Regering het jong verkragtingslagoffer gefaal – DA

Zenizole Vena (15) is verlede Woensdag by die Motherwell-polisiestasie dood. (Foto: Facebook)

Die DA het ’n beroep op die Menseregtekommissie gedoen om ondersoek na die hantering en dood van die verkragtingslagoffer Zenizole Vena (15) verlede Woensdag in Gqeberha in te stel.

Die meisie, wat ʼn leerder aan die Woolhope Secondary School in Malabar was, is Saterdag in Motherwell NU-11 begrawe.

Verskeie staatsdepartemente doen reeds ondersoek nadat Zenizole, wat glo deur twee mans verkrag is, na bewering by die Motherwell-kliniek weggewys is om eers ’n saak by die polisiestasie aanhangig te maak. Sy is egter kort daarna dood.

Oscar Mabuyane, Oos-Kaapse premier, het vroeër ook ʼn versoek aan dr. Joe Phaahla, minister van gesondheid, gestuur dat die ombudsman vir gesondheid die voorval ondersoek – spesifiek die optrede van die gesondheidswerkers by die kliniek wat glo versuim het om mediese hulp aan die tiener te bied.

Zenizole Vena (15) is verlede Woensdag by die Motherwell-polisiestasie dood. (Foto: Facebook)

Volgens die polisie se inligting het die meisie haar huis op 17 September verlaat om ʼn geleentheid by haar skool by te woon. Sy het egter nie weer teruggekeer huis toe nie, maar is ook nie by die polisie as vermis aangemeld nie.

Vier dae later, op 21 September, het ʼn 58-jarige vrou Zenizole in die straat opgemerk. Dit het gelyk of die tiener siek is en huil.

Kol. Priscilla Naidu, polisiewoordvoerder, sê Zenizole is na bewering deur twee mans wat aan haar bekend is, verkrag.

“Die vrou het haar na ʼn kliniek geneem, wat hulle na die polisiestasie verwys het. Die vrou en nog ʼn persoon het Zenizole omstreeks 08:00 na die Motherwell-polisiestasie geneem. Die tiener het gehuil en vermoedelik ʼn epileptiese toeval gehad. Sy het ook opgegooi,” het Naidu gesê.

“ʼn Ambulans is onmiddellik ontbied, maar terwyl sy op die ambulans gewag het, het sy glo nog epileptiese toevalle gehad. Met die ambulans se aankoms by die polisiestasie was sy reeds dood.”

Die polisie is besig met ʼn geregtelike doodsondersoek en ondersoek ook ʼn saak van verkragting. Niemand is tot dusver in hegtenis geneem nie.

Zenizole nie ‘unieke geval’

Michele Clarke, die DA se woordvoerder oor gesondheid, sê Zenizole se dood is ongelukkig nie ’n uitsondering met betrekking tot swak dienslewering by openbare hospitale en polisiestasies nie.

Zenizole Vena (15) is verlede Woensdag by die Motherwell-polisiestasie dood. (Foto: Facebook)

“Ons Grondwet maak dit duidelik dat niemand weggewys moet word om mediese sorg te ontvang nie.

“Hoeveel keer gaan Suid-Afrikaners nog deur hierdie regering in die steek gelaat word? Elke moord, verkragting of aanranding op vroue en kinders is een te veel.”

Clarke sê Zenizole se dood kan nie bloot as nog ’n tragedie aanvaar en daargelaat word nie.

“Daar moet daadwerklik opgetree word sodat dieselfde lot geen ander vrou of kind toeval nie.

“Die DA herhaal sy beroep vir beter diens by polisiekantore landwyd deur die verskaffing van voldoende hulpbronne en personeelopleiding – veral aan diegene wat diens ten opsigte van geslagsgebaseerde geweld lewer. Die bespoediging van forensiese en DNS-bewyse wat nodig is vir skuldigbevindings en om te verseker dat slagoffers geregtigheid kry, is ononderhandelbaar.”

Clarke sê verder dat wanneer die waarskynlikheid hoër is dat misdadigers gevang sal word, dit ook as afskrikmiddel sal dien.

“Stelsels om geslagsgebaseerde geweld te voorkom, moet verbeter word en gemeenskapsondersteuningstrategieë moet versterk word – dit sluit opleiding in.

“Slagoffers moet verder toegang tot omvattende en goed gekoördineerde reaksiedienste hê, waaronder toegang tot gesondheidsorgdienste, regsdienste, noodondersteuning (skuiling, huishoudelike toebehore, komberse en matrasse) en ander persoonlike benodigdhede soos sanitêre produkte.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Cindy ·

ai liewe meisie, so jammer dat jou lewe so wreed weg gevat is :( RIV

Sarel ·

Die vraag ook hoekom was sy nie as vermis asngemeld nie.
Wat gaan met die sg. Gesondheiswerkers gebeur????
Dit ‘n Land waar gedurig beloftes gemaak word i.v.m.
die geweldcteen Vrouens & Kinders.
Die geval.moet nie vir Politieke doeleindes gebruik word nie..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.