Reënweer duur dié naweek voort

(Argieffoto: pixabay)

Dele van Gauteng, die Vrystaat en Noordwes het teen Donderdag soveel as 34 mm reën aangeteken en nóg swaar reën word Vrydag en die naweek vir groot dele van die land voorspel. Dit is weens ʼn afsny-laagdrukstelsel wat oor die land gaan beweeg.

Die weerdiens het ook ʼn geel vlak 2-waarskuwing uitgereik vir hewige donderstorms, swaar reën, hael en sterk wind wat Donderdag in die sentrale en noordelike dele van die Oos-Kaap, die westelike en suidelike dele van die Vrystaat en die verre oostelike dele van die Noord-Kaap kan voorkom.

Volgens Celeste Fourie, ʼn weervoorspeller verbonde aan die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD), sal die afsny-laagdrukstelsel teen Vrydagmiddag die land tref, en reën in die sentrale en oostelike dele van die Noord-Kaap en die Sutherland-gebied tot gevolg hê.

“Teen Saterdag sal die stelsel na die binneland beweeg. Reën sal in groot gedeeltes van die sentrale binneland, Wes-Kaap, Oos-Kaap en KwaZulu-Natal uitsak,” bevestig Fourie.

Die reën sal Gauteng, Mpumalanga en Limpopo teen Sondag bereik, terwyl dit dan in die weste van die land sal begin opklaar.

Volgens Fourie sal die afsny-laagdrukstelsel teen Maandagmiddag suidoos van die land beweeg.

“Teen Dinsdag keer ons terug na ons normale somerweerpatroon – met laatmiddag donderbuie in die sentrale en noordoostelike dele van die land.”

Groot gedeeltes van die sentrale binneland en noordoostelike dele van die land het die afgelope week reën gekry. In Gauteng is soveel as 34 mm reën Woensdag in Vereeniging aangeteken. Plekke in Pretoria het soveel as 16 mm reën ontvang. In Machadodorp in Mpumalanga is soveel as 25 mm reën aangeteken.

In Dwarsfontein en Potchefstroom in Noordwes is onderskeidelik 20 mm en 18 mm reën aangeteken. In die Vrystaat is 14 mm reën in Kroonstad sowel as Frankfort aangemeld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Wielspore ·

Dit reën tans in die Laeveld, hier is heelwat donderweer… mmm lekker!

FM ·

Ons het baie reën in die Bosveld nodig.

‘n Sopnat Christus fees sal ‘n groot dankbare geskenk wees .

Dit is verblydend dat dele in die Noord en Oos-Kaap goeie reën gekry het.

Eric ·

Die land kort nog baie reën in dele waar dit nog baie droog is

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.