Regering moet nóú sê oor verpligte inenting – Salba

(Argieffoto: Yutacar/Unsplash)

Die Suid-Afrikaanse drankhandelsnaamvereniging (Salba) is ten gunste van inenting teen Covid-19 en wil so gou moontlik duidelikheid hê rakende die veelbesproke moontlikheid van verpligte inenting vir werknemers.

Die vereniging het Woensdag ’n beroep op die regering gedoen om vinnig standpunt in te neem oor verpligte inenting en ’n wetlike raamwerk vir die implementering daarvoor te verskaf.

Dít ná die Nasionale Ekonomiese, Ontwikkelings- en Arbeidsraad (Nedlac) se uitspraak Dinsdag dat sakeondernemings inenting teen Covid-19 vir hul werknemers verpligtend behoort te maak.

Salba sê die drankbedryf is daartoe verbind om die pogings van die openbare en private gesondheidsektore te ondersteun en aan alle openbare gesondheidsmaatreëls te voldoen wat ontwerp is om koronavirusgevalle te voorkom, te bestuur en te behandel.

“Indien ons nie die entstofprogram opskerp nie en weer ekonomiese beperkings kies, sal die Suid-Afrikaanse ekonomie verdere verliese ly en werkloosheid eksponensieel styg,” sê die vereniging in ’n verklaring.

“Ons glo dat Suid-Afrika dit nie kan bekostig om nóg duisende mense in werkloosheid te dompel deur die binnelandse ekonomie weer in te perk weens die ongeregverdigde reisbeperkings wat teen Suid-Afrika en buurlande ingestel is, ná die ontdekking van die nuwe Omikron-variant nie.

Salba sê maatskappye en organisasies in die alkoholbedryf moedig die inenting van hul werknemers en gemeenskappe rondom hulle aan. “Entstowwe het bewys dat dit definitief die beste beskerming teen Covid-19 bied, benewens die dra van maskers, ontsmetting en sosiale afstand.”

Maroela Media het vroeër vandag berig Nedlac het ná intensiewe beraadslaging besluit dat werkgewers van werkers behoort te vereis om ingeënt te word om beroepsgesondheid en ‑veiligheid moontlik te maak. Die raad wil ook hê dat toegang tot sekere venues en byeenkomste tot ingeënte mense beperk word.

Sommige liggame waaronder die Nasionale Werkgewersvereniging van Suid-Afrika (Neasa) is egter nie hiervoor te vinde nie en het reeds sy misnoeë hiermee te kenne gegee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Francois Le Cochon ·

“Free beer with every jab” – Mense sal mekaar vertrap.

Jacobus ·

Presies wat beoog is vir die pandemie – devide and rule.

Chef ·

Dankie NEASA vir gebalanseerde benadering en die onderskrywing van individuele belang

Kwikkie12 ·

Suid-Afrika sit met ‘n alkohol pandemie. Jong mense vergryp hulle aan drank om nie te praat van geweld teen vroue en kinders wat 99% met dronkenskap gepaard gaan! Wanneer gaan daar nie dringend wette teen dit gemaak word nes hulle teen sigarette gedoen het?

Ag kom nou man ·

Ek sien verpligte inenting(eintlik geen ent nie maar inspuitings) as niks anders as statutere verkragting deur regering en of werkgewer

Ag kom nou man ·

Ek dink SALBA het niks te se oor almal nie. Hulle aanbevelings is net gegrond op geld. Verpligte inenting kom neer op STATUTERE Verkragting sou Ramaphosa dit verklaar.

Drico ·

Het hierdie ding sien kom en het vroegtydig begin, is nou alreeds 90% selfonderhoudend. Ek verkoop nie my siel vir n winkeleienaar se wispelturigheid nie. Ek laat my ook nie afpers nie.

Wonder ·

Wel ek het die jab gekry 5 maande gelede… want as ek n normale griep kry voel dit klaar of ek dit nie gaan maak nie, ek wil nie weet as ek covid kry nie… Rather safe than sorry…

VaalDonkie ·

Drink vitamien D, C en Sink. Nie in plaas van enige ander medikasie nie, maar saam met dit. Dit help ongelooflik baie.

Papsak ·

Ek nog nooit eers n griep inspuiting gevat nie so ek gaan ook nie die ding vat nie ek pas myself goed op en bly weg tussen mense bly in my huis en ja daar gaan dit was my hande gereeld en dra my masker so wat meer

Waarnemer ·

Indien die regering die inenting verpligtend gaan maak,glo my,onwettige drank verkope gaan die hoogte in skiet as mense nie in drankwinkels toegelaat word sonder die inenting sertifikaat nie….al die drinkers wie nie die jab wil vat nie gaan by die shebeens hulle drank koop en dink net hoe baie geld kopdoek en haar seuntjie dan gaan maak.

annie ·

Salba raak nou bietjie belaglik. Ons hou van ‘n knertsie, maar jislaaik, om die mede en perse in te span vir wins is bietjie dik vir ‘n daalder.

VaalDonkie ·

Ek gaan uithou tot BMW begin met “gratis motorfiets met elke prikkie”.

Pietertjie ·

Gelukkig trek vrot drank en vrot kroeë my gladnie. Ek kuier eerder lekker in die natuur.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.