Regering gemaan oor 2022-implementering van NGV

Argieffoto (Foto: StockSnap, Pixabay)

Solidariteit het die adjunk- direkteur-generaal van die departement van gesondheid, dr. Nicholas Crisp, vandag gemaan om duidelikheid te gee oor sy uitlatings dat die eerste fase van die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) teen die einde van 2022 geïmplementeer gaan word. ʼn Aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia) is ingedien om dié inligting te bekom.

“Dit is skrikwekkend dat hoewel ʼn openbaredeelnameproses tans aan die gang is, regeringsamptenare van mening is dat hul planne sonder teenstand deurgevoer sal word. Verder sukkel ek om in te sien hoe dr. Crisp sy woorde kan regverdig in die lig van ʼn grondwetlike mandaat wat ons openbaredeelnameprosesse beskerm,” sê Connie Mulder, hoof van die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI). “Boonop moet daar ook daarop gewys word dat die departement bloot geweier het om na aanleiding van vorige skrywes inligting aan ons te verskaf oor dit wat die departement se eie adjunk- direkteur-generaal in ʼn openbare forum kwytgeraak het.”

Volgens Solidariteit is hy genoodsaak om hierdie stappe te doen en om verdere regsoptrede te oorweeg indien die departement nie aan hierdie Paia-aansoek voldoen nie. Dit is deel van Solidariteit se mandaat om sy lede te beskerm, en wetgewing wat dreig om die gesondheidsektor op sy kop te keer het ʼn direkte impak nie net op hul welstand in die werkplek nie, maar dit het ook ʼn breë impak op die land in die geheel.
Solidariteit wys daarop dat navorsing deur die SNI reeds getoon het dat die voorgestelde NGV hewige teenkanting van gesondheidswerkers en burgers kry.

“Die kern van die probleem wat deur hierdie Paia-aansoek geopper word, is dat daar ʼn deurslaggewende tekort aan inligting is, wat die onsekerheid en teenkanting bloot verhoog. Dit is kenmerkend van die regering en staatsdepartemente om voor te gee of hul uitlatings skadeloos is, maar dit kan nie geduld word wanneer meer as 85% van gesondheidswerkers wat aan die SNI-studie deelgeneem het volslae teenkanting teen die NGV toon nie,” meen Mulder.

“Hierdie tendens om onverantwoordelike uitlatings te maak, spesifiek om te sê dat die NGV teen die einde van die jaar in werking sal tree, en dan te maak asof dit nie is wat jy gesê het nie, is problematies. Dit is problematies omdat die regering nie eers genoeg geld het om die voorgestelde NGV te finansier nie. Dit word nog meer problematies as eenvoudige vrae soos hoe die departement van plan is om dit wel te finansier ook nie beantwoord word nie.”

In skrywes aan Solidariteit dui dr. Crisp aan dat sy departement van mening is dat die NGV steeds voor die parlement dien en dat die departement nie aankondigings kan maak oor implementering voordat die parlementêre prosesse afgehandel is nie. Solidariteit vind dit egter kommerwekkend dat dr. Crisp dan voortgaan om stellings in die openbaar te maak oor die implementering van die NGV, terwyl die departement nie aan vorige Paia-aansoeke voldoen nie.

“Wat die regering besig is om tans te doen is om die openbaredeelname-proses te ondermyn deur nie by sy mandaat van deursigtigheid te hou nie,” voeg Mulder by. “Dit bewys weereens dat die regering nie van plan is om gehoor te gee aan sy landsburgers se wense of om in hul beste belang op te tree nie.

“Blatante magsmisbruik sonder om daargestelde prosedures te volg, is ontoelaatbaar en dreig om ons gesondheidstelsel te erodeer. Indien daar nie gehoor gegee word aan hierdie Paia-aansoek nie, sal Solidariteit nie skroom om die howe te nader en tot litigasie oor te gaan nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Pieter ·

hmmmm hierdie is ‘n geval van boellie. Breek af bo, dan lyk dit of jy bou onder.

4ntj13 ·

Hulle sal aanhou afbreek. Mediese fondse raak al hoe ryker. Die regering wil ook ʼn snytjie van daardie pastei hê, maar hulle weet nie eens hoe om drs en pasiënte se belange voorop te stel nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.