Regering gryp in om indringer-kreefspesie te verwyder

Foto: Facebook via Red Swamp Crayfish.

ʼn Reusepoging is onderweg om alle rooimoeraskrewe (red swamp crayfish) in die Vrystaatse Goudveld te verwyder.

Die departement van omgewingsake het Woensdag laat hoor dat hy saam met die Vrystaatse departement van ekonomiese en kleinsake-ontwikkeling, toerisme en omgewingsake asook saam met plaaslike en distriksmunisipaliteite werk om dié spesie uit te roei en die verspreiding daarvan stop te sit.

Dié krewe is uitheems en word as hoogs indringend beskou.

Die departement het gesê dr. Leon Barkhuizen, ʼn akwatiese wetenskaplike, wat gereageer het op ʼn leidraad van die publiek in Welkom, het ʼn groot hoeveelheid van die krewe in ʼn dam in die Goudveld ontdek.

Daar is gerugte dat die krewe gevang en teen R10 elk verkoop word.

Die rooimoeraskreef het al in ander lande natuurlike omgewings binnegedring en onherstelbare skade aan inheemse kreef- en ander spesies sowel as die hidrostelsels aangerig. Die wyfiekrewe kan duisende eiers op ʼn slag dra en die volwassenes grawe tonnels tussen 30 cm en 90 cm wat groot skade aan damme en besproeiingstelsels kan veroorsaak.

Die identifikasie van dié spesie is bevestig deur prof. Linda Basson van die departement van soölogie en entomologie by die Universiteit van die Vrystaat.

“Die rede vir die teenwoordigheid van hierdie uitheemse en hoogs indringende spesie in die dam is nie duidelik nie, maar die anekdotiese verslae dui aan dat die krewe moontlik deur lede van die publiek vrygelaat is,” het die departement gesê.

Varswaterkrewe kom nie natuurlik in Afrika voor nie, maar ʼn groot hoeveelheid van dié spesiesoorte kom in Europa, Amerika en Australië voor.

Die rooimoeraskreef, ook bekend as die Louisiana-kreef, wat in die Goudveld ontdek is, is inheems aan die noordelike dele van Meksiko en die suidoostelike dele van Amerika.

Die spesie het egter al oor die wêreld versprei, grootliks vir hidroboerdery-doeleindes en die troeteldierwinkelmark.

Dit is onwettig om dié krewe in Suid-Afrika aan te hou en permitte vir hul aanhouding mag nie uitgereik word nie. Indien een van die krewe in jou besit gevind word, kan jy ʼn boete van tot R10 miljoen of selfs tronkstraf opgelê word as jy skuldig bevind word.

Die departement het ook laat hoor dat verskeie vergaderings gehou en inspeksies op die toneel gedoen sal word om die omvang van die indringing te bepaal.

Die departement versoek mense wat kennis dra van enigiemand wat dié krewe verkoop om dit aan te meld by dr. Leon Barkhuizen by 083 256 9446 of by Trudell Potgieter by 012 399 9971.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

marous ·

Reuse veldtog om die riool uit die rivierstelsels te verwyder ? Reuse veldtog om Tzaneen dam se wal wat maande half afgebreek staan reg te maak? Reuse velddtog om nie te wag dat sekere landsburgers die gemors moet aanpak en dan later te kom saam dans nie?

ANDRE ·

Dit net laat “val’ dat die krefies voedsaam en baie lekker is , die probleem sal oornag verwyn……..

zoom zoom ·

Mense in hoë kringe wat die staatskas leeg plunder saam met kaders hulle kom niks oor nie.

Johan H. ·

Plaas julle regeringsmense eerder die indringer mense verwyder wat oor ons grense loop,, Waar kan ek van die krewe koop???

Eish ·

Eet? Voedsaam?
Eish! Ek gril my dooi vir die waterkakkerlak!

Vir My Om Te Weet ·

Watse dam is die. Ek soek graag vir my vistenke. Sal hulle self gaan vang. Hulle is nou moes klaar hier so as ek hulle vang en nie import nie is daar mos nou nie n probleem nie.

Akram ·

Ek wonder of die Chinese al ingelig is rakende die voedsame voedselbron?

Noed ·

Daai kreefstertjies is die beste visaas hier aan die weskus. Waar kan ek kry

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.