Reën bring effense verligting in Oos- en Wes-Kaap

Foto: Pixabay

Inwoners van die Oos-Kaap en die droogtegeteisterde Wes-Kaap slaak ʼn sug van verligting ná die sluise van die hemel Woensdag oopgegaan het oor dele van dié provinsies.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) het Donderdagoggend die reënvalsyfers vir Woensdag bekend gemaak.

Dié verslag toon onder meer aan Knysna het 38 mm gehad, Plettenbergbaai 42 mm, Mosselbaai 41 mm, Stilbaai 31 mm en George 27 mm. Swellendam, Hermanus en Tygerhoek het meer as 10 mm reën gekry.

In die Oos-Kaap het Tsitsikamma ʼn soveel as 66 m gekry, Kaap St. Francis 31 mm gekry en Port Alfred asook Bird Island 21 mm. Port Elizabeth het 20 mm gekry, Patensie 18 mm en Uitenhage 16 mm.

Daar word nie reën vir die res van die week in Kaapstad verwag nie, maar daar is wel ʼn 30% kans vir reën in Knysna en Mosselbaai Donderdag asook ʼn 60% kans vir reën in Plettenbergbaai. Port Alfred het Donderdag ʼn 80% kans vir reën en Vrydag 60%.

Die SAWD het Donderdagoggend gewaarsku teen swaar reën in Port Alfred en die omgewing.

“Gelokaliseerde oorstromings kan voorkom in die area. Swaar reën word ook al langs die kus en die aangrensende binneland tussen Port Alfred en Port Edward verwag,” het die SAWD gesê.

Bransby Bulo, ʼn weervoorspeller by die Suid-Afrikaanse Weerdiens, het vroeër vandeesweek aan Maroela Media gesê daar is ʼn goeie kans vir reën in die Oos-Kaap as gevolg van ʼn kouefront wat die Wes-Kaap teen Dinsdagmiddag bereik het.

Inwoners van Gauteng trek vandag (Donderdag) behoorlik die komberse nader met ʼn maksimum temperatuur van 15 °C in Pretoria en 12 °C in Johannesburg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.