Regering dreig om te onttrek uit platinumdispuut

Amcu-lede Foto: nowry.co.za

Amcu-lede Foto: nowry.co.za

Die departement van minerale hulpbronne sal uit platinumonderhandelinge onttrek indien die partye nie volgende week ʼn ooreenkoms bereik nie.

“Die mynbase en Amcu sal Maandag weer vergader,” het minister Ngoako Ramatlhodi Saterdag gesê. “Ek gaan Maandag onttrek indien die partye nie ʼn ooreenkoms bereik nie. As hulle nie tot ʼn vergelyk kan kom nie, wens ek Suid-Afrika en hulle sterkte toe.”

Lede van die Association of Mineworkers and Construction Union (Amcu) staak al sedert 23 Januarie by Lonmin, Impala Platinum en Anglo American Platinum. Hulle eis ʼn basiese maandelikse salaris van R12 500. Hulle het die werkgewers se vorige aanbod, dat die werknemers teen Julie 2017 R12 500 sal verdien, verwerp.

Volgens die webwerf Platinum Wage Negotiations wat deur die werkgewers opgestel is, het die maatskappye reeds meer as R21.5 miljard en die werknemers meer as R9.5 miljard in inkomste verloor weens die staking.

Die minister het, net nadat hy as die nuwe minister ingesweer is, ʼn tegniese span saamgestel wat sou poog om die loongeskil op te los. -SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.