“Ons is ʼn baie klein familie, ons pa’s is broers,” het Martin gesê. “Reeva was die eerste baba wat ek ooit vasgehou het,” het sy gesê voor Steenkamp se pa, Barry, beheer oor sy emosies verloor het en begin huil het. Sy vrou June het haar arm om hom gesit en sy hare gevryf.
“Reeva was ʼn baie, baie harde werker. Baie noukeurig. Sy het haar skoolwerk baie ernstig opgeneem. Sy was ʼn harde werker… sy het dit van haar ouers af gekry.” Volgens Martin was Steenkamp ʼn liefdevolle kind wat na almal om haar wou omsien. “Sy het van ʼn jong ouderdom af uitgestaan.” Volgens Martin het Steenkamp hard gewerk op skool om goeie punte te kry en om regte te gaan studeer.
Steenkamp was tydens haar studies in ʼn perdry-ongeluk en het haar rug gebreek. Volgens Martin het sy ná die ongeluk ʼn bewuste besluit geneem om haar studies te voltooi en ʼn loopbaan in modelwerk te volg sodat sy in ʼn posisie kon wees om vir haar ouers te sorg. “Dit was ʼn lewensveranderende ervaring vir haar.” Steenkamp het haar eerste salaristjek vir haar ouers gegee.
Martin het getuig dat Steenkamp se ouers altyd finansieel swaargekry het. Sy het gesê die Steenkamps het van Tafelsig in Kaapstad na Port Elizabeth getrek sodat Barry sy werk as ʼn perderesies-afrigter kon najaag.
Martin het ʼn paar keer in trane uitgebars en die hof moes later vir vyf minute verdaag sodat sy haarself onder beheer kon bring.
Klik hier om die hooftrekke van die hofverrigtinge gratis op Maroela Media te volg.