Reën kan nog dae in Tuinroete duur

Die strate om George is onder water (Foto: Verskaf)

Inwoners van die Tuinroete moet hulself staal teen nóg swaar reën wat moontlik vir die res van die week in dié Wes-Kaapse distrik kan uitsak.

Reën het Sondagmiddag in groot dele van die Tuinroete begin val, wat eindelik oorstromings in George veroorsaak het, met motors wat in vloedwater vasgekeer is, geboue wat oorstroom het en paaie wat gesluit moes word. Reddingspanne het ook begin om inwoners van George by te staan, van wie sommige in hul huise vasgekeer is.

Volgens Kgoloselo Mahlangu, ʼn weervoorspeller verbonde aan die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD), is ʼn geel vlak 2-waarskuwing vir Maandag en Dinsdag uitgereik teen swaar reën en gelokaliseerde vloede vir die suidoostelike kusgebiede. Dit sluit die Tuinroete- en die Tsitsikamma-distrik, waaronder Gqeberha, in.

Mahlangu sê ʼn reënvalkans van tussen 60% en 90% word tot Dinsdag vir hierdie kusgebiede voorspel.

Teen Woensdag sal die reën effens bedaar, maar wolke sal waarskynlik teen die naweek weer dikker begin saampak. Inwoners kan van Saterdag af weer ʼn 80%-kans vir reën verwag.

Die weerdiens waarsku inwoners om versigtig te wees rondom laagliggende brûe en geboue met swak infrastruktuur wat oorstroom kan word.

NSRI-lede het inwoners wat deur vloedwaters in hul huise vasgekeer is, is na veiligheid gebring (Foto: Verskaf)

Volgens Craig Lambinon, woordvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI), staan lede in Wildernis sedert Maandagoggend die Tuinroete-distrik se rampbestuur- en nooddiensspanne by met noodsituasies wat weens die vloede in George en Wildernis veroorsaak is.

Lambinon sê inwoners wat deur vloedwaters in hul huise vasgekeer is, is na veiligheid gebring. Volgens die Tuinroete-distriksmunisipaliteit moes agt passasiers ook uit voertuie op ʼn pad in Denneoord gered word en is verskeie paaie tans gesluit. In die Sewe Passe-pad in Saasveld het ʼn massiewe sinkgat ook ingeval.

In Oudtshoorn is swaar reën aangemeld en laagliggende brûe is gesluit.

“Geen beserings is tot dusver aangemeld nie. Ons monitor die situasie noukeurig,” sê Lambinon.

Dele in George ondervind kragonderbrekings weens die swaar reën. Volgens die Oudtshoorn-munisipaliteit is hul telefoonverbindings ook buite werking weens die onweer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Samuel ·

Wat kan mens sê? Sterkte en mag geen beserings of sterftes aangemeld word nie. Is goed bekend met Denneoord. Ai, die arme mense.

Lurine ·

Baie ironies is dat ons in George op die oomblik geen water in ons krane het nie.

Casper ·

Ek wil net ‘n vraag vra aan iemand wat in daai gebiede woon.Na watter opgaardamme gaan hierdie water of loop dit in riviere in wat in die see uitmond.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.