Swaar reënval sal nog Dinsdag voortduur in groot dele van die land. Volgens weervoorspellers verbonde aan die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAW) sal dit voortgaan om Maandagaand in alle dele van Gauteng te reën.
Daar is Dinsdag ook ʼn 80%‑kans vir reën. “Die weerdiens het reeds ʼn waarskuwing uitgereik vir plaaslike vloede, veroorsaak deur aanhoudende reën,” sê Kgolofelo Mahlangu, ʼn weervoorspeller verbonde aan die SAW.
Aanhoudende reën die afgelope naweek het Maandag reeds vloede in verskeie provinsies veroorsaak en veral chaos in Centurion gesaai, waar laagwaterbrûe oorstroom het en bome oor paaie geval het. Die Centurion Lake Hotel se ontvangs was ook Maandagoggend reeds onder water en video’s van motors wat deur die water meegesleur word, het op sosiale media die rondte gedoen.
Volgens die SAW het die sentrale gedeeltes van Gauteng reeds die afgelope week tussen 200 mm en 400 mm reën gekry. In die Oos-Rand het tussen 100 mm en 150 mm geval en die suidelike gedeeltes van Gauteng het tussen 50 mm en 100 mm reën gekry. Reën word ook Dinsdag verwag vir Limpopo, Mpumalanga, Noordwes, KwaZulu-Natal en die Vrystaat.
Reën word egter steeds nie vir groot dele van die Noord-Kaap verwag nie. Dié gebied is tot rampgebied verklaar weens die voortslepende droogte.
Here, maak die sluise van die hemele oop en gee genoeg reën vir die Noord-kaap! U het my gebede verhoor vir Gauteng … asseblief Here!
Ons het daagliks gebid vir hierdie reen, wees dankbaar en pry die Here vir sy genade!!!
Here, ons se baie dankie vir die reent in Centurion. Here ons vra asb om dit ook in Noord Kaap te laat gebeur.
Die Here gee op Sy tyd! Ons dien ‘n Almagtige God! Jy moet dalk begin dankie se vir die reen wat gaan val in die NoordKaap!!
Ons mensdom is baie ondankbaar, eers bid ons vir reën en nou dat dit vir ñ week aaneen reen begin die mense kerm dat dit nou eers genoeg is!!
Here stuur asb ook daar in die gebiede, Karoo, Noord-Kaap en Oos Kaap sulke lekker en baie reën soos wat U ons hier so mee seen xx