Reënvaluiterstes in SA al meer waarskynlik – studie

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Megan Swart/Maroela Media)

Die hoeveelheid reën oor sommige dele van Suid-Afrika het die afgelope 50 jaar al hoe meer geword weens die voortdurende verskynsel van klimaatsverandering. Kenners sê dit kan moontlik daarop dui dat reënval in die streek in die toekoms meer intens kan raak.

Navorsers aan die Universiteit van Pretoria (UP) het ondersoek ingestel oor of daar waarneembare veranderinge in die daaglikse reënval reg oor Suid-Afrika is deur terug te kyk na die land se weerpatrone oor die afgelope eeu.

Die navorsing is deel van ʼn studie gelei deur Charlotte McBride van die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) en ʼn PhD-kandidaat aan die UP se departement geografie, geoïnformatika en meteorologie.

McBride sê een van die gevolge van klimaatsverandering is die toename in frekwensie en/of intensiteit van sommige weer- en klimaatuiterstes. Dit kan hittegolwe, swaar reënval, vloede, droogtes en tropiese siklone insluit.

“Suid-Afrika fokus tans op vloede, want dit is wat nou hier ondervind word, maar gedurende 2018 se ‘Dag Zero’ – toe Kaapstad se water moontlik sou opdroog – was die mense se aandag weer op droogte,” sê sy.

“Suid-Afrika het ʼn veranderlike klimaat met droogtes en vloede wat ʼn algemene kenmerk van hierdie wisselvalligheid is.”

Soos oppervlaktemperature weens klimaatsverandering styg, verander die waterinhoud van die atmosfeer ook. Hierdie toenames in die waterhouvermoë van die atmosfeer is gelyk aan 7% per graad van verwarming.

Met meer vog beskikbaar, sal reënval waarskynlik meer en intens word.

Suid-Afrika se jaarlikse reënvalverspreiding is uiteenlopend en neem toe van sowat 200 mm in die weste tot meer as 1 200 mm per jaar in die ooste van die land.

Om te bepaal of reënvalpatrone verander, het die navorsers die daaglikse tydreeks van 70 reënvalstasies tussen 1921 en 2020 ontleed. Dit is verdeel in vroeë subperiodes van 1921 tot 1970 en later tydperke van 1971 tot 2020.

Nadat die reënvalsyfers in hierdie twee tydperke vergelyk is, het dit duidelik geword dat die meeste reënvalstasies ʼn toename in hul 1-tot-50-jaar- en 1-tot-100-jaar-terugkeerperiodewaardes getoon het.

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Christel Cornelissen/Maroela Media)

Die navorsers het bevind dat die twee periodes min of meer dieselfde aantal reëndae gehad het, maar die reënvalhoeveelhede op enige gegewe reëndag vir sekere dele van die land in die laasgenoemde tydperk het toegeneem of meer ekstreem geword.

“Ons het daarna die verandering tussen die twee periodes as ʼn verhouding vir elke stasie gekarteer. Dit het ons ʼn aanduiding gegee van waar ons gebiede hoër of laer reënvalwaardes vir die spesifieke periodes ervaar het,” sê McBride.

Van die stasies in die ooste van die land se reënval het in die latere tydperk met 100 mm toegeneem in vergelyking met die vroeëre periode. Die Letaba-distriksreënvalstasie in Limpopo het byvoorbeeld ʼn toename van meer as 35% in reënval ervaar, terwyl dit op Hlobane in KwaZulu-Natal verdubbel het.

“Dit beteken dat hierdie gebiede en ander wat in die navorsing uitgelig is, soos die weste en suidelike dele van die land, waarskynlik meer ekstreme reënval sal ervaar. Dit is waarskynlik ʼn kenmerk van klimaatsverandering oor daardie gebiede,” sê sy.

Volgens die navorsers sal Suid-Afrika na verwagting warmer word en dus meer geneig wees om droogtes te ondervind.

Dit beteken egter nie dat die risiko van erge storms – tropiese siklone en intense donderstorms ingesluit – nie moontlik is nie. Inteendeel, met die atmosfeerverhitting kan dit meer waterdamp hou – en dit beteken meer reën.

“Ons kan dus verwag dat die intensiteit van die reën wat wél val, sal toeneem,” sê McBride.

Prof. Liesl Dyson, van die UP se meteorologie-departement, sê daar word internasionaal en op plaaslike gebied baie werk gedoen oor klimaatsverandering deur gebruik te maak van numeriese weervoorspellingsdata.

“Hoewel hierdie weervoorspellingsdata van groot waarde is en insig gee oor wat in die toekoms kan gebeur, bly dit voorbeelde van wat werklik kan gebeur,” sê sy.

“Die waarde van die navorsing wat aangebied word, is dat dit werklike, waargenome data van reënval oor Suid-Afrika vir ʼn lang tydperk gee.

“Hierdie resultate is gegrond op wat ons weet oor die afgelope eeu gebeur het, en wys dat reënval-uiterstes oor die algemeen meer waarskynlik word en dus in Suid-Afrika toeneem.”

Navorsers wat numeriese weervoorspellingsdata gebruik, kan van McBride se resultate gebruik maak om te verifieer dat die modelle wat hulle gebruik die huidige situasie akkuraat weerspieël en sodoende ʼn hoër waarde op die betroubaarheid van projeksies in die toekoms plaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Anel ·

Ag, ja, en so probeer hulle met ons koppe smokjel om ons te vertel wat alles sleg is vir ons, soos beesvleis. So gaan hulle probeer om ons te voer met allerhande sintetiese gemors. Beeste en skape en ander vleisdiere is deur die Here geskape vir ons om te eet. Gaan peuter nou met dit en kyk wat gebeur!!!!!

Nettie ·

En so liewe mensies, is hoe ‘n mens klimaatsverandering dophou, en besef dit was altyd daar, en sal altyd daar wees tot Jesus kom. Dis klimaatsVERANDERING, nie klimaatsverandering KRISIS nie. Net normale veranderinge in ons planeet se klimaat, soos deur al die eeue heen. Baie daarvan gebaseer op die siklusse van die son self.

Yolandie ·

Ai tog – die klimaatsvernadering aktiviste moet maar vir hulle ‘n ander werk kry. Ons weet mos een ding van die weer wat ons definitief weet is dat dit onvoorspelbaar is, maar om te maak asof die mens hier bloot kan lewenstyl veranderinge maak en so die planeet kan red is verregaande. Hierdie aarde is deur God gemaak met al sy hulpbronne aan die mens om te ontgun.

Papsak ·

Ag die klimaat en weer is net so deur mekaar soos die land SA weet nie meer is dit nat of droog of koud of warm nie so wat is nuut niks

Andre ·

Wat het die navorsers gevind oor menslike inmenging in weerpatrone wat al vir meer as ‘n halfeeu in SA gedoen word?

christo ·

Die langdurige uitwerking van klimaatsverandering mag selfs ‘n migrasie van die bevolking raak. Die Karoo ervaar uiterste droogtes en KZN ergere nat seisoene wat mense te dwing om na meer gematigde seisoene te verhuis.

Chris ·

Christo, so ek aanvaar jy het navorsing gedoen en bevind dat hierdie verskynsels nog nooit voorheen in die afgelope 2 000 jaar plaasgevind het nie. Kan jy asb die navorsing deel wat bewys dat die verskynsel absoluut ongewoon is. Ons kan met jou insette diegene wat dit bevraagteken op hul plek sit. Sien uit na jou navorsing.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.