[Video] Regering grootste besoedelaar van water in SA

Julius Kleynhans by een van die mangate wat oorstroom Foto: AfriForum

Julius Kleynhans by een van die mangate wat oorstroom Foto: AfriForum

Die burgerregte-organisasie AfriForum sê volgens die 2013 Groendruppelverslag (2013 GD) is die regering die grootste besoedelaar van water in Suid-Afrika.

“Die regering stort ongeveer 3 642 Ml/dag (miljoen liter per dag) rioolwater wat nie aan veiligheidstandaarde voldoen nie in ons riviere en damme,” het Julius Kleynhans, AfriForum se hoof van omgewingsake, in ‘n verklaring gesê. “Dit beteken 74% van die rioolsuiweringstelsels besoedel ons water onregmatig. Dit is ʼn misdaad.”

AfriForum het ʼn verslag saamgestel wat op die grootste sondaars in elke provinsie fokus en die sneeubaleffek van besoedeling aantoon. “Ons drinkwater word gewoonlik uit ʼn rivier/dam onttrek en deur ʼn munisipaliteit versprei. Die Vaaldam is ʼn goeie voorbeeld van watervoorsiening aan Gauteng se metro’s. Die afvalwater in daardie munisipale gebied moet gesuiwer en teen die vasgestelde standaard vrygestel word om te verseker dat die munisipaliteite wat dit stroomaf gebruik ʼn skoon en gesonde waterstelsel, besproeiingswater en drinkwater het.”

Altesaam 152 waterdiensowerhede in Suid-Afrika lewer riooldienste deur middel van ʼn infrastruktuurnetwerk wat bestaan uit 831 stelsels vir die versameling en suiwering van rioolwater. ʼn Totaal van 4 910 Ml /dag bedryfsvloei word ontvang deur die 831 suiweringstelsels met ʼn gesamentlike hidrouliese ontwerpkapasiteit van ongeveer 5645 Ml/dag. Dit beteken meer as 87% van die bestaande ontwerpkapasiteit word vir die huidige bedryfsvloei benut, wat teoreties beteken dat daar ’n surplus van 13% vir toekomstige aanvraag is. “Hierdie feite kan bevraagteken word omdat baie individuele aanlegte geen surplus het nie en ten volle benut word. Die aantal mangate wat rou riool in stormwaterpype, strome, riviere en damme stort, laat ook kommer ontstaan oor die deursigtigheid en akkuraatheid van die Groendruppelverslag se uitslae, omdat sommige rioolsuiweringsaanlegte waarskynlik nie al die rioolwater in hul diensareas ontvang nie,” het Kleynhans verduidelik.

Grafika: AfriForum

Grafika: AfriForum

“Pers druppels is in 2013 aan 248 stelsels toegeken wat minder as 30% behaal het; hulle het dus die ongewenste status van ‘stelsels in ʼn krisis’. Hierdie 248 ‘pers druppels’, of stelsels in ʼn krisis soos die bestuursopsomming van die 2013 GD daarna verwys, word egter (ongelukkig) nie by die naam genoem nie,” het Kleynhans bygevoeg.

Die Reguleerder is tevrede met die styging van die nasionale telling van 71% in 2011 tot 73,8% in 2013. “Dit klink baie indrukwekkend totdat genoem word dat die Nasionale Groendruppeltelling vir gewig per stelsel bereken word; dit beteken ʼn reuse-aanleg soos die noordelike Johannesburgse aanleg, met ʼn kapasiteit van 450 Ml/dag (Megaliter/dag), wat baie goed presteer, kan baie kleiner aanlegte met vermoëns van 5 tot 10 Ml/dag ‘optrek’,” het hy gesê.

Tans verskaf slegs 25% (230 van die 891) rioolsuiweringsaanlegte inligting oor die gehalte van gesuiwerde rioolwater aan die departement van water en sanitasie (DWS). “Ons glo dit is die skokkende gevolg daarvan dat munisipaliteite nie gemotiveerd is nie, omdat Groendruppelverslae nie gepubliseer word nie en omdat diegene wat nie aan die regulasies voldoen nie, nie tot verantwoording geroep word nie. Dit is duidelik dat die wortel van die probleem daarin lê dat die Reguleerder nie as opsigter optree en besoedelaars aanspreeklik hou nie. Politiek vernietig ons watergehalte; dit hou ernstige risiko’s in vir die ekonomie, gesondheid, omgewing, voedselsekerheid en elke mens in hierdie land.”

Onlangse uitlatings het aangedui dat die minister nie van stryk gebring word deur die besoedeling wat regoor die land plaasvind nie; dit blyk eerder asof hy toepassingsbeamptes opdrag gegee het om agteroor te sit en nie teen munisipaliteite op te tree voor die 2016 munisipale verkiesings nie.

Dit is ook duidelik in die inleiding van die Bloudruppel 2013 Uitvoerende Samevatting dat die DWS nie van voorneme is om teen kriminele munisipale beamptes op te tree nie. “It is not the purpose of this assessment to criminalise poor or high risk drinking water services and water quality, but rather to act as a precautionary tool, warning the Water Services Institutions in the country about the level of risk at which water services and water quality is delivered to the citizens of South Africa.”

Oplossings vir die probleem:
– Die waterreguleerder, DWS, moet strenger optree en verantwoordelik toesig hou oor water om hierdie kritieke en skaars hulpbron sonder enige toegewing te beskerm.
– Die departement van water en sanitasie (DWS) as die water- en sanitasiereguleerder moet gedetailleerde groendruppelverslae vrystel. Sterk regulerende praktyke vereis openheid, deursigtigheid en betrokkenheid van die publiek. Dit sal waarskynlik ʼn vereiste van wêreldwye moniteringsprogramme word.
– Mense wat by wateraanlegte werk, moet behoorlik volgens die regulasies gekwalifiseerd wees om met hierdie kritieke hulpbron te werk.
– Nakoming moet afgedwing word op diegene wat nalatig versuim om te voldoen aan regs- en permitvereistes. Die misdaad van waterbesoedeling en die risiko wat dit op sosiale, ekonomiese en omgewingsgebiede inhou, moet sonder enige toegewings hanteer word. Munisipale amptenare wat nie aan hierdie kritieke wetlike vereistes voldoen nie, moet persoonlik aanspreeklik gehou word, sivielregtelik en strafregtelik.

SMS jou dorp se naam na 45354 en help AfriForum om die volhoubare gebruik en beskerming van ons waterbronne te verseker. (R1/SMS)

Klik hier om die Rioolwaterverslag te lees.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Petra ·

Misdadigers pleeg misdaad en hulle ruineer ons terwyl ons belasting betaal aan hulle. Wat het jy verwag Julius? En wanneer gaan julle regtig iets DOEN daaraan? As elke blanke net n R50 debiet order by julle het kry julle mos n allemintige bedrag in elke maand.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.