Regering gaan Eskom se skuld oorneem

Minister Enoch Godongwana (Foto: Elmond Jiyane/GCIS)

Die Suid-Afrikaanse regering gaan ʼn “groot gedeelte” van Eskom se R400 miljard‑skuldrekening oorneem.

“Ons het die afgelope dekades miljoene rand bestee om Eskom te ondersteun, sonder om werklik ʼn verbetering in die stabiliteit van elektrisiteit of die finansiële gesondheid van die maatskappy te sien. Die oorneem van skuld, saam met ander hervormings, sal verseker dat Eskom finansieel volhoubaar is,” het Enoch Godongwana, minister van finansies, Woensdag gedurende sy mediumtermyn-begrotingsrede gesê.

Hy sê die spesifieke metode en proses waarvolgens die skuld oorgeneem gaan word, moet nog bepaal word, maar die regering voorsien dat ongeveer ʼn derde tot twee derdes van Eskom se skuld oorgeneem sal word.

“Die skuldoorname sal verseker dat Eskom eerder op kapitaalbeleggings en die prestasie van kragstasies kan fokus, en nie meer afhanklik sal wees van reddingsboeie van die staat af nie.”

Godongwana sê die oordrag van skuld sal onderworpe wees aan streng vereistes waaraan Eskom en alle belanghebbendes sal moet voldoen. “Hierdie vereistes sal gebaseer wees op ʼn onafhanklike hersiening van Eskom se bedrywighede, wat deur die tesourie gelei sal word. Dit sal veral ʼn oorsig van Eskom se kragopwekkingseenhede behels.” Hy sê ook die vereistes sal veral ten doel hê om aandag aan die probleem van agterstallige skuld deur huishoudings en munisipaliteite te gee.

Verdere besonderhede sal tydens die 2023‑begrotingsrede bekendgemaak word.

Ander staatsinstellings

Denel en Transnet kry ook weer elk ʼn reddingsboei van etlike miljarde rand.

Godongwana sê egter alle instellings sal voortaan aan streng vereistes moet voldoen alvorens bykomende befondsing aan hulle uitbetaal word. “Indien hulle nie aan hierdie vereistes voldoen nie, sal hulle nie geld kry nie.

“Hierdie entiteite is veronderstel om onafhanklik te funksioneer, maar ongelukkig sit ons met die nalatenskap van swak leierskap en korrupsie wat hierdie entiteite nog kelder. Wanneer onvoorsiene gebeure soos die onlangse vloede infrastruktuur en bates vernietig, plaas dit die hele ekonomie in gedrang.”

Hy sê die regering het dus geen ander keuse as om in te gryp om hierdie dienste aan die gang te hou nie. Daarom, sê Godongwana, is die regering besig om ʼn spesiale toewysingswetsontwerp voor te lê, ten einde geld aan Transnet, Denel en Sanral te gee. “Hierdie toegewings sal toelaat dat hierdie entiteite hul sakemodelle aanpas en hul langtermyn‑ finansiële volhoubaarheid kan herstel.”

Transnet word gevolglik ʼn bykomende R2,9 miljard toegeken om lokomotiewe wat uit diens is, te herstel. Denel word R3,4 miljard toegeken om onlangse vooruitgang verder te stabiliseer. Hierdie toewysing sal aangevul word deur R1,8 miljard wat ingevorder sal word deur die verkoop van nie-kern-bates.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Di ·

Natuurlik sal julle hulle ondersteun want JULLE het Eskom waar hy nou is deur JULLE korrupsie! Wat jy saai sal jy maai!!!

Jean ·

So julle gaan julle eie skuld betaal?
Dit is wat ek elkemaand doen.

Misky ·

Nee dis nie die regering wat die skuld las gaan dra nie, maar EK en JY, die belastingbetaler.

Suzette ·

Regering??? gmff sê eerder belastingbetalers. Die anc kaders suig hierdie land LEEG!

Henk ·

Ek wil so baie sê maar sal volstaan met dit: As jy geld skend aan ‘n onderneming wat gefaal het sonder om veranderinge aan te bring, gaan daai onderneming net weer faal. Elke SOE is net ‘n bodemlose put.

Oros Soros ·

Die kleptokrate sal erens geld moet kry. Nasionalisering van alle pensioenfondse en voorsieningsfondse deur middel van Onteiening Sonder Vergoeding (OSV)? Hemelhoë inflasie en rentekoerse?

ROELOF ·

Nee kyk hierdie klompie cANCer “ministas” is vrek slim of vrek skelm. Hul weet met volgende verkiesing is hul uit of in tronk, dan sit die nuwe regerende party met hul berge skuld en laste. Net soos ons munisipaliteite wat by hul afgevat is.

Debbie ·

Ja gee die geld en kyk of dit vir die regte doel gebruik word of beland dit dalk in iemand se bank rekening

Dup ·

SA se inwoners word gedwing om miljoene te spandeer ten einde alternatiewe kragbronne te bekom nadat ESKOM in duie gestort het.Wie gaan hulle hiervoor vergoed? Die sogenaamde regering sal veel eerder nog geld laat “verdwyn” alvorens hulle ñ helpende hand sal aanbied.

Pieter ·

En dan wil Eskom ons wat geld moes spandeer op solar beboet met amper R1000 per maand

Lood ·

Weer eens moet die belastingbetaler betaal vir al die diefstal en korrupsie.

Wondermaarnet ·

Die staat kan nie hul eie skuld betaal nie, maar neem eskom skuld oor!

Chris ·

Nou kan hul dit verkoop!! Alles goed beplan!! Nog ‘n staatsbate wat geroof gaan word deur magte agter die skerms. Eers regverdiging skep, en dan kan die “Phoenix” uit die as opstaan!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.