Reën kom toe saam met koue in SA aan

(Argieffoto: pixabay)

Reën het Vrydag in groot dele van die land uitgesak toe die kouefront wat vroeër die week voorspel is, sy opwagting gemaak het. Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) het waarskuwings vir ontwrigtende reënbuie wat tot oorstromings kan lei vir die suidelike gebiede van KwaZulu-Natal en die oostelike dele van die Oos-Kaap uitgereik.

Die weerdiens het Maandag reeds gewaarsku dat ’n kouefront Vrydag verby die Ooskus gaan beweeg. Dit sal tot gevolg hê dat temperatuurdalings, beduidende reënval en sneeu dié naweek in die suidelike, sentrale en noordoostelike gebiede van die land verwag kan word.

Kumsa Masizana, ʼn weervoorspeller verbonde aan die weerdiens, sê mense in die Oos-Kaap, KwaZulu-Natal, Gauteng, die oostelike gebiede van Noordwes en die suidelike dele van die Vrystaat sit vandag veral diep onder hul komberse aangesien dié provinsies die grootste temperatuuurdalings en reënval ervaar.

In hierdie gebiede gaan maksimum temperature na verwagting tot onder 20 °C daal.

“Die koue en reën gaan teen Saterdag ook na Mpumalanga en Limpopo uitbrei,” sê Masizana.

Maroela Media het vroeër berig dat sneeu boonop Vrydag vir die Drakensberge, Lesotho, die hoogliggende gebiede van die Oos-Kaap en Oos-Vrystaat voorspel word.

“Reën in die sentrale gebiede sal na verwagting van Saterdag af stelselmatig begin opklaar.”

Masizana sê die oostelike gebiede van die Noord-Kaap en Wes-Kaap gaan gedeeltelik bewolkte en koel weer die naweek ervaar.

Die weerdiens het ook ’n waarskuwing uitgereik omtrent ontwrigtende reënbuie wat Vrydag tot oorstromings kan lei in die suidelike gebiede van KwaZulu-Natal en die oostelike dele van die Oos-Kaap.

Volgens die weerdiens word ʼn minimumtemperatuur van 9 °C en ʼn maksimum van 22 °C Vrydag in Pretoria voorspel. In Johannesburg word ʼn minimum van 8 °C en ʼn maksimum van 19 °C voorspel. Soortgelyke temperature sal Saterdag en Sondag voorkom.

In Bloemfontein word ʼn minimum van 7 °C Vrydag verwag en ʼn maksimum van 17 °C. Die kwik sal na verwagting van Saterdag tot 20 °C styg.

Vir Queenstown en Cradock word ʼn minimum van onderskeidelik 8 °C en 7 °C en ʼn maksimum van 12 °C en 15°C vir Vrydag voorspel.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Stof ·

Strome van seën van bowe. Ons gebede is verhoor. Alle eer aan Vader יהוה

Wielspore ·

Dit het alreeds in die Laeveld begin reen, dit is koud en nat…… lekker.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.