Regering mag afsondering afdwing, sê hof

Amper geen motors ry op die N1-hoofweg in Gauteng nie (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Die konstitusionele hof het ‘n poging om die afdwing van algehele afsondering ongrondwetlik te laat verklaar, Maandagoggend van die hand gewys.

Die aansoek is gebring deur ‘n taamlik onbekende menseregte-drukgroep genaamd Hola Bon Renaissance en het onder meer daarop berus dat die tydperk van afsondering ongrondwetlik is, omdat dit die reg op bewegingsvryheid, die reg om handel te dryf, die reg om ‘n beroep te kan kies, en die regte op gesondheidsorg, voedsel en water ondermyn.

Boonop het Hola Bon Renaissance aangevoer die koronavirus hou geen gevaar vir Suid-Afrika in nie.

Die konstitusionele hof het bevind die aansoek het geen kans op sukses nie en het dus geweier om die saak aan te hoor.

Omdat dit ‘n bevinding van die konstitusionele hof is, is daar geen reg op appèl nie.

Prof Christi van der Westhuizen, medeprofessor by die sentrum vir die bevordering van nierassigheid en demokrasie aan die Nelson Mandela-Universiteit in Port Elizabeth, het uitgewys dat bepaalde grondwetlike regte soos die reg op vryheid van beweging, vergadering en spraak wel ingeperk word.

“Laasgenoemde reg word ingeperk deur die verbod op die verspreiding van fopnuus. Ander regte word onregstreeks geaffekteer, byvoorbeeld dat mense se uitoefening van hul godsdiensvryheid tans nie saamtrekke insluit nie,” het sy by navraag aan Maroela Media gesê.

“Geen reg is egter absoluut nie, en moet dus altyd teen ander regte opgeweeg word. In hierdie geval kan die inperking van dié regte regverdig word deur die grondwetlike beskerming van die reg op lewe en op toegang tot gesondheidsdienste, en moontlik ook die reg op ʼn omgewing wat nie skadelik vir die gesondheid is nie.”

Van der Westhuizen het gesê aangesien die aansteeklikheid van die koronavirus noodwendig toegang tot gesondheidsdienste beperk, vereis die staat se pogings om die virus se verspreiding te beperk en die impak op gesondheidsdienste te verlaag, sekere ingrypings in regte.

“Die verwysings na geweld deur die minister van polisie, genl. Bheki Cele, en die minister van verdediging, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, laat die hare egter orent staan en moet Suid-Afrikaners herinner om in hierdie tyd hul regering fyn dop te hou. Alle stappe moet steeds die oppergesag van die reg gehoorsaam,” het Van der Westhuizen afgesluit.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Ansie ·

Is dit nie fopnuus om te beweer dat die koronavirus geen gevaar vir Suid-Afrika inhou nie? Klink vir my na dieselfde soort uitlating wat die persoon op facebook gemaak het en daarvoor in hegtenis geneem en aangekla is.

Anel ·

Ek stem saam. Ek vetstaan mense moennie in groepe bymekaar kom nie, maar om jou in te perk om nie jou daaglikse stappie te gaan stap nie, of draf nie, is verregaande. Die mense in plakkerskampe bly op mekaar, maar dit is niks. Ek mag nie eers my sypaadjie se gras sny die. Dis siek man. As jy nie in die winter siek word nie, is die ksns groot dat jy ook nie nou gasn siek word nie. Jy het ‘n immuniteitstelsel wat werk. Eet gesond, bly fiks en skoon, dan behoort jy gesond te bly. Mense met onderliggende siektes moet hulleself net oppad. Maar om gesonde mense so in te perk en te ontneem van allerhande dinge, is verkeerd.

Dries ·

Dit is reeds aangeteken dat blakend gesonde jong mense ook sterf hieraan.

JC Venter ·

Ek sien hier bo Prof Christi van der Westhuizen is medeprofessor by die sentrum vir die bevordering van nierassigheid en demokrasie. Nierassigheid, vra Piet Croukamp nou een dag, wat presies beteken nierassigheid in ‘n land soos Suid-Afrika? Is dit soos die reënboognasie; ‘n esoteriese hersenskim wat periodies die pynlike werklikhede van ongelykheid, werkloosheid en armoede onder die mat insleep? Is dit moontlik om beduidende steun te werf vir ‘n beleidsregime – of om ‘n verkiesing te wen – in ‘n land soos Suid-Afrika, indien ras as ‘n indikator van ekonomiese welvaart of politieke status geïgnoreer word?

Fedup ·

Ek dink die hola Bon Renaissance se planeet het geskuif. Of gekantel of net sommer omgedop. Shame.

JC Venter ·

hehehehe …. destyds, in die ou dae, het die mense net die woord ‘apartheid’ geken, toe was daar nie ‘n woord soos ‘Staat van inperking’ nie, ook was hulle met die woord ‘episentrum’ onbekend.

In daardie tye was daar ook nie skootrekenaars of tablette en selfone/slimfone nie, wat nog te sê van vesel vir die internet?

Dit was sommer nou die dag.

Het die woorde kaders, korrupsie of staatskaping toe al bestaan?

En die ANC soos ons hom vandag ken was die laaste in ons gedagtes, toe was daar nog nie eens ‘n kodesa nie. Skuus, was is dit?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.