‘Regering moenie nou paniek saai nie’

(Foto bloot ter illustrasie: Twitter)

Met die aankondiging van die nuwe B.1.1.529-variant in Suid-Afrika wag talle mense in spanning om te sien hoe die regering daarop gaan reageer en wat dit vir landsburgers en die ekonomie sal inhou.

Verskeie kenners meen egter die regering sal “uiters roekeloos” wees om nou enige oorhaastige besluite, soos strenger inperkings en regulasies, te neem voordat meer wetenskaplike navorsing oor dié variant gedoen word.

Maroela Media het vroeër berig dat pres. Cyril Ramaphosa juis Sondag met die nasionale Covid-19-bevelsraad vergader om die jongste verwikkelinge rakende die pandemie te bespreek.

Dr. Joe Phaahla, minister van gesondheid, het boonop Donderdag gesê die nuwe variant – wat glo in die meeste van die nuwe infeksies in veral Gauteng aangemeld is – bied opnuut uitdagings vir die hervatting van aktiwiteite en sosiale geleenthede. Verskeie lande het ook Vrydag aangekondig dat hulle hul grense vir Suid-Afrika weens die ontdekking van die nuwe variant sluit.

Dít laat menige mense wonder of nóg inperkings of strenger regulasies dalk oor die feestyd aangekondig kan word.

Philip van Staden, die VF Plus se woordvoerder oor gesondheid, sê dis uiters belangrik dat die regering nie nou “onnodig paniek saai” nie.

“Die Covid-19-herstelkoers is tans baie goed en daar is nog heeltemal te min inligting oor die nuwe variant om mense nou op hol te jaag. Dit sal uiters onverantwoordelik wees indien die regering wel nou strenger beperkings instel.”

Van Staden sê indien dit wel gebeur, kan dit selfs tot ʼn verset deur die burgery lei.

“Mense is vuisvoos vir inperkings. Benewens die trefslag wat iets soos ʼn inperking nou op die ekonomie sal hê, sal dit ʼn geweldig negatiewe invloed op die emosionele welstand van gesinne en landsburgers hê.

“Die regering moet nou daarteen waak om politieke besluite ten koste van die ekonomie en menslike welstand te neem, want anders gaan hy hom teen die burgery vasloop.”

Van Staden sê die regering moet hom deur wetenskaplikes en medici laat lei en nie voortydige en oorhaastige besluite neem nie.

Volgens prof. André Duvenhage, politieke ontleder van die Noordwes-Universiteit, is daar glad nie ruimte binne die raamwerk van die ekonomie om nou groot beperkings in te stel nie.

“Daar sal baie rasioneel oor so ʼn besluit nagedink moet word.

“Suid-Afrika se nuwe infeksiesyfers is in dié stadium nog redelik laag en na my mening sal alles afhang van die mediese en wetenskaplike substansie wat verleen kan word aan die gevaar van hierdie variant.”

Duvenhage sê hy voorspel nie in dié stadium dat die regering drastiese besluite sal neem, soos om Suid-Afrika oornag na vlak 4 of 5 te skuif nie.

“ʼn Slegte scenario sal weees dat die land na vlak 2 met bepaalde beperkings geskuif word. Dis egter nog te vroeg om te bespiegel. My gevoel is egter dat dit nie nou ter sprake is nie.

“Só iets sal mense ontsettend sleg tref en ek glo dat dit moontlik tot verset sal kan lei.”

Duvenhage meen die grootste probleem is steeds dat Suid-Afrikaners nie vertroue in die regering het nie.

“Hoe die regering op dié ding gaan reageer, of oorreageer, bekommer mense meer as die virus self.”

Connie Mulder, hoof van die Solidariteit Navorsingsinstituut, stem saam dat dit veels te vroeg is om nou wesenlike besluite te neem, wat boonop reuseskade aan veral die toerismebedryf sal rig.

“Dis onvermydelik dat ons op pad is na ʼn vierde golf, maar daar sal nog baie navorsing oor die nuwe variant gedoen moet word.

“Die regte koers van optrede is om nou eers volledig data in te win oor wat hierdie variant inhou en wat die uitwerking daarvan kan wees voordat enige besluite geneem word,” sê Mulder.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

45 Kommentare

Anoniem ·

TE LAAT, hulle het voortydig, voordat daar enige geloofwaardige wetenskaplike inligting bekend is, die wêreld op hol gejaag en die ekonomie nog ‘n treë nader aan die afgrond gestoot. Met die magsbehepte bevelsraad wat nou boonop Sondag vergader, kan ‘n mens net wonder…

Nie Verbaas ·

Stem 100% saam maar die ou ander klompie sal saam met regering stem.

Wakkerslaper ·

Verstaan jy enige iets van molekulêre biologie? Daar is soveel as 10 mutasies in die geen wat vir die S-protein kodeer. Maw hierdie protein se struktuur kan so verander dat enstowwe en natuurlike immuniteit nie meer die virus herken nie. Daar is goeie rede hoekom wetenskaplikes en mediese eksperts bekommerd is. Maar nou ja, julle “eksperts” het mos al die antwoorde….

Wakkerslaper ·

Verstaan jy enige iets van molekulêre biologie? Daar is tot 10 mutasies in die geen wat vir die S-proteïen kodeer. Die proteïen se struktuur kan dus verander wat dit onherkenbaar maak vir teenliggame, die virus kan dus van voor af siekte veroorsaak, of jy nou geënt is of COVID gehad het of nie. Word wakker en sien die feite!

Althes ·

Ek hoop regtig nie ons gaan terug na strenger inperking nie, dit gaan die ekonomie breek. Veral in die lug dat daar reisbeperkings teen SA is.

Pietertjie ·

Als verloop volgens plan: die huidige ekonomie word wêreldwyd vernietig, om plek te maak vir ‘n nuwe Sosialistiese internasionale bestel. En daarmee saam word die wêreld bevolking ook verklein. En die massas loop saam, soos ‘n klomp skape wat ter slagting gelei word. Die Covid-pandemie werk soos ‘n droom…

Piet parys ·

Die regering saai nie paniek nie . Dis hulle wat paniekerig is en nie weet wat om te doen nie. Die beet resep minister sal seker met hoogs intiligente idees volgens haar voorstel.

Heinrich ·

Wag gou, waar is my booster shot, die eerste twee is nou useless…

Annelize ·

Wil al die lande graag dat mense wat vakansie gaan hou dit in hulle eie lande doen. Alles gaan oor geld. Hoekom word Botswanna nie eerste op lys gesit.

Charmain ·

Southern African countries is on the list….nie net SA nie….From midday Friday 26 November, South Africa, Botswana, Lesotho, Eswatini, Zimbabwe and Namibia will be added to the UK’s travel red list

Jannie van Niekerk ·

Daar gaan wel mense dood aan die virus en dit is erg, Trouens, van my eie naby familielede was slagoffers van die Corona virus. Wat egter erger is, is die skade wat dit aan die ekonomie aanrig indien daar na ‘n hoër vlak van inperking gegaan sou word. 100 000 sterftes uit ‘n bevolking van 58miljoen klink baie,erg maar 20 miljoen werkloses agv van hoër inperking uit ‘n bevolking van 58 miljoen klink heelwat erger. En elkeen van daardie werkloses het ten minste twee tot drie afhanklikes. Ons moet ons eers oor die ekonomie bekommer en dan oor die lewensverlies agv Covid. –

Roebs ·

Al die inentings is dan mos verniet? Hier gaan mense weer hulle werk verloor, besighede maak toe mense is weer ‘n Kersfees sonder geliefdes….

piet ·

Dis juis omdat ons mense so traag is om in te ent dat ons nou weer in so ‘n posisie sit. 20% van die bevolking is maar nou eers volledig ingeent. Lae inientingskoers = groter kans vir nuwe variante om uit te spring.

Vlooitjie ·

Nope en die feit dat ek data van PANDA hier probeer deurgee en ook links na info wat juis daarop dui, wat nie geplaas word nie sê alles. Die blote gedagte dat daar ‘n ander kant aan die storie oor Covid die inentings en die pandemie is, is vir meeste mense net te groot om te glo. En voor iemand wéér sê “ja wag maar tot iemand naby aan jou siek word of dood is aan covid”, ek het daai themp ook. Daar is ALTYD 2 kante aan ‘n storie en ek is nie aanvallend teenoor die wat glo in die goed nie ek sê bloot daar is ‘n anderkant ook en nie als wat opgedis word is sonder voorbedagte rade en leuns nie. Mens MOET albei kante van die ding bekyk.

Pietvdpaarl ·

WGO is oom cyril se baas. Hy gaan haal geld daar en moet na hul pype dans. Ons land wat deesdae maar min kan uitrig itv ontwikkeling, muteer wraggies twee variante. Te dik vir ‘n daalder sou ek sê.

piet ·

Dit lyk of die res van die wereld die panieksaaiers is. Sover ek weet het ons regering nog niks gese nie.

SlinkseKoljander ·

Die regering maak geld uit die inperkings, natuurlik gaan hulle dit weer instel.
Koop maar jou drank en vergeet van rondreis en strand toe gaan oor Kersfees en nuwejaar.

Thom ·

Verduidelik aub hoe die regering geldmaak uit die inperkings ___ ons leer graag .

piet ·

Hoe werk jy dit uit dat die regering geld maak uit die inperkings? Help ons bietjie deur te verduidelik.

RB ·

As die regering vertrou kon word, was dit ‘n heel ander storie. Maar nie ‘n enkele een hier betrokke, kan vertrou word nie. Wys my èèn minister of lid van die sg bevelsraad wat suiwer optree en besluite neem in belang van die burgers, dan wys ek jou die tandemuis.

Desember 2020 het dr. Maria vd Kerkhowe SA bedank vir hul samewerking om nog variante te kweek, wat toe in SA en UK ‘opduik’. Lees maar self die transkripsie van ‘n baie lang media-onderhoud.
Waarom variante kweek van iets wat klaarblyklik nie onder beheer is nie en steeds die wêreld se mees briljante wetenskaplikes ore aansit?
Die WHO kan nèt so min vertrou word as die regering òf die sogenaamde entstof.
Hulle aand en more stories klop net nie.

Jacobus ·

Die antwoord is eenvoudig – daar word vir een of ander duistere rede die maghebbers vergoed vir dié grendel tye. Die biljoene rol in vervaardigers van entstof en die voorgestelde NGV gaan ‘n groot poel grypgeld skep. Glo dit – wag en kyk!

Johanncb ·

Hoekom is ons nie die afgelope dae van die nuwe variant ingelig nie? Hoekom nou skielik so oordonderend? Dit sál mos paniek saai! Ons is moeg vir ‘n sogenaamde onbesonne, onbeholpe Regering wat géén kennis van probleemhantering het nie, vergeet van krisishantering!

annie ·

Het hierdie variant werklik in Suidelike Afrika begin of is dit eerste hier opgespoor aangesien dit ook reeds elders gevind is, bv België en Israel. Toetse wêreldwyd mag dalk ons verras of wil ons graag belangrik voel? Hoekom is daar nie variante vir vigs en ebola nie wat ook corona-virusse is? Indien net covid-19 hierdie eienskap het, is dit moontlik tog laboratorium-gekweek.

Johan ·

Los net die medici uit die besluite, hul is die groot sondebokke wat die geld daaruit maak.

Bennie ·

Ek dink ons is seker die enigste land wat in die winter en somer inperkings het..wat n flippen grap

piet ·

Die mense in hierdie land gaan nog lang trane huil omdat hier so baie ongehoorsame oningeentes is.

Pietertjie ·

Die hele pandemie ding werk met paniek. Dit het begin met die kurwe wat moet afplat anders gaan die hospitale oorstroom of iets. Paniek.

Esme ·

Sal dit nie ‘n blye dag wees, as elke Feesgety nie gekenmerk word, deur variante van ‘n plandemie wat om ‘n vaksien gekonstruktueer is nie. Ek het verlede jaar op die 23ste Desember in die hospitaal opgeeindig en ek glo steeds dat die verkeerde mediese protokol gevolg word in die behandeling van die pandemie. Ek is nie medies gekwalifiseer nie, maar ek het geleer, dat vroee diagnose en aggressiewe behandeling steeds die wenresep na volkome herstel is.

Vicky ·

Wat bedoel jy met vroèè diagnose en aggresiewe behandeling? Party mense wys geen simptome nie,gaan slaap en raak dodelik siek wakker. Gee dan in informative vporstel hoè hulle moet pro-aktief wees asb.

Ria ·

Ek wil nou die reh hê om vir myself te besluit hoe ek met hierdie gemors wil voortleef. Ek sal die risiko neem em die gevolge dra

piet ·

Dan wag daar nog inperkings op jou en ons almal. Geen inenting = baie inperkings. Ons dra almal die gevolge .

Chris ·

Niemand glo my wanneer ek sê dat Afrika stadig maar seker weer in die proses van kolonialisasie is nie. Dit is voor die hand liggend. Die Bleekbene sê hulle onttrek hul onderdane so spoedig as moontlik uit oa Suid Afrika en plaas ons sommer weer ook op die rooi lys. Wat doen die regime? Net wat die Bleekbene wil hê ons moet doen. Stel/dwing strenger maatreëls op die mense af met erge finansieële implikasies vir die land. Die kwieen se lakeie sê spring en ons vra hoe hoog.

Charmain ·

Dit is interessant dat n “nuwe” variant elke jaar net voor die feesseisoen “geïdentifiseer” word. Die hele wêreld gaan dan in lockdown en geen Christusfees kan gehou word nie….

Jannie van Niekerk ·

Ek wonder al lankal daaroor. Die ANtiChris beheer mos alles om gelowiges te kortwiek.

Shakespeare ·

Paniek saai ??? Die regering saai al paniek vir 27 jaar…..net jammer die onnosele stemvee kan dit nie raaksien nie. VIVA AFRIKA.

Karina ·

As drank, sigarette weer verbied gaan word, gaan gebeur wat verlede jaar gebeur het, veral in die ‘township’s – daar gaan weer by drankwinkels ingebreek word, vernietiging, diefstal, plundering is die voorland vir die bedryf. Ek wens die mense in die bedryf sterkte toe, julle gaan swaar gestraf word en vernietig word !

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.