Regering gaan ‘binne dae’ oor geloofsbyeenkomste besluit

Pres. Cyril Ramaphosa. (Foto: Elmond Jiyane/GCIS)

Pres. Cyril Ramaphosa sê die regering gaan “binne dae” ʼn aankondiging doen oor ʼn beroep uit die geloofsgemeenskap dat sommige van die bestaande regulasies oor geloofsbyeenkomste verslap word.

Talle Christene vier dié naweek Paasfees, terwyl die Joodse geloof Pesach en Moslems binnekort die heilige maand van Ramadaan begin. Ramaphosa sê vir die tweede agtereenvolgende jaar vind dié viering te midde van die verwoestende Covid-19-pandemie plaas.

“Dit is verstaanbaar dat die geloofsgemeenskap, ná meer as ʼn jaar onder beperkings rakende geloofsbyeenkomste, gretig is om na ʼn mate van normaliteit terug te keer,” sê Ramaphosa in sy weeklikse nuusbrief.

Ramaphosa sê geloof speel ʼn belangrike rol in die lewe van miljoene Suid-Afrikaners en byeenkomste is ʼn belangrike manier om hul geloof uit te leef. “Om saam te trek vir ʼn geloofsbyeenkoms is ook welkome lafenis in ʼn tydperk van groot ontbering vir enkelinge, families en gemeenskappe.”

Die president sê geloofsgroepe het ʼn belangrike rol gespeel in die land se reaksie op die pandemie en het nie net geestelike vertroosting gebied nie, maar ook die kwesbaarstes versorg, onder meer deur die voorsiening van kos, skuiling en ander maatskaplike dienste.

Ramaphosa sê ter erkenning van die belang wat geloofsbyeenkomste in die lewe van mense speel, het die regering met geloofsgroepe beraadslaag.

“Ek het onlangs ʼn uiters opbouende aanlyn vergadering met leiers van die geloofsgemeenskap gehad. Die leiers verstaan en waardeer die werklike gevaar van ʼn nuwe vlaag Covid-19-infeksies. Sedert die uitbreking van die pandemie het geloofsorganisasies proaktiewe en positiewe maatreëls getref om die verspreiding van die virus onder aanbidders te voorkom,” sê Ramaphosa.

“In die lig van hierdie voorkomingsmaatreëls het verskeie groepe gevra dat sommige van die bestaande regulasies oor die grootte van byeenkomste verslap word, veral terwyl ons voorberei vir Paas- en Ramadaanvieringe.

“Die regering beraadslaag hieroor – asook oor ander kwessies – en sal binne die volgende dae ʼn aankondiging doen.”

Ramaphosa sê op die verskillende inperkingsvlakke het geloofsorganisasies ook beduidende geldelike verliese gely wat hul volhoubaarheid bedreig. Hy sê die regering is vasbeslote om saam met die geloofsgemeenskap te werk om werkbare oplossings te vind.

Hy het egter opnuut benadruk dat openbare gesondheid en veiligheid die grootste prioriteit is.

“Internasionale ondervinding het ons geleer dat ons nie die noodlot moet tart nie. Talle lande het inperkingsmaatreëls verslap net om weer opvlammings te ondervind wat selfs strenger afsonderingsmaatreëls genoodsaak het.”

Ramaphosa het dus ʼn beroep op gelowiges gedoen om innoverende maniere te vind om in hierdie tyd steeds hul geloof uit te leef.

“Groot byeenkomste, geloofs- of ander byeenkomste, het die moontlikheid om die virus te laat versprei, ongeag maatreëls oor sosiale afstandhandhawing en ontsmetting.”

Die president sê miljoene mense gaan hierdie naweek ʼn belangrike datum in hul geloof vier en in ʼn land waar geloofsvryheid heers, moet alle pogings aangewend word om mense toe te laat om dit te doen. Die regte en lewe van mense mag egter nie in die proses op die spel geplaas word nie.

Daar heers in hierdie stadium steeds groot onsekerheid of ʼn verdere beperking op byeenkomste geplaas gaan word, asook oor oorgrensreis en ʼn moontlike hernieude verbod op drankverkope oor die langnaweek.

Daar was nog geen aanduiding oor wanneer Ramaphosa Suid-Afrikaners oor enige wysigings gaan toespreek nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

9 Kommentare

jongste oudste gewildste
Alleen Wolf

Ramapara en kopdoek sal vir ewig en ‘n dag op openbare gesondheid en veiligheid se rug ry om die anc se agendas te bevorder, as hulle toetse sou doen om te bepaal wie alreeds die virus onder lede gehad het sal hulle dalk verstom staan oor hoe ver ons al gevorder het met trop imuniteit, my beskeie mening is dat ‘n groot deel van ons bevolking wat in informele nedersettings bly reeds imuun is en baie ander wat geen simptome openbaar het nie

Neelsie

‘Binne dae’? Daar is nog net 3 dae voor die Paasnaweek!

Neelsie

‘Binne dae’?’. Daar is nog net 3 dae oor voor die aanvang van die Paasnaweek!!

Maggies

As Moria se normale byeenkoms plaasvind, kan ons, onself regmaak vir nog ‘n oplewing en heel moontlik weer strenger maatreëls en verbod op alles.

Elsabe

Gaan dit eintlik oor Moria?