Reg in eie hande: ‘Gʼn vertroue in polisie’

(Argieffoto: Guillem Sartorio/AFP)

Voorvalle waar gemeenskappe die reg in eie hande neem, neem voortdurend toe en luidens die jongste kwartaallikse misdaadsyfers is sogenaamde boendoegeregtigheid een van die grootste dryfvere agter Suid-Afrika se hoë moord- en poging-tot-moordsyfer.

Volgens die polisie se syfers was dit die oorsaak van 588 moorde wat tussen Januarie en Maart vanjaar gepleeg is, 58 poging tot moordvoorvalle en 428 voorvalle van geslagsgebaseerde geweld. Die meeste moorde, wat glo weens boendoegeregtigheid gepleeg is, het in Gauteng plaasgevind (164), gevolg deur KwaZulu-Natal (122) en die Oos-Kaap (113).

Kenners meen ʼn groot oorsaak van dié misdade is ʼn algehele vertrouensbreuk tussen gemeenskappe, die polisie en die regstelsel in sy geheel; iets wat die polisie en regering slegs met daadwerklike optrede, deursigtigheid en suksesvolle inhegtenisnemings en vervolgings kan probeer omswaai.

Die meeste kenners is dit eens dat boendoegeregtigheid nie geregverdig kan word nie – onder meer omdat onskuldige mense dikwels in die spervuur beland en dit die kans belemmer dat geregtigheid wel geskied. Sogenaamde beskermingsgroepe ontaard boonop dikwels in georganiseerde misdaadgroepe wat uiteindelik ʼn skrikbewind in gemeenskappe voer.

“Vertroue in die Suid-Afrikaanse polisie was nog nooit baie hoog nie, maar dit het in 2021 ʼn laagtepunt bereik,” sê Lizette Lancaster, ʼn senior navorser by die Instituut vir Sekerheidstudies (ISS), aan Maroela Media.

“Die polisie voer nou aan dat die jongste misdaadsyfers ietwat beter lyk, maar ons stem nie saam nie. Daar word elke dag 70 mense in Suid-Afrika vermoor. Dit is geweldig baie en byna dubbel die moordsyfer van ʼn paar jaar gelede.

“Daar is steeds ʼn opwaartse neiging. Dit bewys dat wat die polisie nou doen, nie werk nie.”

Bheki Cele, minister van polisie, het die jongste misdaadsyfers verlede week bekend gemaak. (Foto: Rasaad Adams)

Lancaster sê gemeenskappe is keelvol dat misdaad in hul omgewings nie opgelos of hanteer word nie. En dan neem hulle toenemend die reg in eie hande.

Volgens Lancaster is daar natuurlik ook maatskaplike en ekonomiese kwessies wat tot hierdie soort misdaad en misdaad in die algemeen bydra. Dit sluit in armoede, stres, aggressie (weens verskeie redes) en ʼn algemene geneigdheid onder Suid-Afrikaners om probleme met geweld op te los.

“Die polisie is te reaktief. Gemeenskappe voel die polisie stel nie belang nie. Nog ʼn probleem is egter dat baie polisiebeamptes self nie meer gemotiveerd is nie, onder meer omdat hulle ook onder hierdie maatskaplike en ekonomiese probleme en druk gebuk gaan.”

Holistiese plan nodig

(Foto: SA Polisie)

Lancaster sê die polisie het ʼn omvattende, holistiese plan nodig om misdaad in Suid-Afrika te pak en weer die vertroue van gemeenskappe te wen. Maar dit is nie iets wat tans in hul planne sigbaar is nie.

“Die polisie sê nou hulle wil hul sigbaarheid verhoog, maar dit help nie hulle doen dit nie in die plekke waar misdaad die ergste is nie. Sigbaarheid alleen is ook nie genoeg nie – ʼn holistiese plan is nodig. Die polisie moet boonop die misdaad verstaan voordat hulle werklik planne kan maak om dit uit te roei.”

Lancaster sê die polisie moet hul fokus van kleiner misdade na groter, georganiseerde misdaad verskuif. Dit kan onder meer gedoen word deur beter polisiëring van misdaadbrandpunte. Die polisie moet patrone ontleed en misdadigers se denkwyse verstaan.

Hulle moet op die regte plek op die regte tyd wees.

Dan het die staat ook die verantwoordelikheid om die suksesvolle vervolging van misdadigers te verseker – nog iets wat tans nie werklik gebeur nie en vertroue in die stelsel verder skaad.

Oortreders word een dag in hegtenis geneem, net om kort daarna weer op vrye voet te wees. Daar is lankal nie meer ernstige gevolge nie – en misdadigers weet dit.

Niks ‘reg’ aan boendoegeregtigheid

‘n Voertuig wat in Limpopo uitgebrand is nadat die gemeenskap vermoed het dit word gebruik om gesteelde vee te vervoer. (Argieffoto)

Hoewel daar begrip is vir gemeenskappe se frustrasies wanneer die polisie hulle keer op keer in die steek laat, is daar eindelik egter geen ware geregtigheid in boendoegeregtigheid nie, sê Ian Cameron, direkteur van gemeenskapsveiligheid by Action Society.

Cameron meen hoewel baie gemeenskappe geen vertroue in die polisie het nie, is daar verskeie risiko’s wat met boendoegeregtigheid of sogenaamde beskermingsgroepe gepaardgaan.

“Ons sien in baie gevalle dat onskuldige mense in die proses seerkry of doodgemaak word. Dit skep weer ander gevare vir gemeenskappe.

“Ek het begrip met gemeenskappe se frustrasies, want ons ervaar dit self in die gemeenskappe waar Action Society werk. Dit kom dikwels voor of misdadigers se regte swaarder as dié van slagoffers weeg.

“Ons sien ook dat die polisie dikwels nie respek teenoor lede van armer gemeenskappe toon nie. Die polisie maak vyande van onskuldige mense – en dit doen soveel skade aan die vertrouensverhouding.”

Cameron sê gemeenskappe neem die polisie nie meer ernstig op nie en sien hulle as “ʼn goedkoop veiligheidsdiens”.

Dus neem die ontstaan van beskerming- of vigilantegroepe in gemeenskappe toe.

Nog ʼn gevaar met dié groepe, benewens die geweld waarmee hul optrede dikwels gepaardgaan, is dat die groepe dikwels in iets anders ontaard as dit waarvoor dit aanvanklik tot stand gekom het.

“Sodra die misdaad bedaar waarteen die groep aanvanklik geveg het, sien ons dat groepe dikwels in georganiseerde misdaadgroepe ontaard wat ʼn skrikbewind in hul gemeenskappe voer. Gemeenskappe begin dan om hierdie groepe te vrees.”

Cameron sowel as Lancaster sê dat hierdie groepe dikwels ook munt slaan uit gemeenskappe se vrees en selfs geld van gemeenskapslede invorder. Hierdie groepe wat dan eens vir “geregtigheid” opgestaan het, is dan self toenemend by misdaad en geweld betrokke.

“Daar is geen regverdige manier om geregtigheid op so ʼn wyse te laat geskied nie,” het Cameron gesê.

Volgens hom moet die staat die proses van vervolgings versnel sodat sake nie jare lank sloer nie. Daar moet ook swaarder vonnisse vir oortreders wees.

Verder moet daar beter spesialisvermoë en intelligensie in die polisie wees, asook beter benutting van hulpbronne en opleiding.

Dit sal reeds ʼn groot verskil aan die huidige vertrouensbreuk en bekamping van misdaad maak, sê Cameron.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Veronika ·

Die mense, ons almal actually, is g@tvol vir die misdaad!!! Kan mens hul kwalik neem?!? Dis seker nie reg nie maar hoeveel moet mens vat?? Die boewe skrik nie want hul kom niks oor nie!! Verdedig jy jouself en die boef kom iets oor is jy on die moeilikheid. Nee wat die mense kan nie meer nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.