Reën lei tot wydverspreide kragonderbrekings

Verskeie strate in Pretoria was Vrydag onbegaanbaar nadat dit deur die nag oorstroom het. Foto: Tshwane-metropolisie via Facebook

Swaar reënval oor Gauteng het Vrydag tot wydverspreide kragonderbrekings in Pretoria, Johannesburg en omliggende informele nedersettings gelei.

Solly Msimanga, burgemeester van Tshwane, het in ʼn verklaring gesê “die meeste” woonbuurte in Pretoria is deur kragonderbrekings geraak. Tegnici en elektrisiëns het begin om kragtoevoer te herstel na groter gebiede wat kragonderbrekings ervaar en sal daarna aandag aan individuele klagtes gee.

“Ons moet spesiale voorsorgmaatreëls tref weens die ongure weer en ons sal inwoners in kennis stel wanneer die kragtoevoer herstel is,” lui die verklaring.

Verskeie strate in Pretoria was Vrydag onbegaanbaar nadat dit deur die nag oorstroom het. Foto: Tshwane-metropolisie via Facebook

Inwoners van Tshwane kan kragonderbrekings aanmeld deur die woord “Power” met die betrokke rekeningnommer te SMS na 082 612 0333 of 44676. Kragonderbrekings kan ook telefonies by 012 358 9999 aangemeld word.

In Johannesburg is talle inwoners ook sonder elektrisiteit gelaat. Volgens City Power is kragtoevoer onderbreek na onder meer Blackheath, Northcliff, Fairlands, Berario, Northriding, Bryanston, Ferndale, Malanshof, Blairgowrie en Riverclub. Tegnici het Vrydagoggend onverpoos gewerk om die kragtoevoer in die onderskeie gebiede te herstel.

Inwoners van Johannesburg kan kragprobleme by http://citypower.mobi aanmeld.

Verskeie strate in Pretoria was Vrydag onbegaanbaar nadat dit deur die nag oorstroom het. Foto: Tshwane-metropolisie via Facebook

Intussen is motoriste gewaarsku oor verskeie strate in Pretoria wat onbegaanbaar is nadat dit deur die nag oorstroom het. Dit sluit in:

  • Die brug by Rabie- en Endstraat
  • Rooihuiskraal by Uitsig-hoërskool
  • Nellmapiusweg by die lisensiekantoor
  • Lenchen- en West-weg by die Centurion Hotel
  • Die Clubview-burg by Pepper Chair
  • Westlaan by Supersportpark
  • Die N14-suid net na die Hendrik Verwoerd-brug en voor die Brakfontein-wisselaar is gedeeltelik oorstroom
  • Soutpansbergweg waar ʼn boom op ʼn voertuig geval het

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

nellie ·

Ek dink die weer is guur. Net mense raak onguur.
Lekker dag

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.