‘Regering laat SA se kinders in die steek’ – DA

(Foto: Mariska Nanni / Maroela Media)

Die Suid-Afrikaanse regering misluk in enige en alle pogings om die land se kinders te beskerm, het die DA Sondag in reaksie op ʼn verdoemende verslag deur die Nelson Mandela-kinderfonds gesê.

Die verslag het ten doel om die welstand van ʼn Suid-Afrikaanse kind te bepaal deur na faktore soos kinderarmoede, gesondheid en voeding, onderrig, huishoudelike omstandighede en veiligheid te kyk.

Die resultate skets egter ʼn donker prentjie en dui onder meer aan dat byna vyf miljoen kinders honger ly.

Maroela Media het Vrydag berig dat pres. Cyril Ramaphosa in die lig van dié verslag by die Menseregtekommissie (MRK) verkla is vir die “sentrale rol” wat hy in dié verwoestende werklikheid gespeel het.

Die DA het ook die woorde van wyle oudpres. Nelson Mandela gebruik om na die ANC te kap en sê dat die regering inderdaad lewe in Mandela se woorde blaas dat ʼn nasie se siel weerspieël word in die wyse waarop hy sy kinders behandel.

“Meer as 27% van kinders jonger as vyf word weens wanvoeding benadeel, wat onomkeerbare fisieke en kognitiewe skade kan veroorsaak. Swanger vroue het nie toegang tot voorgeboortelike ondersteuning nie en daarom word hul kinders se gesondheid in die gedrang gebring selfs voordat hulle gebore word,” het Bridget Masango, die DA se woordvoerder oor sosiale ontwikkeling gesê.

“In 2020 het 10% van kinders in huishoudings gewoon wat aangemeld het dat kinders hongersnood ervaar. Sowat 14% van kinders het behandelbare geestesgesondheidstoestande, maar weens die land se gebrek aan spesialiste en fasiliteite sal hulle dié las waarskynlik vir die res van hul lewens dra.”

Masango sê die ANC het sy bes gedoen om enige programme te vernietig wat ten doel het om kinders in Suid-Afrika te bemagtig, beskerm en ondersteun.

“Die subsidies van nieregeringsorganisasies wat na kinders omsien is gestaak of besnoei, wat baie van dié organisasies gedwing het om te sluit. Skole is dodelik weens puttoilette en dwelmhandel in die omgewing, kos is onbekostigbaar en bendes is aktief op speelterreine. Verder vrees ma’s en versorgers elke dag vir hul lewens.”

Masango sê voorts dat kinders se lewens boonop nog voor hul geboorte bedreig word omdat die regering nie voldoende hulpmiddels en ondersteuning aan ma’s beskikbaar stel wat deur hul omstandighede gedwing word om hul babas op te gee nie.

“Pasgeborenes sterf uiteindelik gruwelik in plastieksakke, onder treinstasiebanke of in puttoilette – hul bloed is aan die ANC-regering se hande.

“Diegene wat hierdie beproewings wel oorleef, word die geleentheid van ʼn liefdevolle en versorgende gesin ontsê, aangesien aanneming- en bevorderingsprosesse voortdurend belemmer word.”

Masango meen dié kinders word eindelik aan ʼn lewe van ellende onderwerp.

Wetgewing in die land, spesifiek die kinderwysigingswetsontwerp wat sedert 2011 hangend is, is volgens die DA ook gebrekkig en nie in die beste belang van Suid-Afrika se mees kwesbare burgers nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

annie ·

Nie om die ANC se ondersteun nie, maar die DA probeer hoogheilig wees maar onder sy bestuur in die Kaap gebeur ook gruwels. Hierdie is ‘n derde wêreldland en mljoene uitlanders stroom sedert 1994 hierheen en plak orals. SA gaan nooit in ‘n Europese land met eerstewêreld-dienste verander nie. Die DA probeer die idee verkoop as sou dié party sulke hoogtes kan bereik.

Daisy ·

As kinders nie betaal word om kinders te he nie, sal daar minder kinders wees
As mense wat dit nie kan bekostig nie om kinders te he nie, ophou om kinders te produseer sal daar minder armoede wees

OU SAAR ·

Dis ongelooflik hartseer.
Ek moes een slag navorsing doen oor tiener swangerskappe…
Tieners van so oud soos 12 jaar word deur hul ouers aangesê of gedwing om swanger te raak net vir die kinder toelae wat die staat betaal.
Mense mag met my verskil, maar in my oppinnie is dit die wortel van die kwaad. Ja, daar is baie ouers wat die toelae reg aanwend en vir hul kinders probeer sorg daarmee. (weet nie hoe ń mens ń kind met daai bietjie geld ń maand kan grootmaak as jy kyk na vandag se pryse nie.)
Baie gevalle is dit die enigste inkomste ook.
My vraag is…
Wat gaan die huidige regering daaraan doen?
Hulle kan nie nou die toelae stop nie, want dan neem jy kos uit kinders se monde wat wel by dit baat. Hierdie probleem is baaaaaaaie groter as wat mense besef…

Wondermaarnet ·

Die mense moet ophou kinders maak en verwag die staat moet vir hulle sorg.

Republikein in die Wes Kaap ·

Die ekonomie moet stewig groei en werk skep sodat werkers goeie salarisse verdien om hul lewensstandaarde te verhoog. Dan sal minder babas gebore word. Die regime beskou babas tans as toekomstige ondersteuners.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.