Regering maak U-draai oor pluimvee-invoertariewe

Die minister van handel en nywerheid, Ebrahim Patel. (Foto: GCIS)

Ebrahim Patel, minister van handel en nywerheid, het die tydelike pluimvee-invoertarief wat teen vyf sogenaamde probleemlande (Pole, Spanje, Denemarke, Ierland en Brasilië) ingestel is, vir ʼn jaar opgeskort.

Die besluit is Maandag in die Staatskoerant gepubliseer en is uit sommige oorde verwelkom as ʼn aanduiding dat die regering eindelik ook oorweging skenk aan Suid-Afrikaanse verbruikers wat reeds sukkel om kos op die tafel te sit.

Die vereniging van vleisinvoerders en -uitvoerders (AMIE) wat teen die moontlike herinstelling van die tydelike tariewe geskop het, het die regering in April vanjaar gevra om ʼn moratorium op tariewe op ingevoerde hoender te oorweeg in ʼn poging om inflasie te help bekamp.

AMIE het ook gevra dat bestaande tariewe heroorweeg moet word en dat alle hoendersnitte van BTW vrygestel word.

Luidens die aankondiging in die Staatskoerant het Patel stygende kospryse en die uitwerking daarvan op die land se armes in ag geneem. Die moontlike impak van ’n herinstelling van tariewe op die prys van hoender, een van die meer bekostigbare proteïenbronne, is ook in ag geneem.

“Dit is ʼn uitsonderlike uitkoms vir Suid-Afrikaanse verbruikers, want hulle verkeer onder groot finansiële druk. Hoender is die bekostigbaarste, en dus noodsaaklikste, bron van proteïen vir Suid-Afrikaanse verbruikers, veral dié wat onder die broodlyn leef,” sê Paul Matthew, uitvoerende hoof van AMIE.

“Dit wys dat ons regering en spesifiek min. Patel bewus is van die lot van verbruikers en gereed is om dapper stappe te doen om die uitwerking van ongebreidelde inflasie te help versag. Dit is bemoedigend.”

Maroela Media het onlangs berig die jaarlikse verbruikersprysindeks (VPI) het in Junie tot 7,4% toegeneem. Dit is die hoogste sedert Mei 2009 (8%) toe die land se ekonomie die druk van die wêreldwye finansiële krisis gevoel het.

(Foto: Pixabay)

Die hoë inflasie is hoofsaaklik aangedryf deur stygende vervoer- en voedselpryse.

Matthew wys nou daarop dat regerings wêreldwyd invoertariewe verlaag het as ʼn manier om hul landsburgers te help oorleef. Dít terwyl Mexiko, die Filippyne en Suid-Korea tariewe op ingevoerde goedere, ook hoender, verwyder het om die uitwerking van stygende inflasie op landsburgers te beperk en te versag.

Die VSA oorweeg dit tans om sy tariewe op verskeie goedere om dieselfde rede te skrap.

“Die liberalisering van handelsbeleide kan verbruikers help. Die teenoorgestelde is waar van lokalisering en proteksionistiese beleid omdat dit mededinging beperk, wat lei tot ʼn styging in die prys van plaaslike goedere.

“Ons verwelkom die feit dat die regering erken het dat die tydsberekening en omvang van hierdie beleide noukeurig oorweeg moet word en die implementering van tariewe vir 12 maande opgeskort het. Dit wys dat die regering sy burgers eerste stel, en dit is presies hoe dit moet wees.”

Dean Macpherson, die DA se woordvoerder oor handel, nywerheid en mededinging, het ook die aankondiging verwelkom.

Macpherson sê die minister het in Mei tydens ʼn parlementêre debat geweier om toe te gee aan die DA se oproep dat die tarief geskrap word en het dit as ʼn “uiterste stap” bestempel.

“Die feit dat die minister nou so ʼn dramatiese en vernederende omkeer oor hierdie kwessies moes maak, laat die vraag ontstaan oor hoekom hy dit nie twee maande gelede gedoen het, toe ons die saak aangeroer het nie,” sê Macpherson.

Hy sê daar is al hoe meer vrae oor die minister se benadering tot onderskeie meesterplanne vir die bedryf, sowel as voortgesette tariefbeskerming wat duidelik skadelik vir verbruikers is en basiese voedselitems duurder maak.

Hy sê die DA is ten gunste van ʼn meer gebalanseerde benadering waar ondernemings gehelp word om meer mededingend te raak sodat pryse verlaag kan word, eerder as om op die regering vir beskerming aangewese te wees.

“Dit het net ʼn situasie geskep waar produsente wat op die aandelebeurs genoteer is, rekordhoë winste aanteken ten koste van arm Suid-Afrikaners.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Lourens ·

Mik Paul Matthew vir ‘n kabinetspos, met hierdie vleiende opmerkings teenoor hierdie korrupte regering?

Lourens ·

Die handelaars sal eenvoudig hierdie besparing in hulle sakke steek. Verbruikers is mos nou gewoond om die bestaande pryse te betaal.

Cherokee ·

Ek dink ook so. Maar die ander kant van die muntstuk is dat groothandelaars teen mekaar meeding met prysverlagings, en dit kan gebruik word.

Alta Alleman ·

Hoe gesond is hierdie ingevoerde hoendervleis wat vol water gelaai word?

Nommer 7 ·

Alle plaaslike hoendervleis word ook ingespuit met soutwater, anders is die vleis droog en smaakloos, soos ‘n werfhoender s’n.

Nommer 7 ·

Hoop dit gebeur ok met skaapvleis. sodat ons lekker en goedkoper skaap/lam van Australie en Argentinia kan kry.

VaalDonkie ·

Ek stem saam. Hoe kan skaap R50/kg meer as bees wees? ‘n Kalfie vreet meer as ‘n lam. Ek betaal R150/kg vir ‘n halwe lam en dan gooi hulle nog ‘n nier en ‘n klomp sopbene in die pak. En die slaghuis langsaan verkoop Ribeye sonder die been vir R150/kg. Hoe verkoop jy kookvleis en ‘n paar tjoppies vir meer as die beste snit beesvleis?

VaalDonkie ·

Ekskuus, ek sien die slagter wil nou R190/kg vir ribeye he. Hulle kan dit ook maar hou.

Jannie van Niekerk ·

Waarom moet hoendners ingevoer word van daardie lande af as die hoenderboere in Suid Afrika honger ly agv van ‘n onnossel minister?

Herman ·

Alles tot nadeel van die Suid-Afrikaanse Boere wat ‘n sukkelbestaan moet voer teen substandaard ingevoerde produkte bloot omdat die substandaard regering nie sy boerderygemeenskap ondersteun ten einde bekostigbare voedsel op die tafel te sit nie.

Nommer 7 ·

Herman, nee ek dink nie die wereld se hoender produsente produseer substandaard hoenders nie. Ook nie dat invoerders miljoene sal betaal vir substandaard nie. Mense gaan ook nie in rye by Woolies staan om goedkoop substandaard hoender te koop nie.

annie ·

Patel. Hy het al soveel vir ons land, volk en nasie gedoen. Wanneer kry die man bevordering. Dink net aan rubberplakkies uit Indië ingevoer vir die pandemie en kouse daarby uit Indië en samewerking in die vervaardiging van die oorle pes se mnra-entstof met die hulp van Indië en natuurlik ook masjiene om triljoene maskers te maak vir tydens die pes ook uit Indië en nou weer gaan hý bepaal waar en hoe die nasie Eskom kan help met sonligkapers uit… Waar nou weer? Voer ons Indiese kiepies in?

VaalDonkie ·

Ek sou meer simpatie gehad het vir die plaaslike ouens as hulle nie hul hoendervleis vol soutwater spuit nie. “dit hou die vleis langer vars” seg hulle. Al wat dit doen is om my kole nat te maak as ek dit op die rooster sit. En snaaks genoeg hoef die invoerders nie die soutwatertjies te spuit om hul produkte vars te hou nie.

Ek voel natuurlik vir die eerlike ouens wat sukkel omdat goedkoop hoender ingevoer word. Ek sou ook kwaad wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.