Reën broodnodig vir SA om ernstige probleme te vermy

Die land het binnekort reën nodig as ons nie ernstige tekorte in die gesig wil staar nie. Argieffoto

Die land het binnekort reën nodig as ons nie ernstige tekorte in die gesig wil staar nie. Argieffoto

Suid-Afrika mag dalk nie meer genoeg voedsel vir sy huishoudelike behoeftes kan produseer as dit nie binnekort reën nie, het kundiges vandeesweek verduidelik op ʼn spesiale Nasie in Gesprek-program op kykNET.

Tracy Davids van die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP), prof. Johann Kirsten, hoof van die Departement Landbou-ekonomie, Voorligting en Landelike Ontwikkeling aan die Universiteit van Pretoria, Jannie de Villiers, uitvoerende hoofbestuurder van Graan SA, en Francois Strydom, besturende direkteur van Senwes, het verskeie elemente van die droogte aangespreek, onder meer die uitwerking van die droogte op die boerderybedryf en die gemeenskap, die vooruitsigte op reën en wat die land te doen staan indien die droogte sou voortduur.

Die kundiges het tydens die program gesê dat die land tans die ergste droogte sedert 1991 beleef. Hoewel 2015 met hoë voorraadvlakke van voedsel afgeskop het danksy hoë oeste in 2014, het die produksie van mielies in 2015 van 14 ton na ongeveer 9 ton gedaal. Indien dit nou sal reën, sal die oeste slegs in sy eie behoeftes en normale uitvoer na Afrika kan voorsien, maar nie in volle uitvoerpariteit nie.

Hoewel die statistieke negatief klink, het die paneel kundiges dit eens dat die huidige droogte nie dieselfde uitwerking sal hê as die droogte in 1992 nie. Hulle meen egter ook dat dit die eerste keer is dat die nuwe demokratiese regering met ’n droogtetoestand te doen kry en beleidsaksies van stapel sal moet stuur. In 1992 het die regering risikomaatreëls daargestel en waarborge vir koöperasielenings aan boere verleen. Die dereguleringsproses van 1994 tot 1996 het meegebring dat boere hul risiko’s self moes hanteer by wyse van die Safex-meganisme, maar ook beter bestuur van grondwater en produksiepraktyk. Boere is baie meer versigtig, want hulle besef die regering het nie noodplanne in werking gestel nie. Om ’n omvattende, gekoördineerde noodplan daar te stel wat vir opkomende boere, kleinboere en grootskaalse boere voorsiening maak, sal met die regering se stram begroting geweldige druk op staatsgeld plaas, het hulle gesê.

Die uitwerking van ’n droë jaar op pryse word hoofsaaklik aangedryf deur die koste van veevoer en die belangrikste voedingsprodukte soos mielies en koring. Die belangrikste illustrasie van die gevolge van droogte is die impak daarvan op gemeenskappe in landelike gebiede. Boere het nie meer surpluskapitaal nie en bestee nie meer geld in die plaaslike ekonomie in die vorm van nuwe masjinerie en produksie-insette vir die volgende seisoen nie. Die rimpeleffek van die droogte, indien dit sou voortduur, sal eers werklik in die jaar wat voorlê, beleef word. Die landbou, wat ʼn klein deeltjie van die bruto nasionale produk uitmaak, het ’n veel groter vermenigvuldigende uitwerking op die breër ekonomie, wat nie altyd verstaan word nie. Dit sal toon hoe belangrik die landbou vir die ekonomie is, en hoe belangrik dit is dat boere geskool en voorbereid is op droogtetoestande.

Die verbruiker verkeer onder groot druk. Internasionaal is daar ʼn oorproduksie van geelmielies wat die sagtekommoditeitspryse afdwing. Die daling van die olieprys beïnvloed die mededingendheid van bio-energie teenoor fotovoltariese en windenergie. Dit beteken dat meer sagte kommoditeite in die voedselkompleks gaan terugvloei. Die effek van laer sagtekommoditeitspryse oor ʼn langer tydperk is ʼn wesenlike waarskynlikheid. Suid-Afrikaanse boere word glad nie gesubsidieer nie, en tesame met die verswakking in die rand se wisselkoers beïnvloed dit hulle winsgewendheid en mededingendheid. Boere is die klantebasis van landboubesighede, wat hulle sakebeginsels deeglik in oënskou sal moet neem. Wat hulle nou doen, sal ʼn langtermyneffek op die bestaande klantebasis hê.

SA Graan het ʼn spesialis aangestel om aandag aan bewaringsbewerkingspraktyke te skenk. ’n Opname toon dat 40 persent van die land se boere reeds bewaringsbewerking toepas, soos vogbestuurspraktyke waar daar glad nie bewerking gedoen word nie, of slegs die minimum bewerking. Sojaboerdery het heelwat uitgebrei en die regering het baie gedoen om meer perskapasiteit daar te stel. Dit dien as aanmoediging vir die toepassing van wisselboumetodes.

Francois Strydom maak bekend dat Senwes die inisiatief geneem het om in samewerking met die georganiseerde landbou ʼn droogterampfonds op die been te bring om boere, hulle gesinne en hulle werkers te ondersteun. Die oogmerk is om ook ander sektore te aktiveer om geld na die landbou te kanaliseer. Agri SA tree in hierdie verband as medium vir Senwes op.

“Op sosiale vlak word heelwat gedoen,” sê Strydom. “Op die platteland wentel alles om die boerderysektor. Die rampfonds word aangewend om boere, hulle gesinne en werkers oor die hele land, waar hulle hul ook al bevind en ongeag wie hulle is, by te staan. Nog ʼn inisiatief van Senwes is om die beskikbaarheid van ruvoer te help koördineer. Die tekort aan ruvoer wek kommer. Selfs al begin dit môre reën, is daar nie ruvoer vir diere nie. Dit kan die hele rooivleiskompleks nadelig raak. Senwes sit hand by om ruvoer van gebiede waar daar ʼn oorvloed beskikbaar is, te vervoer na gebiede waar daar ’n tekort is. Op kommersiële vlak sal boere ook met subsidies op spesifieke produkte ondersteun word wat veral op die veesektor afgestem is.”

Besoek die webwerf vir meer inligting oor die droogterampfonds.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

8 Kommentare

Flippie ·

Ons het gelukkig 80mm die afgelope 4 dae gehad. Ons is werklik geseënd. Die wereld rondom ons is bottel groen. Dis absolute wonderlik. Die Umkomaas wat voor my verby vloei, het egter baie min water vir die tyd van die maar.

Paul ·

Daar staan dat die produksie van mielies “met 14 miljoen ton” gedaal het. Is dit wêreldwyd? Dit kan nie vir Suid-Afrika alleen wees nie, aangesien die totale jaarlikse produksie van mielies in Suid-Afrika (wit- en geelmielies saam) jaarliks nie eers 14 miljoen ton is nie. As dit met 14 miljoen ton gedaal het in Suid-Afrika, beteken dit dat daar geen mielies geproduseer word nie.

Milan Bye ·

Dagsê Paul

Dankie dat jy ons daarop wys! Ons het die fout reggemaak.

Groetnis
Milan
nms Maroela Media

Henk ·

Lees ek die kommentaar en vind ek dit lagwekkend.
Maar nou ja, die berig is soos vele ander verklarings deur allerhande “belanghebbendes” net so lagwekkend. Dit word op ‘n trant geskryf wat voorgee dat God net aangese kan word om dit te laat reen. So sof die “verklaarder” dink hy praat met kinders of politici.
Dalk moet ons eers begin kyk na waarom dit so droog is. Iewers anders as die strooi El Nino verskynsels en wat ookal daarmee gepaard gaan wat wetenskaplikes opdis.
Dalk moet ons begin kyk na onsself. En wat ons met God se wette en voorskrifte maak. Dan na wat ons die kerke toelaat om te doen asof hulle self bo God verhewe is.
Dalk moet ons net ophou om vir onsself te lieg, sorg dat ons op ons kniee voor God gaan en begin lewe soos God van ons vereis.
Dalk, net dalk, sal God dan vir ons die reen gee wat ons so broodnodig het.

Remondo ·

ons kan en moet net bid vir God om ons te seen met reen– dalk is dit Sy manier om die kollig op die landbou te vestig en sodoende almal te laat voel hoe dit is om GEEN landbou produkte te kry nie , sou die boer totaal uitgemoor word

talitha ·

Ons het lank geboer en op n stadium het ons vloede gehad en almal se oeste het versiup of weggespoel.
Raai wat? Hierdie regering het kompensasie vir die werkers uitbetaal en kospakkies vir hulle. Ons wat hulle steeds elke maand moes hulle lone betaal, het nie n bloue duit gekry nie.
So, boere moet maar weet om eerder tot God te roep as om op regeringshulp staat te maak..
Ons mense is baie afvallig deesdae. As ons almal terugkeer na God, sal die Here ons help . Ook met al die moorde op ons mense.

pop ·

Flippie ek was nou die dag op Umkomaas by my kind, dit was te pragtig. Groen soos ons natal ken. Ons hier by tugela vergaan van die droogte. Een na die ander val selfs die bome want die miere vreet hulle nou op. Stanger het op n kol 5 weke nie water gehad nie. Op n ernstige nood. Iemand se nou die dag mos ons kan net voedsel invoer. Eish…Nouja, probleem opgelos ne!!!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.