Reën bring effense verligting vir Kapenaars

Argieffoto ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Terwyl die kraaie die afgelope naweek in die Wes-Kaap weer behoorlik gegaap het weens uiters warm temperature, kan inwoners van dié provinsie vandeesweek effense verligting verwag.

Volgens Puseletso Mofokeng, ’n senior weervoorspeller verbonde aan die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD), is daar van Dinsdagmiddag af ’n 30%-kans op reën vir groot gedeeltes van die provinsie. Dit sluit egter die noordelike dele van die provinsie uit.

“Reën, wat met koeler temperature gepaard sal gaan, word tot Woensdag vir die meeste dele van die provinsie voorspel,” sê Mofokeng.

Teen Woensdag word ’n 60%-kans vir reën langs die suidelike kus – van Kaap Agulhas tot Plettenbergbaai – verwag.

Die reën sal teen Woensdagmiddag in die omgewing van Worcester en Malmesbury en omliggende gebiede begin opklaar.

“Teen Donderdag sal die meeste wolke weg wees en temperature sal stelselmatig weer styg.”

Die kwik het die afgelope naweek tot in die hoë 30’s gestyg en Kapenaars behoortlik laat sweet. Temperature van tot 38 °C is in Vredendal aangemeld, gevolg deur Oudtshoorn met 35 °C. In die Worcester‑, Paarl‑, Malmesbury‑ en Beaufort-Wes‑omgewing het die kwik tot 36 °C gestyg.

Die weerdiens voorspel soortgelyke temperature vir die komende naweek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

JohanR ·

Was maar ‘n snaakse somer hier in die Kaap. Maar dan was dit net soe in die res van die land. Het iewers gelees dit is veroorsaak deur die El Nino effek. Ook maar net nog soe 2.5 maande van somer in die Kaap, dan kom die winter klere en komberse uit. Sal El Nino ook ‘n effek he op winter?

Anoniem ·

Ek glo dat die Kaap ‘n nat normale winter gaan hê, veral omdat Gauteng se reënval patroon weer beter lyk. Die oumense het geglo dat die Transvaal moenie reën kry voor oom Paul Kruger se verjaarsdag 10 Oktober nie, anders het hulle ‘n vroeë nat seisoen en droë laaste deel van die reën seisoen.

VaalDonkie ·

Ja ek weet nie wat die oorsaak is nie, maar die weer is lekker hier. Ek swem omtrent elke middag maar in die aande is dit gewoonlik nie so warm dat ek nie kan slaap nie. Ek sal maar nog een of twee JOJO’s kry om die reenwater op te vang hierdie winter.

Miena ·

Ai geniet die reen wat julle ontvang… vang dit op en gebruik ten goede.

SlinkseKoljander ·

La Nina (koud) het ge-eindig begin van die jaar, ons gaan nou oor in El nino (warm) dit kan vir so 9 maande aan hou. Dit is hoekom daar so baie reen aan die begin van die jaar was en die winter bietjie warmer gaan wees die jaar.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.