Regering gebruik ‘uitsteltegnieke’ om grond in KZN te behou

Gemeenskappe in die Melmoth-omgewing probeer sedert 1995 om volle titelregte vir hul grond van die regering te kry. (Foto ter illustrasie: Noah Silliman/Unsplash)

Die DA sê die departement van landbou, landelike ontwikkeling en grondhervorming gebruik “uitsteltegnieke” om gemeenskappe van die Melmoth-omgewing in KwaZulu-Natal te verhoed om volle eienaarskap van hulle grond te verkry.

Dít nadat die kommissie vir grondregte volle titelregte jare gelede reeds aan dié gemeenskappe toegeken het.

“Die DA gaan ’n versoek aan die parlement rig vir ’n gesamentlike verhoor voor die komitees van handel en nywerheid én landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling.

“Dit sal die betrokke gemeenskappe in staat stel om hulle saak en die talle uitdagings rakende die verkryging van sodanige volle titels aan die komitees te kan voorlê,” sê Annette Steyn, die DA se woordvoerder van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling.

Volgens Steyn sal die party ook ’n volledige oudit van alle geld aanvra wat deur die departement aan ’n derde party, wat deur hom aangestel is om as sogenaamde “bewaarders” of “opsigters” oor dié eiendom op te tree, oorbetaal is.

“’n Grondeis in dié omgewing is reeds op 8 Desember 1995 ingedien en bestaan hoofsaaklik uit kommersiële plase in die Melmoth-distrik.

“Die kommissie vir grondregte het volle titelregte aan die betrokke gemeenskappe toegeken, maar ondanks hierdie besluit weier die departement volstrek om dié eiendom oor te dra en word die hofstelsel gebruik om aan te voer dat die departement die regmatige ‘bewaarder’ van die betrokke grond is.”

Maroela Media het vroeër berig dat die DA, Sakeliga en die Vryemarkstigting die ANC en EFF se beplande wysigings van art. 25 van die Grondwet, wat onteiening sonder vergoeding sal toelaat, teenstaan.

Boonop wil die regering as deel van dié wysiging toesien dat howe ingevolge die wet van grondonteieningsake uitgesluit word.

“Dit is duidelik dat die regering vasbeslote is om grond in sy naam geregistreer te hou eerder as om die eiendom aan regmatige gemeenskappe en eienaars oor te dra. Die ANC wil Suid-Afrikaners as permanente huurders van die staat aanhou,” sê Steyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Willem ·

Suid-Afrika val nognal die jare uit die bus uit. Sedert die 1940’s probeer Suid-Afrika elke gediskrediteerde en uitgediende ideologie wat deur die res van die wereld verwerp is, toepas met dieselfde skadelike en negatiewe gevolge wat in die eerste plek tot die verwerping van die betrokke ideologieë gelei het. Volgens die huidige beleid is ons een van die dae terug in die mideleeuse feodale stelsel waar die koning / keiser stukke grond aan sy tjommies toegeken het en genoemde tjommies in weelde geleef het terwyl die res van die burgers in ellende krepeer het. Wonderlike vooruitgang!!

johann ·

Mag die feodale stelsel behoed word. Die feodale stelsel was en is nog al die tyd in swart SA. Ek eweet vir ‘n feit dat die Zoeloe hoofmanne nog onlangs grond aan individue gegee het. Dit is wat hulle al die jare in die donker gehou het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.