Reën, donderbuie oor groot dele van SA verwag  

Foto: Pixabay

Reën en donderbuie word vir die volgende paar dae oor groot dele van die land verwag.

Dié toestande is volgens die Suid-Afrikaanse Weerdiens weens ʼn afsnylaag wat gepaard gaan met kouer lug, oorvloedige vog sowel as beduidende onstabiliteit. Dié weerstelsel sal na verwagting die grootste aandrywer wees van reën en donderbuie oor die grootste deel van die land in die komende dae.

Vogtige lug wat oornag en vandag suidwaarts deur Botswana na die sentrale provinsies van Suid-Afrika beweeg, sal verspreide buie en donderbuie in Noordwes, die Vrystaat, die Oos-Kaap en Gauteng bevorder, asook in dele van aangrensende provinsies.

Volgens die weerdiens kan oorstromings plek-plek voorkom aangesien van die storms hewig kan raak met die kans vir hael en wind wat skade kan aanrig. Dit is veral ʼn moontlikheid in die westelike dele van Noordwes, dele van die Noord-Kaap sowel as die verre westelike dele van die Vrystaat.

Die afsnypunt sal teen Woensdagaand na verwagting ietwat verswak. Donderbuie kan egter steeds verwag word in dele van die Vrystaat, Noordwes en Gauteng soos die stelsel Donderdag oos beweeg. Dele van KwaZulu-Natal kan ook windskade op plekke ondervind as gevolg van erge donderstorms.

Die weerstoestande sal Donderdag vinnig in die weste begin opklaar met die Wes- en Noord-Kaap wat droë en sonnige toestande kan verwag. Daar word ook verwag dat die reënweer in die westelike dele van Noordwes en die Vrystaat ook Donderdag vanuit die weste sal begin opklaar.

Reën kan nog Vrydag in die vroeë oggendure oor Gauteng en die oostelike gebiede van Noordwes en Vrystaat voorkom. Die storms sal na verwagting Vrydag oor die oostelike provinsies voortduur. Die reënweer sal na verwagting teen die naweek heeltemal opgeklaar het.

Die Wes-Kaap se weer sal egter na verwagting teen Vrydag begin verander met reënbuie en stormsterk wind wat aan die suidwestelike kus verwag word weens ʼn goed ontwikkelde kouefront wat Suid-Afrika vanuit die weste sal nader. Daar word ook rowwe seetoestande verwag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Mickey ·

reen is welkom maar nie daai hewige wind en donderweer nie. kry die diere so jammer wat bang is vir die harde weer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.