Regering kan nie wond toedien én dokter nie

(Argieffoto: Thobile Mathonsi/ANA)

Suid-Afrikaners sal moet begin besef dat die private sektor oplossings kan bied tot die gemeenskaplike voordeel van die land. Dít volgens Alida Kok, departementshoof van sosiale wetenskappe by Akademia, in reaksie op Enoch Godongwana, minister van finansies, se eerste volwaardige begrotingsrede gister.

Kok was deel van ʼn paneelbespreking van Akademia oor die begrotingsrede wat ook vir Piet le Roux, hoof van Sakeliga, prof. Waldo Krugell, verbonde aan die Noordwes-Universiteit, en dr. Ferdie Schneider, ʼn belastingkenner, ingesluit het.

Kok het verwys na die brand by die parlement, massiewe probleme met staatsinstellings, astronomiese staatsverval, staatskuld wat sowat 70% van die BBP beloop en borrelende maatskaplike woede, terwyl Suid-Afrika met een van die hoogste werkloosheidskoerse ter wêreld sit.

“Die oplossing vir groei om hierdie probleme gaandeweg te pak, lê by die private sektor wat ruimte vir ontwikkeling kan skep,” sê Kok.

Terwyl die minister dus gate probeer toestop met nog reusetoewysings aan onder meer maatskaplike toelae, moet ʼn besef insink dat “private geld ook tot gemeenskaplike voordeel” kan lei. Kok sê dit is ook belangrik dat voorbeelde hiervan, byvoorbeeld gemeenskappe wat self instandhoudingswerk doen, aan die groot klok gehang word.

“Die regerende party se mag word bedreig as hy nie die sentrale oplosser en leier is nie; ideologies en eties is [die ANC] geweldig sensitief daaroor,” sê Kok.

“Daar is ʼn hervormingsproses wat moet plaasvind. Intussen probeer ʼn mens die gate in die skip toestop sodat die skip nie sink en almal van ons saamneem nie.”

Sy sê groot spanning heers tussen oplossings tussen die private sektor – oftewel die staat se toelating dat die private sektor ʼn rol speel – en oplossings wat deur die staat gelei of gedryf word.

Pres. Cyril Ramaphosa het ook in sy staatsrede daarna verwys dat die private sektor ʼn groter rol in werkskepping moet speel. Maar Kok sê dié rol bly omstrede.

“Veral in die kringe van die ANC en elders is daar die opvatting dat dit gaan lei tot eksklusiwiteit; dat net ʼn klein groep gaan voordeel trek uit hulpbronne en die aanname is dat apartheid by die agterdeur gaan inkom.”

Dít is egter ʼn siening wat verander moet word, sê Kok.

Volgens Le Roux is die faktore wat die ekonomie werklik kniehalter juis beleid soos dié oor swart ekonomiese bemagtiging, regstellende aksie en kwotas wat voorskryf wie ʼn onderneming in diens mag neem, asook valutabeheer.

ʼn Miljoen méér mense as ʼn jaar gelede sit vandag sonder werk en Le Roux sê hy glo nie die sogenaamde spesiale Covid-19-toelaag gaan sommer opgeskort kan word nie.

“Die regering stel toelaes in om ʼn pleister te plak op ʼn probleem wat hy self geskep het.”

Krugell stem saam dat die regering ʼn omgewing vir indiensneming moet skep. “Ons het ʼn baie jong bevolking en hulle gaan moontlik almal toelae-ontvangers word. Dit is ʼn krisis wat wag om te gebeur en voortsleep. Waar begin ʼn mens om daardie strukturele werkloosheid aan te pak?”

Dit lyk boonop of die regering ʼn punt bereik het waar hy toegee dat sommige mense eenvoudig nooit weer gaan werk kry nie, en dat hulle deur die gemeenskap gedra moet word deur die een of ander toelaag, sê hy. Dan word daar gehoop dat die hedendaagse ekonomie vinnig genoeg groei om dít te kan bekostig – maar ook hier is die beleid om dit moontlik te maak, nie reeds ingestel nie.

Hoewel heelwat van die minister se aankondigings in die begroting verwelkom is, is kenners nietemin bekommerd dat ʼn belastingskok in die toekoms kan wag.

Sowat die helfte van die land se bevolking ontvang die een of ander vorm van toelaag, ʼn hopeloos onvolhoubare situasie, waarsku Kok. “Dít is hoekom ons bekommerd is oor wat op die horison wag.

“Daar is onrus wat borrel. Mense voel hulle is geregtig op sekere goed van die staat, want hulle het geen opsie elders nie. Miskien is ʼn deel van die minister se benadering om tyd te wen om dit stap vir stap te pak, maar die borrelende woede kan later weer na vore kom.”

Le Roux sê toelae-ontvangers dra nie by tot ekonomiese produktiwiteit nie.

“Net die private sektor kan indiensneming skep. Die staat wil altyd sy openbarewerkeprogram uitbrei – soos om gras langs die pad te sny.”

Hy het niks teen gras langs die pad sny nie, maar die kontrakte daarvoor word ondoeltreffend opgestel sodat meer mense in diens geneem kan word, eerder as wat dit doeltreffend is, sê Le Roux. Hy bestempel dit uiteindelik dan ook as ʼn vorm van toelaag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
Marius

Kry geld en hoef nie daarvoor te werk nie. Dalk moet ons almal ophou werk en bakhand gaan staan. Dan kry jy mos alles verniet.

Diline

Meeste van hulle WIL NIE werk nie. Hulle kry eerder meer kinders om ‘n kindertoelaag ook te kry. Regering moet kinder toelae wet verander dat slegs 2 kinders per huisgesin toelaag kan kry! Dis die enigste manier om hierdie bevolkingsaanwas wat handuit ruk te stop.

domheks

Wie sal nou wil werk as hulle net kan gaan bakhand staan? Daar moet iets daadwerklik gedoen word, soos byvoorbeeld om die land se paaie te herstel, maar sorry dit is seker te harde werk!

Casper

Kok, as jy wakker word is jou koffie koud.Die privaat sektor moet werk skep met regstellende aksie as maatstaf.Gemeenskappe moet self instandhouding doen,met wie se materiaal,fondse en toerusting.Gaan heffings dan geskrap word.Wat gaan hulle doen met die 14 mense wat een slaggat herstel met “gravel” wat niks beteken nie.Privaat geld kan tot gemeenskaplike voordeel lei,ek stem laat elke gemeenskap sy eie instandhouding doen sonder BEE.Kok jy lewe in ‘n verbeeldings wêreld.As jy iets wil word,word groot.

annie

Ons is nou die bedelstaat wat die vryheidsvegters beoog het. Afrika stroom hierheen want die pad is nie vol duwweltjies soos na Europa of elders nie. ID’s is maklik bekombaar. Die regering is nie gepla oor vreemde burgers wat hul naaste se bestaan bedreig nie. Die plan werk mbv pledges. Ons armes der armes het hulp nodig… En ‘pap +lepels’ reën neer en die VVO verskaf die vliegtuie. Niks gaan verander nie. Net meer van dieselfde: skatryk swartes, brandarm swartes en die glo slegte wittes.