Regering meen sommige SAL-vakbonde tree verkeerd op

(Foto: Maroela Media)

‘n Vertrouensbreuk het tussen die departement van openbare ondernemings en sommige vakbonde met lede in die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) plaasgevind.

Die departement meen daardie vakbonde tree nie in belang van hul lede op nie.

Die minister van openbare ondernemings, Pravin Gordhan, het in ‘n sterk bewoorde verklaring die regering onttrek aan ‘n onderhandelingsforum waarin sy departement met vakbonde en ander SAL-werkersverteenwoordigers geskakel het.

Die jongste moeilikheid het Donderdag begin op ‘n vergadering waar die Nasionale Unie van Metaalwerkers van Suid-Afrika (Numsa), die SAL-loodsevereniging en die SAL-kajuitbemanningsvereniging ‘n aansoek van een van die SAL se skuldeisers, te wete SA Airlink, ondersteun het vir die likwidasie van SAL.

Die departement van openbare ondernemings se voorkeur vir die implementering van ‘n SAL-sakereddingsplan is ondersteun deur die vakbonde Solidariteit, die National Transport Movement, die Suid-Afrikaanse Vervoerwerkersvakbond en die SAL-personeel wat nie aan vakbonde behoort nie.

Dit beteken ‘n nuwe weergawe van die sakereddingsplan moet nou teen 7 Julie daargestel word en die tersaaklike belanghebbendes sal op 14 Julie daaroor stem.

As die sakereddingsplan nie teen 15 Julie aanvaar is nie, sal die SAL na alle waarskynlikheid gelikwideer word, met omvattende gevolge vir SAL-werknemers, waarvan die meeste drie maande laas betaal is.

Voorstanders van die sakereddingsplan voer aan in geval van likwidasie sal alle werknemers hul poste verloor sonder enige waarborg van uitbetaling, omdat die vyf plaaslike banke wat geld aan die SAL geleen het (Rand Aksepbank, Investec, Absa, Nedbank en die Ontwikkelingsbank) eerste sover moontlik vergoed moet word.

In geval van sakeredding gaan 1 000 van die 4 900 werkers poste kry by die nuwe beoogde staatslugdiens, met een week se betaling vir elke jaar gewerk, en ʼn dertiende tjek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

marius ·

Hoe kan hulle so lelik wees met hul maatjies ? Dis erger as rassisme !

Kruger ·

Tot vakbonde besef die ding kannie gered word nie maar die regering bly klou. Hoekom?????

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.