Regering met regsaksie gedreig oor Ivermectin

Argieffoto: Pixabay

Dit gons oor Ivermectin, die sogenaamde wondermiddel teen Covid-19, wat nié vir menslike gebruik deur die beheerliggaam vir gesondheidsprodukte in Suid-Afrika (Sahpra) goedgekeur is nie.

Die middel, wat plaaslik onder die handelsnaam Ivermax bemark word om vee teen parasiete in te spuit, is intussen glo landwyd uitverkoop weens ʼn stormloop deur desperate Suid-Afrikaners wat hoop dat die middel hulle teen Covid-19 kan beskerm as dit per mond ingeneem word.

ʼn Woordvoerder van ʼn onderneming wat diere-entstof aan boere in die Wes-Kaap verskaf en verkies om anoniem te bly het aan Maroela Media gesê navrae oor die beskikbaarheid van die middel word selfs van mediese dokters ontvang. “As ek ʼn houervrag vol Ivermax in voorraad gehad het, sou ek dit binne twee dae kon uitverkoop,” sê sy.

ʼn Veeartspraktyk op die Tuinroete sê hulle word oorval deur navrae van die publiek. “Dis ook nie net inwoners nie, selfs vakansiegangers in stranddrag kom ook uitvind of ons voorraad het,” sê die praktyk se bestuurder. “As ons voorraad gehad het sou ons dit in elk geval nie aan mense mag verkoop het nie.”

Ivermectin vir menslike gebruik is wel in die buiteland in pilvorm beskikbaar waar dit met goeie resultate gebruik word teen tropiese siektes wat deur parasiete veroorsaak word. Dit is egter tans onwettig in Suid-Afrika om die produk in te voer.

Sahpra voer aan op sy webwerf dat daar nog geen bevestigende data beskikbaar is oor die gebruik van Ivermectin teen Covid-19 nie en ook geen bevestigde kliniese bewyse dat dit veilig en doeltreffend is om die gebruik daarvan te regverdig nie.

Ahmed Munzoor Shaik Emam.

“Dis eintlik ironies want die Covax-entstof wat die regering beplan om teen honderde miljoene rande in te voer is ook nie deur Sahpra goedgekeur nie,” sê Ahmed Munzoor Shaik Emam, ʼn NFP-parlementslid en lid van die parlementêre portefeuljekomitee oor gesondheid.

“Daar is nie in Suid-Afrika enige onafhanklike navorsing daaroor gedoen of bewyse verskaf wat bevestig dat die Covax-entstof verdere Covid-19 infeksies sal voorkom nie,” sê Emam in ʼn dringende prokureursbrief wat Sondag onder meer aan die minister van gesondheid, dr. Zweli Mkhize, en Sahpra se uitvoerende hoof, dr. Boitumelo Semete-Makokotela, gestuur is.

“Suid-Afrika vertrou die internasionale resultate en op daardie basis het die Suid-Afrikaanse regering die Covax-entstof aangekoop. Dit is dus nie onredelik of irrasioneel om van die regering te verwag om konsekwent op te tree en die gebruik van Ivermectin teen Covid-19 te oorweeg nie.”

Eman sê hy het betroubaar verneem dat dit sowat R50 miljoen sal kos om Ivermectin te vervaardig en die bevolking van Suid-Afrika daarmee te behandel. Hy het die minister tot Woensdag 6 Januarie gegee om op die brief te reageer waarna hy ʼn dringende aansoek in die hof sal bring om die belanghebbendes te verplig om aandag aan die voorstel te gee.

Eman se prokureur, Subrayan Naidoo, het vroeër aan die media gesê die minister het ontvangs van die brief erken.

Die landbou-organisasie TLU SA sê die regering moet self alternatiewe maatreëls begin ondersoek – soos onder meer die toets van veemedisyne teen die virus. Henry Geldenhuys, president van TLU SA, het die regering gekritiseer oor sy apatiese houding teenoor die gebruik van Ivermectin – ʼn middel wat teen verskeie infeksies en ook in die behandeling van diere gebruik word. Volgens hom is die bewese sukses van die middel teen die virus al wyd gepubliseer.

Dr. Andrew Hill van die Departement Farmakologie aan die Universiteit van Liverpool in Engeland doen tans ʼn meta-analise van die doeltreffendheid van Ivermectin met die behandeling van Covid-19-pasiënte. Die ondersoek word deur die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO) geborg. Hill se resultate dui tot dusver op ʼn baie beduidende afname van 83% in Covid-19-sterftes wanneer Ivermectin aan pasiënte toegedien is.

(Foto: Andres Larravere/AFP)

Ivermectin is in die laat 1960’s deur Satoshi Omura, ʼn Japanse mikrobioloog ontdek wat grondmonsters bymekaar gemaak het om bakterieë te vind  wat moontlik potensiaal het om in medisyne gebruik te word. Hy het dit na die Merck-labaratoium in New Jersey gestuur en een van die kulture was merkwaardig effektief teen parasitiese wurms wat in vee voorkom.

Japan se Kitasato-instituut en die Merck-maatskappy het daarna hul kragte saamgesnoer met Omura in Japan en ʼn Amerikaner William Campbell, 10 000 km verder in die VSA.  Ivermectin is in 1981 kommersieel beskikbaar gestel en het vinnig ʼn uiters gewilde middel in die dieregesondheidsbedryf geword.

As gevolg van sy sukses met die behandeling van dieresiektes was daar versnelde pogings om Ivermectin ook op mense te toets en oor die laaste 30 jaar is sowat drie miljard dosisse van die middel versprei. Dit het ontelbare lewens gered van mense wat met parasiete en wurms besmet was.

Omura en Campbell het in 2015 die Nobelprys vir medisyne en fisiologie vir hul ontdekking van Ivermectin ontvang.

Die middel word saam met penisillien en aspirien beskryf as die geneesmiddels wat die grootste en voordeligste impak op die gesondheid en welstand van die mensdom gehad het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.