Regering gevra om nie te appelleer oor Strafhof-uitspraak

Internasionale Strafhof in Den Haag. Foto: Asser Institute.

Internasionale Strafhof in Den Haag. Foto: Asser Institute.

Die Suider-Afrikaanse Konferensie van Katolieke Biskoppe (SACBC) het die Suid-Afrikaanse regering Woensdag versoek om nie appèl aan te teken nie teen die Pretoriase hooggeregshofuitspraak wat bevind het dat dit ongrondwetlik en ongeldig sal wees om uit die Internasionale Strafhof te onttrek.

Biskop Gabuza, die voorsitter van die kommissie, het die regering versoek om nie appèl aan te teken nie teen die uitspraak wat die regering opdrag gegee het om sy kennisgewing, om uit die Strafhof te onttrek, terug te trek.

“Die kennisgewing van die onttrekking aan die Verdrag van Rome van die Internasionale Strafhof wat die eerste respondent, die minister van internasionale betrekkinge en samewerking op 19 Oktober 2016 sonder parlementêre goedkeuring ingedien het, is ongrondwetlik en ongeldig,” het adjunk-regterpresident Phineas Mojapelo namens die volbankregters in die hooggeregshof gesê.

“Die eerste, tweede en derde respondente [minister van internasionale betrekkinge en samewerking Maite Nkoana-Mashabane, minister van justisie Michael Masutha en pres. Jacob Zuma] word gevolglik beveel om die kennisgewing van onttrekking terug te roep.”

Gabuza het gesê hulle is tevrede met die hof se uitspraak oor die saak. “Ons benadruk die versoek aan die regering om binne die Strafhof te bly totdat Afrika ʼn doeltreffende streekshof ontwikkel het, met die kapasiteit en wilskrag om rekenskap te eis van alle staatsamptenare en leiers.

Die biskop het gesê in plaas daarvan om nou hulpbronne te spandeer om teen die uitspraak te appelleer, moet die regering eerder die hulpbronne gebruik om “ander Afrika-lande te mobiliseer om te verseker dat ʼn voldoende getal ledestate die Malabo-hofprotokol bekragtig, sodat dit binnekort ʼn Afrika-hof vir geregtigheid en menseregte kan bewerkstellig.

Masutha het verlede jaar aangekondig dat Suid-Afrika begin het om uit die Internasionale Strafhof te onttrek, en gesê Afrika-nasies word bevooroordeel.

Die Demokratiese Alliansie het in Oktober ʼn aansoek ingedien om regstreeks toegang tot die konstitusionele hof te kry om die saak aan te hoor, maar dit is van die hand gewys. Die DA wou die grondwetlike geldigheid toets van die besluit, omdat die party gemeen het die kennisgewing is strydig met die Grondwet. James Selfe, LP en voorsitter van die DA se federale uitvoerende komitee, het gesê die uitspraak het die party se posisie bevestig.

“Die DA verwelkom die uitspraak. Dit is ʼn oorwinning vir die oppergesag van die reg, en vir ons land se menseregte-gerigte buitelandse beleid wat pres. Jacob Zuma en sy handlangers so hard voor gewerk het om daarvan weg te kom,” het Selfe gesê.

Hy het gesê die ANC-regering het nou die geleentheid om te besin oor die onttrekking van die Internasionale Strafhof.

Die departement van justisie het gesê hy het nog nie besluit of hy appèl wil aanteken of nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

AL ·

Om te onttrek uit die Internasionale Strafhof is n teken dat die SA regering meer simpatie gesind is teenoor Afrika diktators wie menseregting skendings pleeg teenoor slagoffers!
Regering moet nie geduld word om belastingverbruikers se geld mors nie! Laat hul die saak los.

Loeis ·

Ja maar… In dieselfde asem vra die biskoppe vir ‘n Afrika strafhof. Al wat mens kan se is “O wee…”.

Laat die regering appel aanteken en die saak (eventueel) in die hoogste hof aangehoor word.

Colleen ·

Mense regte word elke dag in Suid Afrika aklaar geskend deur die land se eie diktator(s). Hulle wil net hul eie basse beskerm.

Jan maak n plan ·

Daar is net twee probleme wat ek met hierdie storie het. Een, die ANC regering steur hulle nie aan enige hofuitspraak nie en twee, die Strafhof doen ook absoluut niks aan Afrika diktators nie. Ek bedoel Mugabe sukkel om te praat so oud is hy maar hy stop nog sy sakke vol. Dis n grap. Hy en sy soort moes al lankal in so hof gedraai het.

Mdp ·

Ek stem saam oor Mugabe! Jy verwoord my mening oor sy pratery 100%!

Bekommerd ·

Ai dit wys jou in wat se BEKWAME hande ons land is. Dat ons eie MINISTERS die Grondwet oortree en dit nie eers weet nie. Ek is bekommerd om te sien hoe die eenogiges lei en foute maak, en dit probeer regverdig en goedpraat of blameer op iemand anders. Tog verheug hierdie saak het nie deurgegaan nie, ek hoop werklik nie hulle doen weer aansoek en begin die proses van vooraf nie, want duidelik wou hulle dit vir ‘n REDE doen, om hulleself te beskerm, en dit bekommer my NOG meer. Wonder wat se planne het hulle vir die land en sy mense sodat hulle van Vervolging gevrywaar kan wees?

Johann ·

Bekommerd, wat my ook vir lank baie bekommerd maak en waaraan ons niks kan doen nie, is die miljarde rande wat Gordhan elke jaar en ook so pas in sy begroting aan die einste departemente toegewys het, maar hulle eenogige departementshoofde, en ander werknemers, is onbevoeg om dit te bestuur.

loggie ·

Hulle sal apeleer want hulle doen dit met belangstingeld . Ek sal graag n studie wou sien oor wat regskoste vir die belangstingbetalers verloop. En hoe dit sekeres veryk

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.