Regering kan nie maskermandaat wetenskaplik steun

Daar is al hoe meer vrae oor die inligting waarop die regering sy maskermandaat vir Suid-Afrikaners gegrond het. (Foto: Unsplash)

Die regering het hom oënskynlik min gesteur aan versoeke om inligting – oor die wetenskaplike bewyse waarop hy in 2020 Suid-Afrika se maskermandaat gegrond het – te verskaf.

Sakeliga, een van die instellings wat die hooggeregshof vra om die grondwetlikheid van die beplande gesondheidsregulasies te toets, het op 16 Maart vanjaar in ʼn brief aan dr. Joe Phaahla, minister van gesondheid, gevra vir duidelikheid oor die regering se motivering vir die voortgesette afdwing van die maskermandaat.

Sakeliga vra in dié brief vir inligting oor bewyse, studies en riglyne wat Phaahla se openbare stelling – dat daar volop bewyse is dat maskers die verspreiding van Covid-19 verhoed – verder staaf. Die organisasie vra ook tot watter mate die regering die koste en nadele van ʼn openbare maskermandaat ondersoek en verwerp het. Dit sluit in die uitwerking daarvan op onderrig en kommunikasie tussen mense.

Die organisasie sê hy kon geen openbare inligting vind wat wys dat die departement van gesondheid en sy eweknie by samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) – of enige ander departement – die moontlike nadele van gesigmaskers ondersoek het nie.

Soortgelyk was daar geen aanduiding dat die regering of sy raadgewers ondersoek ingestel het na die doeltreffendheid van gesigmaskers of gesigbedekkings nie.

Inteendeel, een van die studies waarop die regering gesteun het, waarsku téén die gebruik van lapmaskers.

“Ongestaafde bewerings deur staatsamptenare of selfs gesondheidsinstellings, is nie voldoende bewyse nie,” lui Sakeliga se brief aan die minister.

Daar word die afgelope paar dae woes bespiegel dat ʼn ophef van Covid-19-regulasies, wat onder meer die dra van ʼn masker in ʼn openbare ruimte verplig, dalk binnekort iets van die verlede sal wees.

Tot dusver is geen amptelike aankondiging egter nog gedoen nie en die bepaling geld steeds.

Verskeie organisasies het hulle reeds tot die hof gewend om die departement van gesondheid se gesondheidsregulasies ongeldig te laat verklaar. Dié regulasies gee die minister van gesondheid byna ongekende magte in die bestuur van Covid-19 en bepaal dat die dra van gesigmaskers steeds in openbare ruimtes verpligtend is.

Vrae oor memorandum

In April 2020 beveel prof. Salim Abdool Karim, in daardie stadium die voorsitter van die ministeriële advieskomitee oor Covid-19, aan dat almal gesigmaskers in die openbaar moet dra. Dié memorandum het klaarblyklik ʼn beduidende rol gespeel in die regering se uiteindelike besluit om die dra van maskers verpligtend te maak.

Dit blyk egter dat die memorandum verskeie akademiese foute bevat.

Een daarvan is ʼn verwysing na ʼn studie wat in Hongkong gedoen is en wat volgens die memorandum bevind het dat die gebruik van gesigmaskers die voorkoms van die koronavirus in uitaseming van Covid-19-pasiënte beduidend verminder.

Die studie is egter tussen 2013 en 2016 gedoen, voor SARS-CoV-2 (die koronavirus wat Covid-19 veroorsaak) kop uitgesteek het. Waar die studie wel na Covid-19 verwys, sê die navorsers in een geval die uitwerking van maskers op Covid-19 is “onseker” en in ʼn ander geval voer hulle aan dat chirurgiese maskers moontlik die koronavirus in groot druppels kan verminder.

Die sinspeling is dat chirurgiese maskers – nie lapmaskers nie – moontlik deur siek mense gebruik kan word om die verspreiding van Covid-19 te verminder. Dit is egter nie spesifiek getoets nie.

Die studie het nooit die doeltreffendheid van lapmaskers ondersoek nie, hoewel die advieskomitee se memorandum dit nie so aandui nie.

Nog ʼn bron waarop gesteun word, is ʼn studie waarin daar spesifiek en duidelik gewaarsku word téén die gebruik van lapmaskers. En hoewel die gesondheidsdepartement se memorandum rofweg daarna verwys – “cloth face-masks may not be as good as surgical masks in the hospital setting”, gaan die gevolgtrekking in die studie eintlik veel verder.

‘n Uittreksel uit die memorandum van die departement van gesondheid.

Dit lui:

This study is the first RCT of cloth masks, and the results caution against the use of cloth masks. This is an important finding to inform occupational health and safety. Moisture retention, reuse of cloth masks and poor filtration may result in increased risk of infection. Further research is needed to inform the widespread use of cloth masks globally. However, as a precautionary measure, cloth masks should not be recommended for HCWs, particularly in high-risk situations, and guidelines need to be updated.

Die navorsers bevind nie net werk lapmaskers nie so goed as chirurgiese maskers nie, daar word teen die gebruik daarvan gewaarsku en noem dat verdere ondersoeke oor lapmaskers spesifiek nodig was.

Sakeliga sê die memorandum bevat ooglopende weglatings, ernstige foute en ʼn bevooroordeelde voorstelling van inligting – en dit vereis ʼn verduideliking van die regering. Daar is tot dusver ook geen openbare inligting opgespoor wat daarop dui dat die regering die nadele óf voordele van ʼn maskermandaat ondersoek het nie.

Die minister het hierop met ʼn dawerende stilte geantwoord.

Sakeliga het sy versoek met ʼn aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia) opgevolg. Daarin vra hy meer inligting oor die mate wat die studie as bron geraadpleeg is, sowel as hoe inligting oorweeg is rakende die regverdiging van ʼn openbare en strafbare maskerverpligting.

Hierop antwoord die departement in Mei vanjaar dat hy nie die inligting kan voorsien nie.

Gerhard van Onselen, ʼn senior ontleder by Sakeliga, sê die manier waarop die regering inligting hanteer het, wek groot kommer.

“Ons versoeke om die kwessies op te klaar is geensins ernstig opgeneem nie.”

  • ʼn Aankondiging oor die verwagte opskort van die regulasies is volgens verskeie bronne op hande.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Swerwer ·

Gaan kykmaar wie dit geskryf het, dit sal al die foute verduidelik.

Sarie ·

Gaan kyk watse lande het almal maskers gedra. En baie nog steeds. En cANCer volg net intruksies om hul eie bas te red

Voilet ·

Talle mense dra nie eers meer maskers nie. Kyk in restaurante..almal sin is af

Asgat ·

As almal net ophou om dit te dra wat gaan die regering kan doen?

Gerhard ·

Ek dra lankal nie meer die masker nie. Hier by ons is daar al verskeie winkels waar die mense wat werk in die winkels nie meer maskers dra nie en gee nie om as ons die winkel sonder masker betree nie.

Harley Davidson ·

Hef dit op of hou dit hierdie is die laaste week wat ek ‘n masker dra punt.

Koos 100 ·

Ek glo dat almal weer in die ANC se grootste strik trap. Kom ons bring weer COVID op dan trek ons die aandag van Cyril af weg! Die ANC doen absoluut niks sonder ‘n alternatiewe agenda nie.

ENFM ·

Nou ook nie asof die regering hul aan enige grondige wetenskap, behalwe “volg die wetenskap”, steur nie..

Johann101 ·

Sedert die opheffing v.d “state of emergency”, is daar geen wetgewing wat die dra van ‘n masker verplig nie…
Ja dit is vervat in die national health act amendment… wat hul so ons wou dwing om te bly maskers dra… Maar daar is niks wat wettig aan jou gedoen kan word as jy nie ‘n masker dra nie… behalwe dat winkel eienaars jou kan verhoed om hul winkels in te gaan… en weier om jou by die till te help…
Van daardie oomblik wat die “state of emergency” opgehef is, het ek ophou masker dra in die mall / winkels… en met almal wat my wou verhoed om in te gaan, in ‘n argument betrokke geraak…
So het ek gesif, wie laat jou toe en wie nie… en nou ondersteun ek net die waar ek instap sonder ‘n masker en probleme…
Ek het baie mense oorreed om ook daardie besighede te ondersteun…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.