Referendum Party wil by Veelpartyhandves aansluit

Die uitvoerende komitee van die Referendum Party: Van links: Jordan Schouw, Phil Craig, Muhammad Yusuf, Donald Brown (Foto: Janice du Plessis/Maroela Media)

Die Referendum Party (RP) het nou amptelik ʼn versoek ingedien om by die Veelpartyhandves aan te sluit.

Altesaam 11 opposisiepartye het hulle reeds by dié groepering aangesluit in die hoop om in samewerking met ander opposisiepartye ʼn nuwe koalisieregering ná die komende verkiesing tot stand te bring.

Phil Craig, leier van die RP, sê in ʼn brief aan dié partye die RP glo ook daar bestaan “’n werklike en uiters betekenisvolle gevaar” dat die 2024-nasionale verkiesing tot ʼn nasionale koalisieregering onder leiding van die ANC kan lei.

Craig sê twee van die Veelpartyhandves se sleutelfokusareas is om burgers teen ʼn ANC-geleide regering te beskerm en om soveel as moontlik mag in die hande van burgers te plaas.

“Om die mense van die Wes-Kaap in ʼn referendum, wat volgens die Suid-Afrikaanse Grondwet gehou sal word, te vra of hulle vir ewig van die ANC en die EFF ontslae wil raak, is heeltemal in lyn met hierdie waardes. Dit is presies wat Kaapse Onafhanklikheid wil bereik.”

Die RP se versoek om by die Veelpartyhandves aan te sluit volg egter enkele dae nadat hy bewerings betwis het wat glo deur die DA se federale voorsitter, dr. Ivan Meyer, op Netwerk24 gemaak is.

Meyer het na bewering aangevoer dat die DA nie ʼn referendum oor Kaapse onafhanklikheid kan uitroep nie en dat die VF Plus mense mislei deur te suggereer dat die DA dit wél kan doen.

“As Meyer korrek aangehaal is, is hy óf ekonomies met die waarheid, óf hy het dit heeltemal verdraai,” het Craig in reaksie gesê.

Die DA en die VF Plus het albei reeds by die Veelpartyhandves aangesluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Vergeet dit. Die DA sal julle nie aanvaar nie.

Bolandse Nooi ·

En dié met die rokkie aan? Aaaaaaaggggg …………… RP, julle is nes alle ander politieke partye – raas en blaas net en draai mantel soos dit julle pas.

Cherokee ·

So, hoekom Republikein, dink jý dat die DA al die sê het? Dink weer, dink oor, en dink beter.

Republikein in die Wes Kaap ·

Cherokee, dis onnodig om te diep te dink. Die DA is die senior vennoot in die Handves. Die DA het die inisiatief geloods. Van al die lede het die DA die meeste setels in die parlement. Die DA is teen afstigting. Die kleiner vennote ook, Alan Winde verwerp die RP se eis vir ‘n referendum.

Elméne ·

Koen, ek stem 100% met jou saam, ek wonder ook maar net? Wat gaan gebeur as die DA die verkiesing dalk wen?? Hulle blaf al vir die afgelope 30 jaar vreeslik hard, net voor verkiesingstyd, maar verder het hulle nog nie VEEL gedoen (as oppossie party) om te keer dat ons land in sy kanon verwoes word nie.

skurweberg ·

Wil die RP hulle nou ‘n haas uit die hoed ruk, of is hulle ‘n stok in die speek?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.