Reën dalk op pad ná honderde bid

Mense het Saterdag in groepe by die Kougadamwal gebid vir reën. (Foto: Verskaf)

Inwoners van die Oos-Kaap is vol hoop dat dit binne die volgende week gaan reën nadat honderde mense Saterdag by die wal van die Kougadam naby Patensie saamgetrek het om te bid vir reën.

Dié dam is maar 4,8% vol. Daar is hierdie week aangekondig dat Dag Zero in dié streek op 1 Junie sal aanbreek indien dit nie voor daardie tyd behoorlik reën nie. Daarom is ʼn biddag vir reën gereël.

“Ons het aanvanklik gedink 20 of 30 mense sou Saterdag opdaag; so ons was verras toe omtrent 330 mense Saterdag by die dam aankom,” het Wikus Nel, een van die organiseerders, aan Maroela Media gesê. “Dit was wonderlik om te sien hoeveel mense, van alle ouderdomme en rasse, bereid was om die afstand te ry en God se aangesig te soek en te bid vir reën.”

Mense het Saterdag in groepe by die Kougadamwal gebid vir reën. (Foto: Verskaf)

Nel sê volgens die weervoorspelling gaan dit reeds Maandag en Dinsdag reën. “Dag Zero wat nader kruip, is vir ons almal ʼn baie groot uitdaging en ons almal het net weer besef ons hulp kom van God alleen en dat Hy groter is as hierdie probleem.”

Volgens Nel het ʼn paar leiers in die gemeenskap, onder wie ʼn amptenaar van die Kouga-munisipaliteit, tydens Saterdag se geleentheid gebid. Angus Buchan het selfs ʼn boodskap gestuur wat die organiseerders tydens die byeenkoms oor die luidsprekers gespeel het.

“Dit is so mooi hoe almal betrokke geraak het,” sê Nel. “Ons hou nou ons oë na Bo gerig en sien uit na die reën wat gaan kom.”

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

16 Kommentare

jongste oudste gewildste
Mariana

Daar is groot krag in gebed. Mag dit hierdie keer ook verhoor word. Bly biddend, God luister.

Androclus

AMEN!

Miskruier

Gebed is ons enigste toekoms.

RS

Bid, glo en vertrou in sy krag!

Faraway

Ek self het die jaar besef dat GOD LEEF en dat gebede beantwoord kan word (as dit SY WIL is) daar het goeie goed in my lewe gebeur wat ek nie verdien het nie en GOD het deur SY GOEDHEID my net weer laat besef . . . SY GENADE is onbeskryflik GROOT!
Mag dieselfde GOD ook mildelike reën stuur in hierdie droë dele van die land!