Regering bestee miljoene op ‘vuil’ kwarantynfasiliteite

Dooie duiwe lê in van die Coastland-hotelkamers (Foto: Verskaf)

Die regering het reeds baie meer as die begrote R28 miljoen aan private kwarantynfasiliteite bestee. In antwoord op ʼn parlementêre vraag van die VF Plus het die departement van openbare werke en infrastruktuur gesê hy het reeds meer as R41 miljoen opgedok om private fasiliteite te huur as kwarantynfasiliteite vir Suid-Afrikaners wat uit ander lande terugkeer. Dié bedrag sluit ook nie die sowat R7,5 miljoen in wat die regering in Maart opgedok het om Suid-Afrikaners wat uit Wuhan teruggekeer het, te huisves nie.

Luidens die departement se voorlegging in Mei vanjaar, wat Maroela Media onder oë gehad het, het die departement R28 miljoen begroot vir die huur van private kwarantynfasiliteite.

Luidens die departement se antwoord is tussen R300 000 en R3 miljoen tot dusver per private kwarantynfasiliteit opgedok. Dit is meestal vir duur en welbekende hotelle.

“As mens sien hoe party van hierdie fasiliteite lyk, dan is dit verregaande dat sulke groot bedrae spandeer is,” sê Philip van Staden, woordvoerder van gesondheid vir die VF Plus.

AfriForum het in Julie weer ʼn brief gerig aan Patricia de Lille, minister van openbare werke en infrastruktuur, waarin dié burgerregteorganisasie antwoorde eis op klagtes oor kwarantynfasiliteite by die Peermont Metcourt‑ en die Peermont Mondior‑hotel by Emperors Palace. Die inligting is ontvang van gerepatrieerde mense wat hier in kwarantyn gehou word.

Kokkerotte lê orals in die kamers dood (Foto: Verskaf)

Van die klagtes wat hieroor ontvang is, sluit in dat die fasiliteit nie behoorlik skoongemaak en ontsmet word nie en dat die kamers onhigiënies is. Luidens die departement se antwoord aan die VF Plus het die departement onderskeidelik R739 780 vir Peermont Global en R1,9 miljoen vir Peermont Metcourt opgedok.

Maroela Media het reeds verlede week navrae aan die Peermont‑groep gestuur oor klagtes met betrekking tot die fasiliteite. Die hotelgroep het die vrae egter na die Gautengse departement van gesondheid verwys en dié het ʼn week later steeds nie op herhaaldelike navrae gereageer nie.

’n Groep van 365 Suid-Afrikaners wat op Carnival Cruise Line-skepe oorsee gewerk het, is in Junie na die Coastland-hotel vir kwarantyn geneem. Volgens die departement se inligting, het die regering R363 000 vir dié hotel opgedok.

Maroela Media het egter destyds talle klagtes van dié groep Suid-Afrikaners ontvang wat sê die hotelkamers en badkamers is uiters vuil en hulle vrees dat hulle siektes gaan opdoen.

Die kamers is glo vol kokkerotte en in van die kamers lê dooie duiwe. Van die badkamerkrane werk ook nie en dié krane wat wel werk, se water is vuil en bruin, het inwoners aan Maroela Media gesê. Party kamers het nie eers warm water nie.

Van Staden sê die VF Plus sal wil sien dat ʼn onafhanklike ondersoek oor hierdie fasiliteite gedoen word, asook die groot bedrae wat daarop spandeer is. “Die kontrakte wat met hierdie plekke aangegaan is, sal ook onafhanklik ondersoek moet word.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Nie Verbaas ·

Plekke is vuil, regering spandeer geld wat hulle nie het nie maar fasiliteite word seker gekies op grond van kleur en wie jy ken. Hoe meer blatant en onbeholpe kan die ANC nog word aangesien hulle alreeds in die oortreffende trap is.

JohanR ·

Sien Patricia de Lille se naam, toe weet ek al klaar hoekom dooie kokkerotte en duiwe in die berig genoem word!

JohanR ·

Ons kan lekker ‘n ou ietsie daar by die skatryk kader gaan leen Jacobus. In die jare wat kom as jy die ou daar langs die vis waters vra hoe hy met ‘n Mercedez G Wagon rivier toe gekom het, sal hy vir jou se hy was net op die regte plek. op die regte tyd toe Covid-19 uitbreek. Wonder of de Lille ook skep?

Johan ·

Ja en ons ander in die akkommodasie bedryf is besig om alles te verloor want ons het nie n BEE vennoot nie of is ne ge-connect nie. Ek kan nie oorvertel hoe ek voel oor die ANC nie want as Christen moet ek almal “lief” he.

marius ·

Dit word in hul kaders se sakke geprop . Die grootste virus is die regeerders self .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.