Reën in Gauteng: Kinders sterf in stormwatersloot

Foto ter illustrasie (Foto: Stad Tshwane/Twitter)

Die liggame van drie kinders is Saterdagmiddag aangetref in ’n stormwatersloot wat in Hammanskraal, noord van Pretoria, in aanbou is.

Lede van die publiek het na bewering op die liggame van die seuntjies, tien en nege jaar oud, in die stormwatersloot in Tambo Uitbreiding 1 naby die verkeerskantoor afgekom. Die sloot het water opgegaar weens die naweek se swaar reën in die omgewing.

Thabo Charles Mabaso, woordvoerder van die Stad Tshwane se departement van nooddienste, sê die Stad se nooddienste is kort voor 17:00 na die toneel ontbied waar die kinders dood verklaar is.

Die polisie is besig met ʼn volledige ondersoek na die omstandighede wat gelei het tot die kinders se dood.

Maroela Media het vroeër berig verkeersopeenhopings, oorstroomde paaie, brûe en huise asook voorvalle van ontwortelde bome word die naweek te midde van swaar reën in Pretoria aangemeld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.