Regering kan nie tred hou met ondersoeke oor Prasa nie

Argieffoto

Joe Maswanganyi, minister van vervoer, het Dinsdag gesê daar is soveel ondersoeke deur verskillende diensverskaffers oor korrupsie by die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa), dat die regering nie kan tred hou daarmee nie.

“Daar is soveel ondersoeke, ons weet nie eens wat sommige van hulle besig is om te doen nie,” het Maswanganyi gesê toe hy die parlementêre portefeuljekomitee oor vervoer toegespreek het. Dié komitee moet bewerings van staatskaping by Prasa ondersoek – die staatsbeheerde spoorwegagentskap.

Die minister het nie besonderhede gegee nie, maar gesê verslae deur die nasionale tesourie en privaat prokureurs oor ondersoeke, soos voormalige openbare Thuli Madonsela beveel het nadat voormalige uitvoerende hoof van Prasa Lucky Montana en ander beamptes skuldig bevind is op aanklag van finansiële wanbestuur, is nog uitstaande.

Die aanstelling van Werskmans Attorneys, wat deur die voormalige Prasa-raad aangestel is, het tot ʼn hewige debat gelei tussen die minister, sy kollegas in die ANC en Manny de Freitas, DA-LP.

De Freitas het die aanstelling van Werksmans verdedig, en gesê alhoewel die faktuur vir die prokureurs reeds R148 miljoen beloop, is dit geregverdig, aangesien R2 miljard reeds ingesamel is as gevolg van die ondersoek.

Maswanganyi het dit verwerp. “Hoekom wil jy hê ons moet steeds van die dienste van ʼn maatskappy, wat onreëlmatig aangestel is, gebruik maak? As jy korrupsie wil uitroei, maar jy wil die onreëlmatige aanstelling van ʼn diensverskaffer verdedig, is dit dubbele standaarde.”

ANC-LP’s wou weet of die dienste wel aan pendelaars verskaf word, waarvan duisende op ʼn daaglikse basis gestrand gelaat word weens vertragings of kansellasies, terwyl die beamptes fokus op die ondersoeke.

Maswanganyi het gesê ʼn omdraaiplan is saamgestel en sal aan die parlement voorgelê word.

Prasa is tans in verskeie hofsake gewikkel. ʼn Hooggeregshof het vroeër vanjaar beslis dat ʼn tenderproses vir nuwe lokomotiewe vir Prasa misbruik is ten gunste van Swifambo Rail Leasing – die middelman tussen Prasa en die Spaanse vervaardiger van die treine. Werksmans, namens Prasa, het ʼn brief aan Swifambo uitgereik en die R2,6 miljard teruggeëis. Swifambo het appèl aangeteken teen die uitspraak.

Die voormalige raad het ook die hof genader om die polisie se gespesialiseerde eenheid, die Valke, opdrag te gee om sy ondersoek na korrupsie by Prasa te bespoedig.

Maswanganyi het aan LP’s gesê verslae oor ondersoeke by die nasionale tesourie oor meer as 100 Prasa-kontrakte, wat vermoedelik onreëlmatig is, sal aan die LP’s beskikbaar gemaak word sodra dit beskikbaar is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Hanna ·

So ry die trein, so ry die trein… Suid-Afrika se soustrein!

Johann Marx ·

Net in Suid Afrika: Kommissies word aangestel om kommissies te ondersoek wat aangestel is om regsfirmas te ondersoek wat aangestel is om korrupte ministers te ondersoek wat aangestel is om korrupte werknemers te ondersoek wat aangestel is deur korrupte buitelanders wat ‘n vinger in die pastei gekry het deur ‘n korrupte regerings…..wat AL die bogenoemde kommissies aangestel het, sodat almal wat beskuldig word van iets waarvan hulle reeds skuldig is dan regs-aksies kan begin………….nie om hulle skuldigbevinding teen te staan nie, maar om die “proses” aan te val wat hulle onderduimse onderhandelinge bloot gelê het, maar waarvoor hulle NIE verantwoordelik gehou kan word nie, want die korrupte regering het nog nie die korrupte kommissie se korrupte verslae onder oë gehad nie, maar dit maak nie saak nie, want niks gaan daarvan kom nie……….almal sit net op hulle hope miljoene, en leef soos konings.

Ja hoor ·

Dit is regtig belaglik, hulle het byvoorbeeld destyds toe die treintrokke bestel is GEWEET daar is iets fout, maar hulle het vir mekaar gecover omdat elkeen’n VET kommissie uit die transaksie uit gekry het. ELKE korrupte transaksie moes deur MEER as een persoon aangegaan gewees het. Ek het ook baie jare gelede in die staatsdiens en semi staatsdiens gewerk en daar was omtrent ‘red tape’. Enigiets, selfs ‘n reiseis moes deur DRIE mense onderteken word voordat dit uitbetaal is. Enige aankope moes van drie kwotasies voorsien gewees het en GEEN persoonlike belange mag bestaan het tussen die aankoper en die verkoper nie .. Duidelik is daar NIE net een persoon tydens ‘n transaksie om te blameer nie, almal is in kahoots met mekaar. Die IRONIE is, dit gebeur weer met die volgende spul wat aangestel word en die vorige makkers kom NIKS oor nie, hulle word weer by die SAUK of Eskom aangestel . so stil stil soos hulle alles doen.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.