Reënboognasie verdof

Argieffoto

Argieffoto

Veel minder Suid-Afrikaners sien hulself nou eerstens as Suid-Afrikaners as tien jaar gelede, en meer Suid-Afrikaners dink aan hulself in rasterme.

Dit blyk uit die jongste versoeningsbarometer van die Instituut vir Geregtigheid en Versoening wat Woensdag bekend gestel is. Net 55% van die respondente het hulle in die 2013-opname eerstens as Suid-Afrikaners gesien, teenoor 72,9% tien jaar tevore.

Tog skryf die Instituut soos volg hieroor: “Verskille in ‘n samelewing is nie noodwendig ’n struikelblok in die weg tot nasionale versoening nie. Inteendeel, dit kan een van die grootste bates daarvoor wees… Rekonsiliasie verg die bou van brûe van wedersydse begrip oor die grense van verskille heen, veral waar dit verdiep is weens ‘n onregmatige verdeling van mag.”

Van die respondente meen 44% rasseverhoudinge in die land het verbeter, teenoor net 17,4% wat meen dit het versleg. Meer deelnemers as tevore dui nou aan dat hulle vriende van ander rassegroepe het, maar die sosiale integrasie vind bykans glad nie by die laer inkomstegroepe plaas nie.

Ook waar verskillende faktore teen mekaar opgeweeg word as die grootste verdelingsfaktor in die land, het ras maar die vierde grootste faktor uitgemaak – 14,6%. Meer mense het gemeen inkomste, MIV/Vigs en politieke partye is verdelende faktore. Trouens, oor die afgelope tien jaar het geleidelik minder en minder mense gemeen ras is die vernaamste verdelingsfaktor.

‘n Syfer wat bepaald baie se wenkbroue sal laat lig, is dat 41,4% aandui morele waardes het verbeter, teenoor net 21,4% wat meen dit het versleg.
Nog ’n interessante syfer is dat net 28,8% van die blankes heelwat vertroue in die presidensie het, teenoor 36,6% bruin mense, en 61,6% swart mense. Kom dit by vertroue in die Openbare Beskermer staan blankes se vertroue in die OB op 51,4%, teenoor 67,5% van die swart mense.

Swart mense se vertroue in plaaslike regering is ook baie laag, op net 49,5%, terwyl blankes se vertrouensvlak op 45,1% lê. Wit en bruin mense se vertroue in die regstelsel is kommerwekkend laag – 44,9% en 43,2% onderskeidelik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

REGTIG?? ·

Wat verwag mense? Kyk hoe het als agteruit gegaan in 20jaar

scalla ·

Ja, en wit het heel verdwyn, nog nooit dit gesien in reenboog

Boesman ·

Ek stem saam. Dit wat Mandela probeer doen het is die afgelope paar jaar die afgrond in gedryf deur die treurige ANC.

Paplepel ·

Vir een ding, hy het nooit om verskoning gevra vir al die onskuldige mense wat sinneloos vermoor was in die “struggle” nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.