Regering loop deur oor kwarantyn, grensheining

lobatse

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Verskaf)

Die departement van openbare werke het Maandag behoorlik streepsuiker gekry by parlementslede oor twee skromelike mislukkings in hul bydrae tot die stryd teen die koronavirus.

Die direkteur-generaal van openbare werke, Sam Vukela, het egter skietgoed gegee aan die vele kritici wat hom een van die mees omstrede direkteurs-generaal in die staatsdiens gemaak het.

Dit was trouens die ergste voorbeeld in baie jare van ’n direkteur-generaal wat elke departement behalwe sy eie blameer vir die mislukkings in sy eie pligstaat en van argelose vermorsing van belastingbetalersgeld in ’n land met mensonterende ontbering.

Ter sprake was eerstens die vieslike toestande waarin die staat verskeie Suid-Afrikaners wat uit die buiteland terugkeer, in kwarantyn hou, en tweedens die grensdraad wat teen R37 miljoen opgerig is twintig kilometer weerskante van Beitbrug op die grens met Zimbabwe.

Wat die ontoereikende toestand van die kwarantynsentrum by Groblersdal betref, het Vukela gesê dis alles die regering van Mpumalanga se skuld. Hy het toegegee dat sy departement skriftelik afgeteken het op die standaard van die huisvesting en dat dit deel van hul pligstaat is, maar gesê ʼn mens moet maar nie te veel daarin lees nie; dit was maar net omdat die regulasies dit vereis.

Hy het voorts gesê dit is waar dat ’n groot deel van die mislukking met kwarantyn is dat sy departement eers die dag waarop die vlug land, hoor dat die mense op pad is. Op wenke van LP’s dat ’n poging tot beplanning dalk verdere verleentheid sal spaar, is geen aanduiding gegee dat dit ter harte geneem word nie.

In ’n argelose mededeling waarop LP’s met verstomming en verwerping gereageer het, het die departementele topamptenary gesê elke keer dat die departement – op belastingbetalerskoste – ’n aantal mense, ongeag hoeveel, in ’n hotel onder kwarantyn moet plaas, betaal die departement die volle prys vir elke kamer in die hele hotel, ook elke kamer wat leeg staan.

Die peil van die departementele inset oor die Beitbrug-heining was selfs laer, sodat verskeie parlementslede na die tyd aan Maroela Media gesê het dit was die swakste inset in hul politieke loopbane.

Die departement het elke denkbare regulatoriese beuselagtigheid in ’n lang skriftelike voorlegging gelys, met die kernargument dat alle regulasies wetties nagekom is.

Maar toe die parlementslede vrae stel, was die antwoorde selfs vir deurwinterde parlementêre waarnemers ongehoord.

Die jarelange toestand dat die grensdraad meer in teorie as praktyk bestaan, is gladweg deur Vukela op die departement van landbou geblameer, asof die presiese rede dat hy voor die parlement is, nie presies is dat dit openbare werke se taak is om die heining in stand te hou nie.

Op die DA-LP Tim Brauteseth se vraag hoekom die departement daarna verwys as ’n Covid-19-heining as dit kennelik net ’n gewone grensdraad is, het die kommentaar van die topamptenary ontlok dat dit eintlik niks beteken nie – dis sommer net ’n uitdrukking.

Wat dit beteken vir die wettigheid van die aanwending van R37 miljoen se rampfinansiering wat kragtens wet slegs vir die administrasie van die stryd teen die koronavirus gebruik mag word, het niemand gevra nie. Daar is groeiende regspraak wat die departementele rekenpligtige amptenaar – in hierdie geval die einste direkteur-generaal – persoonlik laat betaal.

Soos dit staan, het 260 mense gewerk aan die heining, wat R4 200 per meter kos en veertig kilometer lank sou wees. Elke tydelike werkershuisie en vloeitabel is trots vertoon.

Maar toe die ACDP se Wilfred Thring uiteindelik die mees basiese vraag vra – het die heining gewerk – het die direkteur-generaal dit eenvoudig geïgnoreer. Wat wel trots vertel is, was dat 40 mense teen volle koste as sekerheidspersoneel in diens geneem is. Dit is een persoon per beboste kilometer.

Wat uiteindelik te veel was vir die minister, Patricia de Lille. In ’n kort maar glashelder inset het sy toegegee dat die heining telkens ophou bestaan het binne ’n dag nadat daardie spesifieke deel opgerig is.

Sy het onthul dat sy die minister van verdediging, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, gevra het dat die heining gepatrolleer word, maar die antwoord was dat die mense net wag dat die soldate effens aanbeweeg, dan verdwyn die heining.

En so is R37 miljoen uitgegee op ’n Covid-19-heining wat nie ’n Covid-19-heining is nie, en wat nie ’n enkele voordeel vir enigiemand ingehou het nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Willem ·

Gustav Venter op Youtube slaan die spyker op die kop: die ANC, sy leiers en sy amptenare is onnosel. Saam met gierig, arrogant en vraatsig verklaar dit al hierdie tipe onsinnighede.

Eerlik ·

Sou die land nooit soveel gekos het as die aanvanklike (top kwaliteit) heining, wat hulle op n skinkbord ontvang het, van dag een af instand gehou was nie. Die onbekwame weermag het ook altyd een of ander verskoning.

Fedup ·

Blame in on the tooth fairy. These people really live in a fairy tale world.

Boortor ·

Ek hoop julle kan onthou wat ek voorspel het! Presies dit wat gebeur het!!

capie ·

Wat kan ons andersdoen as om te lag. Ek sal graag wil weet waar elke sent op die ou einde heengegaan het.

Kokerboom ·

Nuttelose en vrugtelose spandering op projekte deur onbevoegde amptenare insluitend die Minister wat soos gewoonlik geen aanspreeklikheid en verantwoordelikheid aanvaar en geen respek toon vir skaars hulpbronne soos kapitaal.Die DG kader moet summier ontslaan word SONDER enige vergoeding. Hier sal NIKS van kom. Die ANC kan nie regeer

Johan ·

Ag shame hulle moenie lelik wees met hom nie hy het nie die regte kwalifikasies nie en dit is sy oom of tannie se skuld want hulle het vir hom die pos “gereel”. Hierdie is soos om n graad 3 leerder na n hoofde simposium te stuur.

Genis ·

Kyk n mens kan die ANC een eer gee, hulle is oppertunistiese skelms… en hulle sal dit nog ten enige koste vededig ook…

Willie ·

Die hele regering is onbevoeg
Dit is hoogtyd dat hulle vervang word en dit gaan gebeur.

Karlahari ·

n Ander grap van n grensheining is die tussen SA en Lesotho.
Ek wil nie eers spekuleer oor die hoeveelheid mense wat die afgelope 5 weke die “grens” onwettig gekruis het nie.
As boere probeer om grens drade reg te maak verdwyn dit en basotho beeste word op die boere se plase gejaag.
Klagtes van die boere het die volgende reaksie tot gevolg gehad:
“Dit is tyd dat dat die boere terug betaal word”

Kobus ·

Adam het gese dis Eva,Eva het gese dis die slang en so ploeter ons aan.Al gehoor van Drones? Die 70,ooo soldate behoort beter ontplooi te word.Indien hulle effektief onder kundige bevel sou wees was tannie Pat dalk nou ‘n hero.Maar sy raas ook net,sal beter by EFF wees

Oom Hennie Pennie ·

Waar is die opposisie party, hoekom kan hulle nie optree en aankla nie????

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.