Reën nog nie verby nie

Argieffoto

Moet maar nog nie die sambrele té ver wegpak nie. Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) voorspel dat reënwolke weer teen die naweek in meeste provinsies in die land sal opbou.

Dit is veral slegte nuus vir inwoners van KwaZulu-Natal wat reeds die afgelope weke onder stormweer en grootskaalse oorstromings gebuk gaan.

Volgens Kgolofelo Mahlangu, ʼn weervoorspeller verbonde aan die weerdiens, word reënbuie Vrydag in KwaZulu-Natal, Noordwes, Gauteng, Vrystaat, Oos-Kaap, dele van Limpopo en Mpumalanga, die suidwestelike dele van die Noord-Kaap asook die kusgebiede en binneland van die Wes-Kaap verwag.

Dié reën sal na verwagting die hele naweek voortduur. Die reën sal teen Maandag begin skietgee en teen Dinsdag heeltemal opklaar.

In KwaZulu-Natal is daar Vrydag ʼn 30%-kans vir reën in die hele provinsie, wat teen Saterdag tot 60% sal toeneem. Die reën sal teen Sondag effens opklaar, en ʼn 30%-kans vir neerslag word dan verwag.

Mahlangu sê Suid-Afrikaners kan van nou af soggens en saans koeler minimum temperature verwag omdat die land amptelik in die winterseisoen inbeweeg. Die maksimum temperature is ook heelwat koeler, met warmer dae wat af en toe nog verwag kan word.

Die beduidende temperatuurdalings wat tans ervaar word, kan aan die reënweer toegeskryf word.

Maroela Media het vroeër berig dat die noordoostelike dele van die land tussen April en Julie bogemiddelde reënval kan kry, en dus kan Suid-Afrikaners ʼn natter herfs en vroeë winter verwag.

Volgens die weerdiens se seisoenale voorspelling sal die La Niña-weerstelsel, wat verantwoordelik is vir baie reën, regdeur die herfs en die vroeë winterseisoen heers, maar wel effens swakker wees as die stelsel wat die afgelope twee jaar reeds in die land voorgekom het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jaco ·

Wanneer reën dit in die Wes-Kaap? Of is daai ANC-storie van ‘n paar jaar gelede waar: die Here straf die Wes-Kaap met droogte omdat meeste kiesers daar DA stem. Blykbaar is dit ‘n groot sonde om DA te stem en blykbaar is dit binne die Here se wil om vir die ANC en dus vir korrupsie, regstellende aksie en kaderontplooiing te stem.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.