Regering gee ‘geen rede’ vir opskort van drankverkope vir tuisgebruik

(Argieffoto: Unsplash)

Die Suid-Afrikaanse Vereniging van Drankhandelsname (Salba) sê hy neem kennis van die regstappe wat Suid-Afrikaanse Brouerye (SAB) teen die regering doen oor die algehele verbod op die verkoop van alkohol wat op 29 Desember in werking getree het.

Die verbod is deel van verskerpte pogings om ʼn tweede vlaag Covid-19-infeksies te stuit.

Die verbod, die derde een sedert een of ander vorm van inperking weens die uitbreking van die nuwe koronavirus in Suid-Afrika aangekondig is, het die bedryf swaar getref.

SAB sê dat enige verbod, met inbegrip van die huidige verbod, “veel verder gaan as wat redelik en nodig is om die verspreiding van die virus te beperk”. Hy glo ook dat die verbod op die verkoop van alkohol verskeie regte wat deur die Grondwet beskerm word, onwettig beperk.

SAB voer aan meer as 165 000 werkers is verlede jaar hul werk kwyt en 100 000 ander is in armoede gedompel. “Ons het gesien hoe groot en klein ondernemings geraak word, miljarde rande aan belasting verlore gegaan het, en daarmee saam die opbloei van onwettige handel en die plundering van drankwinkels.”

SAB sê regstappe is tans sy laaste uitweg om sy werkers, verskaffers, klante en verbruikers te beskerm.

Salba sê egter hoewel hy ook bitter bekommerd is oor die huidige verbod op die verkoop van enige drank, is hy nie deel van SAB se regstappe nie.

“Salba deel die kommer oor die voortgesette styging in die getal Covid-19-gevalle en wil saam met die regering en die res van die samelewing werk om die uitwerking van die pandemie op die gesondheidstelsel te verminder en Covid-19-verwante sterftes tot die minimum te beperk.

“Salba glo daar is steeds ʼn geleentheid vir die regering om sy besluit oor die verbod op alkoholverkope voor 15 Januarie te hersien, soos onderneem deur pres. [Cyril] Ramaphosa in sy laaste Covid-19-toespraak.”

Sibani Mngadi, voorsitter van Salba, sê daar is nie ʼn groter gevaar vir Covid-19-infeksie verbonde daaraan om alkohol vir tuisgebruik te verkoop nie. Volgens hom werk dit nes enige ander kruidenierswinkel.

“Die regering het nie ʼn rede verskaf vir die opskort van verkope vir tuisgebruik nie en daar is nie regverdiging dat die verbod ná die 15 Januarie-hersiening van die huidige afsondering voortgesit moet word nie,” het Sibani gesê.

Hy sê die huidige verbod op alle formele alkoholverkope het net gelei tot ʼn skerp toename in onwettige handel en ʼn gesamentlike verlies aan inkomste vir die regering en bedryf aan ʼn groeiende netwerk dranksmokkelaars.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.