‘Regering faal deur eerste inperking nie behoorlik te benut’

Dr. Pieter Groenewald. (Foto: VF Plus)

Die feit dat Suid-Afrika op vlak 3 van die inperking bly te midde van ʼn enorme styging in nuwe gevalle van Covid-19, bewys dat die regering verlede jaar totaal oorreageer het met uiters drakoniese maatreëls wat die ekonomie onnodige skade berokken het.

Tydens die eerste inperkingsperiode is die geleentheid nie benut om die gesondheidstelsel gereed te kry vir ʼn tweede golf nie. “Veldhospitale wat ingerig was, is ontdaan gemaak wel wetende daar kan ʼn volgende golf kom,” het dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier, gesê nadat pres. Cyril Ramaphosa Maandagaand die land toegespreek het.

Gebaseer op die aanbevelings van die nasionale koronavirusbeheerraad het die kabinet besluit om die land op die gewysigde koronavirusvlak 3 te hou. Meeste van die riglyne bly van krag.

“Die uiters strawwe en uitgerekte inperkingstydperk waartydens baie Suid-Afrikaners hul werk en inkomste verloor het, is nie na behore benut om gesondheidsdienste gereed te kry nie,” volgens Groenewald.

“Die ekonomie moet nou weer ly onder die verkeerde besluite en onbevoegdheid van die regering terwyl dit nie bekostig kan word nie. Onsekerheid oor die heropening van skole is teenproduktief en die regering sal vinnig duidelikheid hieroor moet gee.”

Wat die jongste maatreëls betref, is dit volgens Groenewald irrasioneel dat strande steeds gesluit bly terwyl die polisie soveel tyd, energie en geld bestee om enkelinge op strande aan te keer en te vervolg.

“Dit terwyl daar vele gebiede in die land is waar gesondheidsprotokolle hoegenaamd nie nagekom word nie en inperkingsmaatreëls verontagsaam word. Die polisie se energie kan veel eerder hier aangewend word en om gewone misdaad te bestry.”

Dit is eweneens irrasioneel om die alkoholverbod te verleng. Volgens Groenewald slaag die verbod nie in sy doel nie. “Dit skep bloot onwettige handel, verminder staatsinkomste en ontneem baie mense in hierdie bedryf van ʼn lewensbestaan met poste wat tot niet gaan.

“Daar kan hoogstens streng beperkings op die verkoop van alkohol wees, maar ʼn totale verbod doen meer skade as goed.”

Volgens Ramaphosa is 20 miljoen enstofdosisse reeds verseker wat deur die loop van die eerste helfte van die jaar beskikbaar sal wees. In fase 1 sal die entstof beskikbaar gemaak word aan sowat 1,2 miljoen voorstelinie-gesondheidswerkers

Groenewald het gesê dit is onaanvaarbaar dat gevangenes volgens Ramaphosa die middel gaan ontvang voor die gewone publiek wat vir die land se ekonomiese voortbestaan moet sorg. “Die regering het misluk om ʼn entstof vroegtydig te bestel en sy plan vir die uitrol daarvan is grootliks onrealisties.”

Ernst Roets, hoof van beleid en aksie by AfriForum.

AfriForum het in reaksie op Ramaphosa se toespraak gesê dat die regering geen benul het hoe om die Covid-19-krisis te hanteer nie.

“Om die virus te beveg moet mediese oplossings dringend gevind word eerder as om gepoogde politieke oplossings op die samelewing af te dwing,” het Ernst Roets, hoof van beleid en aksie by AfriForum, gesê.

Hy meen AfriForum en Solidariteit se saak teen die regering oor die vooropgestelde monopolie op die aankoop en verspreiding van Covid-19-entstowwe is nou van kardinale belang. Dié organisasies het reeds hul regspan opdrag gegee om ’n saak hieroor voor te berei sodat wanbestuur en korrupsie nie veroorsaak dat mense wat die entstof wil ontvang, verhoed word om dit te kry nie.

Volgens Roets is dit natuurlik nodig om op ’n verantwoordelike manier op die pandemie te reageer, maar die regering se misbruik van die virus om burgers se mees basiese vryhede te beperk, is nie regverdigbaar nie.

“Die president maak dit duidelik dat die regering geen benul het hoe om op die virus te reageer nie. Nou word arbitrêre regulasies op die samelewing afgedwing en oortreders hiervan in hegtenis geneem, terwyl die geld wat vir die bestryding van die virus geoormerk is, in korrupte bedrywighede gesteel word.

“Dit alles, terwyl daar geen bewyse is dat hierdie arbitrêre regulasies die verspreiding van die virus daadwerklik beperk nie. Daar is wel bewyse dat die ekonomiese inperking tot reusewerksverliese en hongersnood lei.”

Van die arbitrêre regulasies waarna Roets verwys, is die blatante rassediskriminasie teen klein- en mediumgrootte sakeondernemings, die regulering van kleredrag en gekookte kos wat vroeër van toepassing was, die feit dat mense gedwing was om kwarantynfasiliteite te gebruik wat nie eens aan basiese standaarde voldoen het nie, asook die sluiting van strande wat tot oorvol winkelsentrums lei.

“Boonop het korrupsie ook tydens die pandemie hoogty gevier en ’n voorlopige ondersoek dui daarop dat ongeveer R10,5 miljard wat vir die verligting van Covid-19 gebruik moes word, wanbestee is,” sê Roets.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Die Wolf ·

Erens is daar n kraan wat jy kan oopdraai en geld kry. Beslis nie by die ATM nie.

Tanniepetoors ·

Hoekom mag of moet daar nog 50 mense toegelaat word by ‘n begrafnis? As die persoon aan Covid oorlede is, behoort daar ‘n verassing te wees, nie ‘n.begrafnis nie, ongeag die kultuur. Daar heers immers volgens die ANC-regering ‘n ramptoestand en volgens ons president is begrafnisse superverspreideringspunte. So, stop dit. Ek het ook vriende verloor agv Covid, maar dood is dood, ons kan hul nie terugbring nie. Begrafnisse is vertoon vir lewendes, nie vir die afgestorwenes nie. “Give flowers to the living”

Charles ·

Alles verloop sover volgens plan, regte en vryhede, wat ookal daarvan oor was word vertrap.

Karel Kobus Kruger ·

Kan jy dit glo. Vir die eerste keer in weke (maande?) sê die VF weer iets. Seker besef daar is n verkiesing oppad. Net so nutteloos soos die ANC, DA en alle ander partye.

Hennie J ·

Liefs berekende en weldeurdagte kommentaar teenoor die daaglikse gekyf deur ander opposisiepartye wat in elk geval niks uitrig nie.

Francois ·

Ten minste praat Pieter Groenewald sense wanneer dit nodig is en blaf nie heeltyd vir die kat in die boom net om in die prentjie te bly nie. As jy hierdie week jou radio vir die eerste keer hierdie jaar aangeskakel het, is jy reg dat hy seker verlede jaar laas iets gesê het….

jzjz05 ·

Ek wonder vir wie Gysbert stem of is hy een van daardie draadsitters is.Gysbert toe se vir ons dan kan daar geoordeel word hoe goed jou party is

Nie Verbaas ·

ANC faal in absoluut alles. Daar is niks wat hulle reg kan doen nie, behalwe plunder.

Jacobus ·

Opsomming van die debakel (wat vroeër ‘n pandemie was). Ons het baie geld beskikbaar gemaak vir plundering. En ons kon 2 miljoen dosisse kry van wat ek glo van uiters bedenklike bronne (China) is.
As goeie burgers sorg ons vir ons nie-teenwoordige werkers en die staat verbrysel ons op soveel maniere. Wat wil die Uberst kabaal hê ons nog moet doen?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.