Regering moet myne vasvat oor besoedeling – hof

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Ella Ivanescu/Unsplash)

Die hooggeregshof in Pretoria het die regering beveel om lugbesoedeling in Mpumalanga hok te slaan, nadat ʼn omgewingsorganisasie dié provinsie as een van die wêreld se mees besoedelde gebiede bestempel het.

Die regering het nou ʼn jaar om sy lugbestuurplan vir dié streek, waar talle steenkoolmyne bedryf word, in te stel.

Die plaaslike omgewingsgroepe, groundWork en Vukani, het die regering reeds in 2019 hof toe gesleep omdat die organisasies oortuig is dat burgers se grondwetlike reg om skoon lug in te asem, geskend word.

Die hof het verlede week ten gunste van die organisasies beslis en meen dat die huidige praktyke in Mpumalanga “teenstrydig is met inwoners se grondwetlike reg op ʼn omgewing wat nie skadelik is vir hul gesondheid en welstand nie”.

Mpumalanga is die middelpunt van die land se steenkoolbedryf en spog met 12 steenkoolaanlegte.

Volgens die omgewingsorganisasie Greenpeace veroorsaak die aanlegte egter dat daar rekordvlakke van stikstofdioksied in die lug vrygelaat word.

Blootstelling aan giftige stowwe en materiale wat deur steenkoolaanlegte vrygestel word, waaronder swaeldioksied, kwik en fyn deeltjies, het tot ʼn “epidemie” van asma, brongitis en longkanker in die gebied gelei, sê die organisasies.

Volgens ʼn studie deur ʼn Amerikaanse atmosferiese wetenskaplike, Andy Gray, het lugbesoedeling in 2016 in die streek tussen 305 en 650 voortydige sterftes veroorsaak.

“Die Suid-Afrikaanse regering is verplig om op te tree om die oortreding wat deur die hooggeregshof verklaar is, reg te stel,” het Tim Lloyd, die omgewingsgroepe se prokureur, aan AFP gesê.

Die departement van omgewing, bosbou en visserye het reeds in 2012 ʼn lugbestuurplan uitgereik, maar nooit die plan ingestel nie.

Die hof het beveel dat die regering nou ʼn jaar het om hierdie plan in werking te stel in ʼn poging om die lugbesoedelingvlakke te verminder.

Luidens die uitspraak het “die minister die voorbereiding om die plan in werking te stel onredelik vertraag”.

Die departement sê hy sal die uitspraak bestuur, maar het geen verdere besonderhede oor die pad vorentoe gegee nie.

Sowat 80% van Suid-Afrika se elektrisiteit word deur steenkool opgewek. Die regering het tydens verlede jaar se klimaatkonferensie in Glasgow, Skotland, $8,5 miljard (meer as R12,5 miljard) se lenings en toelaes ontvang, ten einde die land te help om meer omgewingsvriendelike maniere van kragopwekking daar te stel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Swerwer ·

Wat het van die meer as R12,5 miljard rand se lenings en toelaes geword om ten einde die land te help om meer omgewingsvriendelike maniere van kragopwekking daar te stel. Lagwekkend om te dink dat die sogenaamde regering dink al die snert wat hul kwytraak geglo word.

domheks ·

Moenie oor die geld praat nie! Kader het lankal vingers in koekblikkie gehad! Nou is dit weer KORRUPSIE van die kaders!

Jacobus ·

Hierdie is ‘n probleem van geloofwaardigheid.
Daar daag 600 celebs met koolstof spuwende “private jets” by die genoemde COP konferensie in Glasgow. Hulle deel aalmoese uit aan bakhand politici. Hulle gewetens word gesus en dwing toegewings af by gretige politici – toegewings en voorwaardes waarvan ons nie mag weet nie. Agendas wat wynig te doen het met die omgewing. $$$$$$$

Mariana ·

Die hele wêreld en sy maat kan vir die regering geld gee maar niks gaan met of word ooit met daardie geld gedoen nie. Weet nie hoekom hulle nog enigsins geld gee nie, vermorsing. Hoekom word hulle nog steeds ‘n jaar gegee om reg te maak?. Waarheen is die geld nou?Steeds gaan niks gebeur nie.

Di ·

Daardie geld is LANKAL weg! Jy kan hierdie korrupte regering nie eers met 1 sent vertrou nie, hulle is soos aasvoels

Pieterbusa ·

Die illustrasie foto is ‘n kragstasie, en nie ‘n steenkoolmyn soos berig nie. Alhoewel die steenkool deur kragstasies gebruik word, die berig gaan oor die Steenkool myne.

Hendrik ·

Ek dink die kern van die saak is op besoedeling. Myne en/of kragstasies, almal is ewe skuldig. (Eskom se wêreldklas lugsuiweringslaboratoriums funksioneer nie meer nie)…

marius ·

Kan nie eers die strooi uit die water hou nie . Wat nog van lug besoedeling ? Gaan seker een miljoen waaiers by ‘n kader koop . Dis die realiteit .

Julius ·

Sit al sreenkool kragstasie af dan is die probleem opgelos.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.