir plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, het die reënval verwelkom, maar gewaarsku die streek se droogte is nog nie gebreek nie.

“Sommige gebiede in die streek het meer water as ander ontvang, maar die reën was selde meer as 10 mm in die meeste plekke. Die werklikheid is dat die droogte nog steeds in volle gang is.”

Bredell het die Karoo-gemeenskappe aangemoedig om voort te gaan om water te bespaar en waterlekkasies so gou moontlik aan te meld.

“Munisipaliteite soos Beaufort-Wes, Kannaland en Laingsburg sal steeds hulp van die provinsie ontvang, maar watervoorsiening aan die dorpe sal nog strenger bestuur moet word. Verder moet daar beslissend opgetree word teen verbruikers met buitensporig hoë waterverbruik terwyl waterbeperkings steeds streng geld.

“Al die dorpe in hierdie streek het water, maar inwoners sal met tye watertekorte ervaar omdat die reservoirs vinniger leeggemaak word as wat die boorgate dit kan aanvul weens ʼn hoër vraag daarna.”

Bredell het gesê sy departement het verlede week 11 000 ℓ gebottelde water vir Laingsburg afgelewer. ʼn Verdere 34 000 ℓ is in die vorige week aan Beaufort-Wes verskaf en nog water sal vandeesweek aan dorpe in die streek gelewer word.

Hy het ʼn verdere beroep aan organisasies gedoen wat die streke wil help om eers met die provinsiale owerhede te skakel sodat hulpverleningspogings behoorlik gekoördineer kan word. Dit sluit die boor van nuwe boorgate in die streke in.

“Ons verwelkom alle hulp en ondersteuning, maar dit bly kritiek noodsaaklik dat hierdie ramp só bestuur word om maksimum doeltreffendheid te verseker en seker te maak dat daar nie gemeenskappe is wat nie gehelp word nie.”

Damvlakke in die Wes-Kaap

Volgens die departement van water en sanitasie is die jongste damvlakke soos volg. Die persentasies word aangedui in die volgorde vir damvlakke tans, verlede week se damvlakke en die persentasie van die damme se vlakke vir die ooreenstemmende tydperk in 2018:

wes-kaap-damvlakke-2019-02-04

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

LouE ·

Miskien moet ons meer as net die reën verwelkom. Ons boerenasie weet ons bly in ‘n droë land en dat ons DANKBAAR is vir elke druppel reën wat ons van die Here af ontvang.

Dankbaar ·

Net ‘n korreksie, Gamkadam in Beaufort Wes het 1,81% water in en nie 10% nie, tensy die dam tussen die 2de Feb en die 6de met 8,19% gestyg het?

Esté Meyer Jansen ·

Dagsê Dankbaar

Dankie, ons het die jongste (skokkende) watervlakke vir die Gamkadam bevestig en die berig is gewys om nou die regte syfer te toon.

Groetnis
Esté Meyer Jansen
namens
Maroela Media

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.