Reën sak uit in Mpumalanga, KZN

(Argieffoto: pixabay)

Dele van Mpumalanga en KwaZulu-Natal het sedert die begin van die naweek tussen 20 mm en 30 mm reën gekry. Dié is tradisioneel somerreënvalstreke.

Volgens amptelike reënvalsyfers het Mtunzini in KwaZulu-Natal oor die naweek 16 mm reën aangeteken. In Richardsbaai het dit oor die naweek 24 mm gereën en die gebied rondom die Universiteit van Zululand het 31 mm reën gekry.

In Mpumalanga het dit Maandag in Graskop 20 mm gereën en die gebied naby die Krugerwildtuin-lughawe het 9 mm reën gekry.

Swaar reënval die afgelope paar dae in die Wes-Kaap, ʼn winterreënvalstreek, het ook dié provinsie se damvlakke laat styg, terwyl sekere gebiede rondom Kaapstad oorstroom het.

“Die kapasiteit van die damme wat water aan die Kaapse-metro verskaf het met 13,8% toegeneem sedert verlede week,” het Xanthea Limberg, burgemeesterskomiteelid vir water en afval, gesê.

Dié damvlakke het van 75,4% verlede week tot 89,2% vandeesweek toegeneem. Damvlakke het in dieselfde tyd verlede jaar op 63,5% gestaan. Dit is nog nie seker presies hoeveel reën die afgelope tyd hier aangeteken is nie.

Die reënval het egter tot talle oorstromings gelei wat veral inwoners van informele nedersettings in die knyp gelaat het.

“Meer as 2 000 vloedhulppakkette is tot dusver aan behoeftiges in Mfuleni, Kraaifontein, Dunoon en Khayelitsha uitgedeel. Die stad se nooddiensspanne werk hard om nog loopgrawe en kanale te bou om vloedwater uit geaffekteerde gebiede te lei, maar dit is nie volhoubare oplossings nie, aangesien dié gebiede baie laag lê,” het Malusi Booi, burgemeesterskomiteelid vir menslike nedersettings, gesê.

Die Stad Kaapstad het glo by verskeie geleenthede die gemeenskap gewaarsku oor die veiligheidsrisiko’s wat verband hou met die onwettige besetting van gebiede wat geneig is tot verspoelings.

Nóg reën en koue verwag

Kgolofelo Mahlangu, ʼn weervoorspeller verbonde aan die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD), het Dinsdag aan Maroela Media gesê dat nóg reën en koue vandeesweek in die Wes-Kaap verwag word.

“ʼn Koue front sal na verwagting dié week oor die Wes- en Oos-Kaap beweeg en ook die suide van KwaZulu-Natal bereik. Dié gebiede kan koeler temperature en reën verwag.”

Dele van Gauteng sal vir die res van die week koel en bewolk wees met temperature tussen 15 °C en 19 °C. Temperature sal na verwagting teen die naweek styg.

Volgens die weerdiens sal die res van die land ook koel en bewolk wees.

ʼn Minimum van 0 °C en ʼn maksimum van 11  ̊C word Vrydag in Sutherland in die Noord-Kaap verwag. Bloemfontein kan ʼn minimum van -1 ˚C en ʼn maksimum van 22 ˚C verwag, gevolg deur Bethlehem met ʼn minimum van 1 ˚C en ʼn maksimum van 19 ˚C.

In Noordwes kan inwoners van Potchefstroom en Rustenburg onderskeidelik ʼn minimum van 7 °C en 4 °C en ʼn maksimum van 22 °C en 23 °C Vrydag verwag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Anoniem ·

Geen genade vir onwettige plakkers in laagliggende gebiede nie, maar weereens word dit voor die Regering se deur gelê wat dit toegelaat het. Nou moet daar weer ekstra kostes aangegaan word om die “arme” vloedgeteisterde gebiede by te staan

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.