Regering stem in tot mediasie oor rassebeleid

Dirk Hermann by die Internasionale Arbeidsorganisasie (IAO) in Genève. (Foto: Verskaf)

Die regering het ingestem om met Solidariteit te onderhandel oor Suid-Afrika se huidige rassebeleid.

Dit kom nadat die Verenigde Nasies (VN) se Internasionale Arbeidsorganisasie (IAO) aangebied het om ʼn mediasieproses tussen die twee partye te fasiliteer.

Die IAO het onlangs in ʼn skrywe aan Solidariteit gesê dat die regering ingestem het om aan ʼn mediasieproses deel te neem.

Volgens Solidariteit is dit ʼn geskiedkundige gebeurtenis en die eerste keer sedert 1994 dat die regering se rassebeleid op die internasionale verhoog geplaas gaan word.

“Ons gaan aan die mediasieproses deelneem, maar is baie skepties oor die uitkoms daarvan. Die regering het al té veel keer gewys dat hy obsessief is oor ras,” sê dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit.

Solidariteit het ʼn jaar gelede die regering by die IAO gaan verkla. In die klagte is daar aangevoer dat die regering se rassebeleid die IAO se konvensie 111, wat rassediskriminasie verbied, oortree.

Die IAO is ʼn agentskap van die VN en is daarvoor verantwoordelik om internasionale arbeidstandaarde daar te stel. Altesaam 187 lande, insluitende Suid-Afrika, is lede van die IAO.

Die beheerliggaam van die IAO het op sy 344ste sitting in Maart vanjaar verklaar dat Solidariteit se klag teen die regering ontvanklik is. Dit beteken dat die klag op sigwaarde meriete het en aan al die IAO se vereistes vir ʼn klag voldoen. Die klag het dus tot ʼn verhoorfase oorgegaan.

ʼn Mediasieproses gee nou die onderskeie partye die geleentheid om te probeer om ʼn geskil saam op te los. Hoewel Solidariteit lank reeds al ingestem het tot die proses, het die regering nou eers by die besluit gekom.

Luidens die IAO se skrywe het die partye nou ses maande om te poog om die dispuut op te los. Indien hulle nie suksesvol is nie, sal die IAO voortgaan om die saak op verhoor te neem.

“Ons verwag dat die dispuut ná die sesmaandetydperk tot die verhoorfase sal oorgaan. Ons gaan egter voluit aan die mediasie deelneem en sal goeie voorstelle voorlê om ʼn einde te maak aan die regering se obsessie met ras,” sê Hermann.

In die klagte aan IAO wys Solidariteit daarop dat Suid-Afrika se rassebeleid mense weer volgens ras klassifiseer, ʼn permanente karakter het en nie tot regstelling van benadeling lei nie.

Solidariteit het ook ʼn verslag van die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) by die IAO ingedien wat wys dat die regering se rassebeleid ongrondwetlik is en waarin aanbeveel word dat die Wet op Gelyke Indiensneming gewysig moet word. Die regering het skynbaar die MRK se aanbevelings geïgnoreer.

“Hierdie klagte [aan IAO] maak geskiedenis. Tienduisende mense het die klagte ondersteun en dit is danksy hulle dat die regering nou sy rassebeleid op internasionale vlak moet verduidelik,” sê Hermann.

  • Die berig is gewysig sedert dit aanvanklik gepubliseer is – RED

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

30 Kommentare

Herman L ·

Uitstekende werk Solidariteit! Kom ons hoop dit lei tot ‘n positiewe resultaat. Moet egter nie te veel verwag nie.

Althes ·

Wonderwerke by die Here is altyd moontlik. Bid en glo en vertrou

Frank ·

Stel sommer dosiere saam van hoe alles in SA agteruit gegaan het feitlik direk weens die kader ontplooing en rasse diskriminasie sodat dit OOK deel sal vorm van die saak

Republikein in die Wes Kaap ·

Ek het nie veel hoop vir die onderhandelinge nie. Nietemin sterkte. Wat ook al gebeur kan in referendums getoets word en moontlik in SA howe uitgespeel word.

Samuel ·

Ek vertrou nie die regering nie. Teen die tyd dat hierdie saga in die SA howe uitgespeel is, is ons almal al dood. Ja, ek is sinies.

Pieter ·

Samuel, ek is nog nie so oud nie en sekerlik ook nie my kind nie. Hou koers, word stil en doen wat reg is… Die res sal homself sort.

domheks ·

Dankie Solidariteit! Julle doen BAIE meer as ons politieke partye!

Esme ·

Is dit nie ‘n skande dat ‘n mediasie proses nodig is om reg en geregtigheid te laat geskied nie? Die Regering se BBEEE beleid het hierdie land se ondergang bewerkstellig.
Baie sterkte aan Solidariteit en Dirk Hermann.

Lourens ·

Hiervan gaan ook niks kom nie. Die enigste gevolg gaan wees dat hierdie klomp hulle slagoffermentaliteit gaan regverdig, en die VN gaan agteroorbuig om hulle gelyk te gee.

Delia ·

Lourens, ons is positiwiteit en hoop verskuldig aan ons kinders en kleinkinders.
Waar sou ons wees as ons voorouers boedel oorgegee het.
NOOIT

Fanus ·

Amen. Dankie Here. Die draai is oppad en besig om te gebeur

Geert ·

Wel dis beslis n stap in die regte rigting en gee moed. Ons moet vasstaan en ons regte eis. Moet miskien net onthou dat mens jou vryheid vat en nie daarvoor beding nie.

Di ·

Die spul skelms sal wel met ‘n plan vorendag kom om hulle ‘n klomp snert te vertel en wegkom daarmee. Kyk, daar is nie groter skelms as die spul in beheer van die land nie, hulle ken elke trick in die boek

Samuel ·

En ook hoe om die slagoffer mentaliteit oortuigend te speel.

PieterJ ·

Kans is goed anc gaan homself as die onderdrukte voordoen en Solidariteit as rassiste uitmaak wat die arme onskuldige natuurkinders niks gun nie.

Johann ·

WEL GEDAAN Solidariteit hou aan met julle goeie werk julle organisasie gee hoop dat daar wel n toekoms is vir ons in Suid Afrika

Scholtz ·

Elke bietjie help. Met groot bewondering vir Solidariteit se absolute kanniedood-volharding en rateltaaie vasberadenheid.

Nettie ·

Dankie vir elkeen by Solidariteit wat hard gewerk het aan al die papierwerk en voorbereiding en voorleggings. Sterkte, mag julle net van krag tot krag gaan hiermee.

Danie ·

Wees maar katvoet n mens kan nie daardie lot vertrou nie.Wil seker net tydwen.Kyk wat het die ronde tafel ons in die sak gebring.

Althes ·

Ek is trots op julle Solidariteit! Jul stap altyd die ekstra myl en ñ NEE bestaan nie in jul woordeskat nie.
Die regering sal natuurlik argumenteer dat hul die onreg en ongelykheid van die verlede regstel deur op ras te konsentreer.
Maar die harde feite is en kan nie wegredeneer word nie, is dat die ANC verantwoordelik is vir die ongelykheid en die verdieping van ongelykheid teen burgers van SA.
Onder korrupsie, staatskaping, kaderontplooing, vrugtelose uitgawes, wanbestuur, bedrog, burokratiese red tape en BEE tenderpreneurs verarm SA burgers jaarliks.
Nie almal wat wit was/is of ñ boerdery het, is of was ‘priviliged’ nie.
Duisende wit mense (wat die minority etniese groep is) het swaar gekry en was ook vasgevang in armoede en wanhoop sonder geleenthede gedurende apartheid.
Dis tyd dat die verlede afgesluit word en SA vorentoe beweeg.

Swerwer ·

Mooi man. Ongelukkig het ek geen vertroue in die kommuniste nie , en sal die mediasie proses weer op n dooipunt uitloop

Boatsie ·

Positiewe nuus maar die regering het klaar hul ware kleure gewys deur so lank te vat om die IAO te antwoord.
Om hul nou saam.om die tafel te kry is die vlg berg wat geklim moet word en daarna verseker weer kommissies, ondersoeke, ens.die proses net weer langer sal uitrek.
Maar sterkte Dirk aan jou en jou kollegas. Hoop en bid jul kry iets reg.

Bart-Man ·

Moet niks glo wat die regering se in die onderhandelinge nie. Onthou Dingaan. Maak seker die saak kom by die IAO uit. Die wêreld moet weet. En daar kan hulle sien hoe redeneer die Demokratiese Kommuniste.

koos ·

Ek dink bykans dieselfde – oorle vriend Piet Retief sal ook iets te sê gehad het oor die skielike ommeswaai. Vat sommer die video waar die polisieman aangerand word, en die regter malema en sy trawant onskuldig bevind het, saam. Slange met gesplete tonge.

Heinrich ·

Los asb so paar kopieë van die “Kill the Boer” boek daar vir hulle om te lees…

wildtuin ·

Baie dankie Solidariteit vir die wonderlikke werk wat julle vir ons doen. Dis vir my ‘n voorreg om lid van Solidariteit te wees.

Lillian ·

Ag julle mors jul asem. Die regering vertel julle net wat julle wil hoor, verder voel hul vere vir almal behalwe hulself

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.