Regering formeel by VN oor ras verkla

Anton van der Bijl, hoof van regsdienste by Solidariteit en Dirk Hermann, bestuurshoof van die organisasie, by die VN in Switserland. (Foto: Solidariteit)

Die Suid-Afrikaanse regering is vir die eerste keer formeel by die Verenigde Nasies (VN) oor sy rasbeleid verkla.

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, sê die organisasie het Maandag sy klagte ingevolge die Internasionale Konvensie oor die Uitskakeling van Rassediskriminasie (ICERD) by die VN in Genève, Switserland, ingedien oor wat hy die regering se “rasmalheid” noem.

Indien die “historiese” klagte slaag, kan dit die aangesig van die regering se rasbeleid ingrypend en permanent verander.

“Suid-Afrika is die mees rasgereguleerde land in die wêreld. Die regering het rasmal geword. Ras het die hoogste reg geword en dit word selfs verder gevoer as wat internasionale konvensies toelaat. Ons durf nie toelaat dat Suid-Afrika se rasmalheid genormaliseer word nie,” het Hermann uit Genève gesê.

Volgens die organisasie het 300 000 Suid-Afrikaners hul steun aan die klag toegesê, wat dit die grootste internasionale massaklag van sy soort maak.

Hermann sê die Suid-Afrikaanse regering het die Internasionale Konvensie oor die Uitskakeling van Alle Vorme van Rassediskriminasie (ICERD) bekragtig, wat beteken dat plaaslike wetgewing by die konvensie aangepas moet word. Die klag wat vroeër vandag ingedien is, volg ná ʼn lang stryd wat Solidariteit sedert 2016 by die VN oor die Suid-Afrikaanse regering se rassebeleid voer.

Solidariteit het destyds voor die VN se Komitee vir die Uitskakeling van Rassediskriminasie (CERD) verskyn na aanleiding van ʼn skaduverslag wat Solidariteit by dié komitee ingedien het. ʼn Skaduverslag is ʼn kommentaar op die regering se gereelde amptelike verslag wat by die komitee ingedien moet word.

CERD het daarna ʼn aanbeveling gedoen waarin kritiek op die regering se apartheidsrasklassifikasie uitgespreek word. Die Menseregtekommissie (MRK) het daarna ʼn gelykheidsverslag gepubliseer en gesê die regering moet die Wet op Gelyke Indiensneming wysig om in ooreenstemming met die internasionale konvensie te wees. Die regering het egter geweier om die aanbevelings in werking te stel.

Volgens Anton van der Bijl, hoof van regsdienste by Solidariteit, bepaal die ICERD dat daar nie aparte regte vir aparte groepe mag wees nie. CERD en die MRK het kritiek teen die regering se rasklassifikasie en absolute rassebenadering uitgespreek.

“Solidariteit het nou alle interne remedies uitgeput en kan nou ʼn substantiewe klag by CERD indien. ʼn Substantiewe klag is ʼn regsproses en die klag gaan deur ʼn paneel bestaande uit internasionale regskenners aangehoor word. Ons het ʼn baie lang pad gestap, maar is nou in ʼn baie sterk regsposisie,” sê Van der Bijl.

Volgens Solidariteit sal CERD se uitspraak bindend wees op Suid-Afrika en sal Suid-Afrika ingevolge se eie wetgewing, sy wette by internasionale konvensies moet aanpas. Indien Suid-Afrika weier om daaraan uitvoer te gee, kan die konvensies diplomatieke druk op Suid-Afrika plaas.

ʼn Positiewe uitspraak sal Solidariteit ook in ʼn sterk posisie plaas om die aanbevelings deur middel van die Suid-Afrikaanse howe af te dwing en om die regering te dwing om wetgewing te verander.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

31 Kommentare

JohanR ·

BEEEEEEEEEEEEEEEEEEEEEEEEEEEEEEEEEEEEEEEEEEEEEEEE moes al lankal meer weg gedoen gewees het. Dis al 27 van die beleid, en mens wonder nog howveel langer daarmee aanhou sal word. Maar tussen AfriForum en Solidariteit het die ANC oor die kwessie al ‘n lekker paar klappe weg. Nou vir een groot laaste KLAP!

Magda ·

Mooi man, Dankie Solidariteit. Weet sommer dat die klagte sal slaag.

Baardman ·

Well done . Die grondwet van SA bepaal reeds dat SA ‘n demokrasie is wat gegrond is op nierassigheid. Probleem is egter dat die regering hulle nie daaraan steur nie. Hoop die VN kan hulle anders oortuig

Di ·

Hoop van harte julle slaag hiermee. Tyd dat hierdie rassistiese regering in die bek geruk word.

piet ·

Ek hou nie my asem op nie. Die ANC sal se die rasse-diskriminasie van Apartheid het ongelykheid tussen rasse veroorsaak en moet eers reggestel word. Gaan moeilik wees om iets soos BEE om te keer, menigte lande het sisteme in plek waar dit ook toegepas word (natuurlik nie op die skaal soos hier nie) maar nietemin, dis nie ‘n unieke regstellingsbeleid wat totaal en al vreemd is in/vir ander lande nie. En ‘n ander ding – ek wonder watter gewig die opinie van die bevolking as geheel dra. In SA dink ek BEE het baie ondersteuning (ek bedoel, hoekom sal jy dit nie ondersteun as jy swart is nie?).

Dries ·

Ek hou my asem op en bid vir hierdie leiers van ons volk wat hulle bes gee om iets te doen. Dit is verraad om hulle nie te ondersteun nie. Ek hoop nie Solidariteit steur hulle aan die negatiewe Piette nie

piet ·

En swartes bid dat die beleid aanhou sodat hulle lewensstandaard kan verbeter, so wat nou? Ek is realisties, wat kan die VN nou in elk geval eintlik doen? Sanksies – dan ly almal daaronder. Aan die einde van die dag gaan jy maar moet ry as jy nie tevrede is nie, so eenvoudig soos dit. ‘n Klein minderheid gaan nooit weer die hond swaai soos in die verlede nie, dit kan jy maar op jou maag skryf.

Tiptol ·

Dries, ons almal bid. ‘n Realistiese opinie is nie verraad nie.

Cherokee ·

Baie dankie vir ‘n positiewe skrywe, Dries. Ons kan doen sonder pessimisme.

Tiptol ·

Cherokee, jys baie keer pessimisties in jou kommentaar wanneer dit jou pas.

Dries ·

So wat jy dan se Piet is dat Solidariteit hulle tyd mors en daarom ondersteun jy hulle nie. M.a.w ons moet aanvaar dit gaan nie verander nie????

Tiptol ·

Piet, jys absoluut reg oor die ondersteuning vir BEE. Hulle kry daardeur werk wat hul nie voor gekwalifiseer is, of kan doen nie. Anc gaan net almal ignoreer en aangaan. Maar ons mense probeer darem.

Fedup ·

Good. Hope mm will keep us up to date. I truly hope there can and will be something done about this stupid race game.

Althes ·

In Jesus Naam glo ons dat julle sal slaag om hierdie euwel vir eens en altyd uit te roei wat versoening tussen Suid-Afrikaners belemmer omdat die politici rasmal is.

Lourens CFG ·

In die berig word gesê dat hul eers sekere ander stappe moes doen vóór daar strafregtelike stappe gevolg kan word.
Selfde met skei sake (weet nie of vandag nog nie), my pa moes klomp prosesse eers doen vóór hy finaal kon skei.

Dries ·

Hulle is al jare besig met hierdie proses. Andries. Bitter baie werk is al hier ingesit. Daarom moet ons dankbaar wees

Suzette ·

Julle is reg dis nie sommer tjoef tjaf en dinge gebeur nie. Baie werk, konstante evaluering en die moed, wil en vasberadenheid om als deur te druk.

Anel ·

Praat bietjie met gewone, hardwerkende burgers, van alle rasse en dan hoor julle bietjie. Ammal kry nou swaarder onder hierdie diskriminerende wette as voorheen. So kom ons hoop daar spruit iets positiefs uit hierdie besoek.

piet ·

BEE het reeds baie swartes bevoordeel en ‘n toekoms gegee. Ek weet byvoorbeeld nie wanneer laas ek ‘n blanke werker in ‘n supermark gesien het nie, dalk so een of twee wit vrouens so nou en dan.

fransdutoit3 ·

Ons oplossing lê nie by politieke partye wat die groen stoele in die kankerkamers van die parlement vol sit nie maar eerder by buite parlementêre drukgroepe soos Afriforum en Solidariteit… Wel gedaan Solidariteit.. ????

Dries ·

Jy is reg Frans maar as ons geen verteenwoordiging in die parlement het nie sal dit net nog moeiliker gaan. Kom ons gee die VF+ n sterker mandaat asb ou maat. Dries du Toit

Hennie J ·

Wat n dramatiese en brawe poging. Baie dankie en baie geluk. Ek glo dit sal slaag MAAR ek glo nie die klomp rassiste sal hulle daaraan steur nie. Onthou, die geskiedenis het al oor en oor bewys dat hierdie mense net gehoor gee aan die oppergesag van mag.

skurweberg ·

“Rasbeheptheid” is maar net die een kant van die munt, “Materialisme” die ander kant. ‘n Uiters gevaarlike fenomeen en ‘n duidelik gevestigde paradigma wat oor jare in Suid Afrika gegiet is.

casper ·

Absoluut die regte ding om te doen !!
Daar gaan natuurlik niks van kom nie want die “wokes” het oor geneem !!

Danie ·

“diplomatieke druk op Suid-Afrika plaas.”

Asseblief.
Wie van die anc of eff of blm of watookal gaan hulle daaraan steur.
Net soos in afghanistan kan die wereld oe en aa soos hy wil terwyl die gespuis wat in beheer is saam met hul volgelinge maak wat hulle wil.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.